Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

30.6.20

Oom Hermie

PIET EBERSÖHN skryf: Hy was die eerbiedwaardigste van alle joernaliste wat my pad gekruis het. Nee, nou stel ek my aan – wie se pad dit my voorreg was om te kon kruis.

Voorwaar ʼn Israeliet sonder bedrog – en dit in ʼn beroep waarvan Horace Flather in sy The Way of an Editor gesê het die meeste knappes is “slightly off the normal mental beam”.

Hermie Hendriks
ʼn Opperste heer sonder ʼn sweempie van hoogmoed, met sy ongekunstelde Swellendamse gebry, so 'n plat op die aarde mens as wat kan kom.

Op sy manier die stille krag agter menige redakteurstoel. Piet Meiring sê een van die bouers van ons koeranttradisie.

ʼn Baanbreker in dié
sin dat hy nuus eerste gestel het in ʼn era waar politiek die alfa en die omega vir Afrikaanse koerante was. Ook taalskepper in ʼn tydvak toe Afrikaans as geskrewe taal nog jonk was.

Hermie Hendriks het ʼn leeftyd aan die Afrikaanse joernalistiek gewy en ʼn bydrae van onskatbare waarde gelewer sonder om dit aan die groot klok te hang.

Meer as baie ander joernaliste wat hul herinneringe gepubliseer en die openbare oog daarmee gevang het, sou hy waarskynlik van sake agter die skerms kon vertel.

Dit was my voorreg om ʼn paar onderhoude met hom te voer om iets oor sy loopbaan vir K’rant op skrif te stel. Dit was wonderlike stof.

Toe ek die eerste skryfsel aan hom voorgelê het, het hy ʼn stokkie voor die projek gesteek. Hy wou nie verder praat nie, ook nie dat K’rant die stuk moes publiseer nie.

“Dit lyk te veel of ek my eie beuel blaas.”

Hans Lombaard het hom wel later omgepraat om tot die publikasie van die stuk en tot verdere onderhoude in te stem.

Omstandighede en my landsverlating het egter veroorsaak dat ek nooit weer met hom kon gaan gesels nie.

Ek sal sy nalatenskap dit altyd skuldig bly.

My gedagtes is ontoereikend om sy bydrae as joernalis na verdienste te verwoord.

My respek vir hom sal altyd grensloos bly.

In my verwysingsraamwerk was daar geen ander koerantman soos hy nie.