Met Hendrik Verwoerd se aanstelling by DT het hy eers ‘n tyd lank by Die Burger gewerk om die ABC van die koerantwese te leer. Daar is vertel dat hy so ‘n goeie leerling was dat hy selfs die tee gemaak het.
Ek onthou hom as ‘n ware heer, maar iemand wat baie sterk standpunt kon inneem. As hy ‘n besluit geneem het, is hy nie maklik oortuig om dit te verander nie, soos sy teenstanders in die politiek later maar alte deeglik ervaar het.
Hendrik Verwoerd |
Op ‘n dag was ek voor stok oor ‘n berig en opskrif waarmee hy nie genoë geneem het nie. Hy het tydsaam en breedvoerig aan my verduidelik wat verkeerd was en ek het dit wonderlik gevind dat hy dit so hanteer het.
Hy was ook ‘n baie groot gesinsman en het sy gesinslede se belang altyd voorop gestel en gesorg dat hy gehaltetyd met hulle deurbring.
Dr Verwoerd was uiters gewild by die redaksie en dit was ‘n groot skok toe hy aangekondig het dat hy die koerant verlaat.
Maar terug na my misdaadskrywery.
Die speurafdeling was destyds by Marshallplein (later John Vorsterplein, en nou weer Marshallplein) gevestig. Die speurders het nie uniform gedra nie en het op motorfietse met syspanne gery. Die private drag was konsuis sodat die speurders ongemerk kon rondbeweeg, maar soos een indertyd teenoor my opgemerk het: “Ek mag dalk nie ‘n uniform dra nie, maar ek rý op een. Hulle kan my wie weet waar sien en hoor aankom!”
'n Johannesburgse trem |
My loopbaan as misdaadskrywer het nie lank geduur voor ek na die aandskof oorgeplaas is nie. Ek het smiddae vieruur begin werk en my eerste plig was om die kopie wat per druktelegraaf ontvang is, te skeur en reg te pak vir die hoofsubredakteur sodat hy dit vining kon nagaan.
Waneer ons so teen twee-uur of later klaar gewerk het, was dit weer my taak – omdat ek ‘n rybewys gehad het, die jongste was en naby die kantoor gewoon het – om die motor te gaan haal en die res van die nagredaksie by hul huise te gaan aflaai. Daarna het ek die motor gaan bêre en na my woonplek in Joubertpark gestap.
Daar was daardie tyd van die nag maar min lewe op straat en ek het nooit probleme met die stappery al langs die Joubertpark af ervaar nie.
Vervolgens is ek as DT se plattelandse redakteur aangestel.
Omdat DT baie plattelandse lesers gehad het, het die koerant oral beriggewers gehad wat nuus aan die koerant gelewer het – meesal per pos. Dit was my taak om hierdie berigte vir die koerant voor te berei.
Die koerante is per trein platteland toe versend, want dit sou destyds onbetaalbaar duur wees om dit per pad te stuur.
Die lesers was destyds baie eie met die koerant en as jy iets geplaas het waarvan hulle nie gehou het nie, het hulle jou baie vining vertel dat dit nie “ons koerant” betaam nie.
Ek het eenkeer by ‘n plaashuis gekom waar daar ‘n hele paar broers was. Die een het my só gesit en kyk, toe sê hy: “Ek het altyd gewonder hoe ‘n joernalis lyk. Nou sien ek dis so ‘n lang, maer mannetjie.”
Sirkulasiegewys het DT ‘n opdraande stryd gevoer en het die langer gevestigde Die Vaderland heelwat beter gevaar. Juis in daardie dae is dit in ‘n tabletvorm omskep en het die Hyman-broers ook die tabletstyl van joernalistiek daar ingevoer. Dit het DV nog beter laat groei.
Ek het eendag vir Jannie Kruger, wat dr Verwoerd as hoofredakteur opgevolg het, gevra waaraan hy die traagheid van DT-kopers toegeskryf het.
Onthou, het hy gesê, ons mense is meesal die slagoffers van moeilike omstandighede. Dis swaarkry wat hulle stad toe gedryf het met die hoop om hier geld te verdien. Al het dit deur die werk van die Handhawersbond beter begin gaan, het hulle eenvoudig nie die tiekie gehad wat dit kos om ‘n koerant te koop nie. Toe kom die radio en ons mense het eenvoudig radioluisteraars geword.
Dallas se mense |
Kyk maar hoe het ons ook met die koms van die TV aan die sepies verkleefd geraak, Dallas en dié soort ding. As ‘n mens in daardie kykgleuf by iemand aangekom het, moes jy eers saam na die sepie kyk voor daar gesels is. ‘n Predikant het my selfs vertel dat hy vergeefs daardie tyd van die aand huisbesoek probeer doen het. Dallas en die Ewings se manewales het voorkeur bo alles geniet.
Kruger was eweneens die verpersoonliking van ‘n heer en hy en sy vrou was albei fyn mense met ‘n groot belangstelling in die kultuur. Hy het ‘n pragtige skryfstyl en ryke woordeskat gehad.
Hy het geleidelik meer aan die nuussy aandag gegee, maar die politiek het steeds die botoon gevoer. Hy het swaar geleef om Verwoerd se plek in die politiek oor te neem en ek het die indruk gekry dat die partykantoor se mense hom geringgeskat het omdat hy nie dieselfde politieke leiding kon gee nie.
Oom Engeltjie |
Destyds se woordeboeke was maar effentjies en die taal het op baie punte verskil. Ons moes noodgedwonge op groot skaal Van Dale se Nederlandse woordeboek gebruik vir hulp met vertaling of om ‘n nuwe woord te skep.
Oom Hermie vertel Vrydag in sy laaste aflewering
verder oor sy lewe as koerantman.
verder oor sy lewe as koerantman.