Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.6.17

K’rant scoop Rapport en homself

PHILIP DEETLEFS skryf: Vier en ‘n half jaar gelede toe K’rant ses maande oud was, het Jean Oosthuizen vir ons ‘n heerlike storie oor PG du Plessis (nou wyle) geskryf. Ná PG se dood nou die dag soek ons hier by K’rant naarstiglik na iemand wat vir ons iets uit ‘n Perskor-hoek oor PG kan skryf.

Op Facebook sien ons toevallig Jean Oosthuizen se treffende storie oor PG wat 100% in die Perskor-ruimte pas. Rapport het dit oor die naweek gepuliseer, maar K’rant wil dit vir die rekord en toekomstige verwysing plaas.

Jean gee toestemming dat ons sy huldeblyk oor PG mag gebruik en K’rant se redaksie slaak ‘n sug van verligting. PG uitgesorteer met ‘n prag-storie!

Vir Japie Bosch voel die storie so half bekend en nadat hy Jean se storie al gepos het, klik hy die muis op Jean se naam op ons lang lys van bydraers. En daar sien ons dieselfde storie met ‘n ander intro wat meer as vier jaar gelede al in K’rant was met dieselfde opskrif! (Berig HIER.) Het Jean dalk ook daarvan vergeet?

Nietemin, Rapport spring ons toe voor - min wetend dat K’rant hulle vier jaar gelede al voorgespring het - en boonop scoop Rapport toe sommer vir K’rant op sy eie werf met sy eie storie!

Japie het laat weet dat K'rant nou al meer as 900 stories gepubliseer het in die bietjie meer as vyf jaar wat ons bestaan. Knap gedaan aan al ons bydraers en sommer vir Rapport ook wat ons agterna voorgespring het!