Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.10.15

Aas vir storie-vangs

PHILIP DEETLEFS skryf: Ná Piet Ebersöhn se reeks skitter-onderhoude met oom Hermie Hendriks en ander bydraes van die jongste tyd het ons heelwat terugvoering gehad van gereelde lesers wat vir ons vertel het hoe lekker dit is om weer iets nuuts op K'rant se voorblad te sien, en die redaksie stem saam!

Martie Retief Meiring se boodskap is sprekend van die terugvoering wat ons gekry het:

Martie Meiring Retief
Net om dankie te sê vir hierdie kosbare onderhoude met Hermie Hendriks — ‘n groot grote in my eie joernalistieke loopbaan. Jy kan nou nog sien hoe hy regtig die essensiële koerantman was.

Ons joernaalmeester het die leserstatistiek van die afgelope week of wat bymekaar gemaak en met die boodskap gekom dat K'rant nog springlewend is en op nuwestorie-dae sommer goed oor die 100 lesers op een dag kry. (Grafiek hieronder.) Dit beteken mos dat bydraes wat vir K'rant gestuur word, nie ongesiens iewers onder die emmer wegkruip nie.

Karen Pretorius
Karin Pretorius het gevra of ons nie weer onderwerpe kan voorstel om die geheues bietjie te help losskud nie. Sy voel so 'n stukkie Perskor-aas laat die geheue makliker byt vir die inkatrol van 'n bydrae aan K'rant.

Vandag gooi ons twee lyne uit:

1. Wat was die beste verskoning waarvan jy gehoor het omdat iemand te laat was om die sperdatum vir sy storie te haal?
2. In watter mate was jy kop in een mus met jou opposisie-koerant se redaksionele eweknie om bv Beeld, The Star of die Rand Daily Mail te scoop?

Nou sit die redaksie vinger op die lyn oorgehaal vir die byt! Laat hy loop soos 'n haai oor 'n houtkatrol! Asseblief.