

Maar die storie wat ek vandag wil vertel, is van ons verbintenis met Mike Schutte, wat gelei het to ‘n strokiesprentreeks, Ou Maaik.
Die idee is uit nood gebore. Ek het pas met ‘n skakel-onderneming begin en was bang ek sou nie ‘n bestaan kon maak uit werk vir die KWV, waar ek toe as skakelbestuurder bedank het, Fairview-landgoed, Groot Constantia, die Wes-Kaapse Landbou-unie en as direkteur van die Paarl 300-fees nie, waarvoor ek nie veel geld gekry het nie, maar darem die ou burgemeesterkantoor en onthaalkamer in die geskiedkundige Paarlse Stadsaal in die Hoofstraat. My kommer was of ek ‘n vrou, kinders en ‘n huis sou kon onderhou daarmee.

Toe dog ek: waarom nie ‘n strokiesprentreeks oor Mike Schutte nie? Hy het destyds Vannermerwe se rol as die land se grapjas/lydende party oorgeneem.
Dit was nogal ‘n affêre. Eerstens het ek Lou, toe by Rapport, genader oor die idee. Hy was heel inskiklik. Daarna moes Ou Mike opgespoor word. Op Potchefstroom destyds. En Couzyn, Hertzog en Horak, toe nog Perskor se regsadviseurs, het die kontrak tussen ons – Drieslou - en Mike opgestel en hy het geteken vir ‘n persentasie van enige opbrengs daaruit.
Sketsidees is per pos vanuit die Paarl aan Lou in Johannesburg gestuur. Dit was in die middel-tagtigs nog voor faksmasjiene, om van rekenaars nie eens te praat nie. Ek het darem soms ampshalwe Johannesburg toe gegaan waar ons dan onder vier oë kon beplan, hoewel baie van die planne nie veel verder as Vegkop gekom het nie…
Maar, en wees gewaarsku, ons het maar 11% tantieme ontvang wat ons met mekaar moes deel. Vegkop het dit vinnig opgeslurp.
'n Jaar of wat later het ons die tweede boek self uitgegee en die drukkoste is verhaal en 'n handige wins is uit die eerste besending aan die CNA behaal.
Ons het ook dikwels die geleentheid gehad om saam met Ou Maaik te kuier. Hy was ‘n gawe mens en "glad nie so dom as wat hy lyk nie," het Lou altyd gespot en bygevoeg: "Hy’s veel dommer."
Ou Maaik het selfs met die Paarl 300-fees een aand kom optree en ‘n paar liedjies gesing. Tot my spyt kon ek nooit die woorde uitmaak nie.
Elke Desember het ons ‘n oproep van Ou Maaik of sy gesellin, wat nooit dieselfde een was nie, gekry: "Waar’s Ou Maaik se geld?"
Dan het ons sy deel aan hom gestuur en sonder uitsondering het hy by ontvangs van sy tjek gebel om dankie te sê.
Maar terug na Lou. Hy was ‘n uitsonderlike mens wat sy vrou, Gloria, absoluut op die hande gedra het. Sy kinders was ook vir hom sy kosbaarste besittings. En moet hom nie as sportman onderskat nie. Hy was ‘n puik tafeltennisspeler wat ‘n mens skoon kon bedwelm met sy "spinners". En as ‘n pool-speler het hy ook uitgeblink en het ons twee dikwels skoonskip gemaak daar in die plebs-kroeg van ou Diamond, hoofsaaklik weens Lou se vaardigheid met die stok.
Ons vriendskap het deur baie jare nooit getaan nie en die herinneringe aan hom kan ek so helder voor die gees roep dat dit eintlik kommerwekkend is! Lou, oorspronklik van Wesselsbron in die Vrystaat, was inderdaad ‘n bron van talent.