Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

1.7.20

Hermie Hendriks – hy was ‘n eenmalige verskynsel

AMANDA BOTHA skryf: Met die dood van Hermie Hendriks onthou ek met ‘n gevoel van deernis my verbintenis met hom --  as destydse nuusredakteur van Die Transvaler. Dit was laat 1973 wat ons ontmoet het. Ek is deur Carl Nöffke, die destydse hoofredakteur, aangestel in die pas gestigte Kaapse kantoor van Die Transvaler. Ná my aanstelling is ek na die Perskor-hoofkantoor in Aucklandpark genooi en die eerste mens wat ek ontmoet het, was mnr Hendricks.

Ons eerste gesprek het gehandel oor allerlei geskiedkundige onderwerpe waar hy gepraat het van wonderlike stories wat nie vertel word nie en aangesien ek nou in Kaapstad is, moet ek tog my oë en ore daarvoor oophou. Jy kan soms in die Kaapse Argief gaan snuffel,” sê hy.

'Wat dan nou van die nuusstories? “

"Nee, dit sal jy vanself by jou uitkom,” sê hy.

Met hierdie opdrag is ek huis toe. Nooit weer is ek gevra om sommer by die Kaapse Argief te gaan rond krap nie. Op ‘n dag wag ‘n teleksboodskap op my van oom Hermie, soos hy dit onderteken het. Hy het gelees dat Krotoa, ‘n belangrike jong slawemeisie aan die Kaap in die huishouding van Jan van Riebeeck was. Sal ek gaan kyk wat ek kry vir so ‘n storie vir die Saterdag-uitgawe. As dit nie hierdie week is nie, dan vir die daaropvolgende week.

Hermie Hendriks
Die volgende week is ek na die Argief met my versoek. Binne ‘n uur word stapels lêers voor my geplaas. Oom Hermie (links) se opdrag was vir so 600 – 750 woorde. Tussen alles deur het ek sommer my familiegeskiedenis ook nagegaan en gevind dat Krotoa ook figureer in my familiestamboom.

Ek skryf my storie.  In ons telefoniese gesprek noem ek dat ek van moederskant ook van haar afstam. Onvergeetlike opmerking: ”Ons Transvalers het altyd geweet dat die Kapenaars ander bloed in hulle are het.”

Deur oom Hermie het ek Prinses Anne se huwelik met Mark Phillips in Londen bygewoon. Ons geselsies het altyd so ‘n gemoedelike geurtjie gehad dat die Transvalers darem ons Kapenaars ‘n kop voor is. Toe ek hom vertel hoe baie ek die Royalty geniet het, lag hy en sê dit is “tipies Kaaps-liberaal”!

Toe ek keer en antwoord dat ek in Johannesburg gebore is, antwoord hy droogweg: "Maar dit tel nie hier nie!”

Hermie Hendriks was in die joernalistiek ‘n groot gees wat ‘n gewaardeerde bydrae gelewer het. Hy was ou skool, maar nie outyds nie. Ek het veel plesier om hom in herinnering te roep – hy was ‘n eenmalige karakter.

Ek eer sy nagedagtenis en sê dankie.