Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.6.16

Dave Viljoen se kollegas onthou

FRANS SCHEEPERS skryf: My loopbaan in die joernalistiek het eintlik maar by Dave begin. Hy was hardegat, maar ook mens. Ek sal nooit vergeet die nagte dat ek, Piet Ebersöhn en Philip Deetlefs by sy woonstel in Alberton deurgebring het met 'n pak kaarte, 'n mandjie vol biltong, liters whisky en handevol munte rondom die pokertafel nie. Kosbare tye wat ek altyd sal koester.

Hy was maar moeilik, en ons het hom dikwels verwens. Maar ons onthou ook sy seerkry-tye, toe hy gevoel het sy persoonlike lewe stort in duie. Wie onthou nog toe wyle Grobbie sy bruid Adele letterlik onder die bruidstafel ingedans het. Dave was van die ou skool. En min van vandag se joernaliste sal weet wat dit beteken. Dankie Dave, dat ons jou kon ken. Ek drink vir oulaas 'n dubbel whiskey op jou lewe.

Dave Viljoen
SANDY MACDONALD skryf: Dave wou nie ‘n begrafnisdiens van enige aard gehad het nie. Sy goeie vriendin, Lucia Fourie, reël ‘n geleentheid waar vriende en oudkollegas van hom afskeid kan neem. Dit gebeur Saterdagoggend, 25 Junie, om 11:00 by sy huis te Paperbarkstraat 42, Fourways Gardens, Fourways. Lucia sê almal is welkom. Sy verskaf die drink- en eetgoed, maar dit klink vir my asof sy hulp nodig gaan hê daarmee. Haar selfoonnommer is 076-982-6902.


PHILIP DEETLEFS skryf: Ek onthou die nagte van werk en speel in Die Transvaler se nagkantoor en die naweke se vroegoggend motorfietsritte saam met Dave. Dave het ook 'n humorsin gehad wat, soos die Engelse sê, an aquired taste was. Frans, ek sal vanaand saam met jou 'n whisky op Dave drink.

Prosit Dave!