Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.7.12

Dok Craven sorg vir twee wonderlike "scoops"

GERT LE ROUX skryf: As sportskrywer het ek myself as ’n atletiekman beskou, hoewel dinge ’n ander pad geloop het. Hy vertel die een en ander uit sy koerantdae.

Rugby het aanvanklik ’n veel belangriker rol gespeel in die sowat tien jaar wat Johannesburg my basis was en ek het groot oomblike beleef. Ek was bevoorreg om talle van die Springbokke se rugbytoetse uit vele
persbanke dop te hou en verslae oor talle pragtoetse te kon skryf. Elke geleentheid was ’n besonderse ervaring.

Hy was van 1959 tot 1962 lid van die sportredaksie van Die Transvaler in Braamfontein. Hy is daarna na Dagbreek en Sondagnuus in Doornfontein en later in Aucklandpark. Dié koerant het later met Landstem saamgesmelt om Dagbreek en Landstem geword.

Toe Roelf Theunissen in 1965 sportredakteur van Die Beeld geword het, het Gert hom as sportredakteur van Dagbreek opgevolg. Toe dié twee koerante in 1970 saamsmelt om Rapport te vorm, het Gert vanweë beleidsverskille oor die aanbieding van sportnuus bedank.

Hy is kort daarna as die S.A. Amateur-Atletiekunie se eerste heeltydse sekretaris aangestel – ’n pos wat hy 22 jaar lank beklee het. Hy en sy vrou, Theo, woon die afgelope ses jaar in ’n aftree-oord op Warmbad.

55 jaar se atletiekbyeenkomste 
 
Van 1958 af het ek 55 jaar lank byna elke Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskap jaar bygewoon! Die enigste uitsondering was in 1965 toe ’n rugbytoer oorsee my planne verander het.

Dit was toe die Springbokke ’n kort toer deur Skotland en Ierland onderneem het en byna alles verloor het. Die grootbaas van Suid-Afrikaanse rugby, dr. Danie Craven, was ook aanwesig.

Ek het tussen 1958 en 1971 dikwels met hom te doen gekry, maar veral twee geleenthede bly my by – toe hy elke keer vir my ’n "scoopˮ besorg het – en dit agterna ontken het.

'n Verskoning weggebêre

Dr Danie Craven
Met die All Black-toer van 1960 was die Springbokke se spanbestuur potdig oor waar die span oefen. Ons het egter geweet hulle bly in ’n hotel in Hillbrow en ek en ’n fotograaf was vroegdag daar om hulle voor te lê. Toe hulle in die spanbus vertrek, het ons hulle in die Pers se Anglia gevolg tot by ERPM se klubveld in Boksburg – waar sowat 5 000 toeskouers op die „geheime” oefening gewag het.

Die gewese Springbok-kaptein Hennie Muller (terloops, ’n gewese ERPM-speler) is vir al vier toetse as die span se bestuurder aangestel, en dr. Danie Craven, die president van die S.A. Rugbyraad, het vooraf aangedui dat Muller beskikbaar sou wees om die span te help afrig as die kaptein, Roy Dryburgh, hom daartoe versoek. Craven was self ook saam met die Springbokke, maar hy mag nie die span afgerig het nie.

Hennie Muller
Die Springbokke het tydens die oefening besondere aandag aan hul lynstaanwerk gegee en lank daaraan geskaaf. Craven het op ’n stoel by die lynstaan gesit en kort-kort raad gegee.

„Craven sit hand by,” het Die Transvaler die volgende dag op die voorblad berig. Die koerant was skaars op straat toe die redakteur, dr. G.D. Scholtz, my hier teen sewe-uur bel. Hy het altyd die sewe, agt kilometer tussen sy huis in Orchards (noord van Orange Grove) en die koerantkantoor in Braamfontein gestap en was gewoonlik teen sesuur al op kantoor.

Die bestuurder van die span, Muller, was baie ontevrede oor die berig, het Scholtz my meegedeel. Dit het Craven glo in die verleentheid gestel. Muller wou my dadelik by die Bokke se hotel spreek en hy (Scholtz) raai my aan om te gaan. Daar gekom, het Muller op ’n verskoning aangedring. Ek het onderneem om dit met die redakteur te bespreek.

Hennie van Zyl
By die kantoor gekom het ek aan dr. Scholtz verslag gedoen, maar voet by stuk gehou dat my storie reg is en ’n verskoning buite die kwessie is. "Ag," het hy gesê, "skryf tog maar so ‘n paragrafie, dan gooi ons dit op die perdeblad.

Só het dit dan gekom dat Die Transvaler se perdeblad die volgende dag ’n vullertjie gedra het dat dr. Craven ontken dat hy die Springbokke afrig.

Die Springbokke se linkervleuel, Hennie van Zyl, het die Saterdag op Ellispark twee drieë gedruk en die Nieu-Seelanders is met 13 – 0 getroef. Johan Claassen en Avril Malan het die lynstane oorheers en dáár die fondament vir Suid-Afrika se oorwinning gelê.

In die euforie van die Boksege oor die All Blacks, wat oorweldigend die gunstelinge was om te wen, was Die Transvaler se berig vergete.

3 word 4

Omstreeks 1970 was Craven op pad terug nadat hy die Internasionale Rugbyraad (IRR) se jaarlikse vergadering in Edinburgh bygewoon het. Hy was, terloops, baie lief vir Skotland en het graag daar klere gekoop.

Ek het hom die dag ná sy terugkeer gebel, waarop hy gesê het hy is tevrede met die beraadslagings en dat voorgestel is dat ’n drie vier punte moet tel.

"Drie word dalk vier," het Dagbreek op die voorblad berig. En jou wrintiewaar, weer eens ontken Craven die berig toe buitelandse joernaliste hom daaroor bel! Kort voor lank, in September 1971, het die IRR egter aangekondig dat met die aanvang van die nuwe seisoen in die Noordelike Halfrond ’n drie vir ’n proeftyd van twee jaar vier punte sal tel. In 1973 is die reëling permanent ingestel.

'n Amperse verdrinking

’n Ander besondere gebeurtenis was in Mei 1962 toe ons per trein na Lourenco Marques (nou Maputo) is vir ’n tweedaagse atletiekbyeenkoms waar atlete van Suid-Afrika, Portugal, Mosambiek, Angola en die destydse Rhodesië deelgeneem het. Dit was die eerste S.A. internasionale byeenkoms waaraan ’n S.A. span deelgeneem het en dit was vir die atlete ’n groot teleurstelling dat die SAAAU-base besluit het om nie Springbokkleure vir dié geleentheid toe te ken nie. Op die koop toe het die byeenkoms ’n paar puik prestasies opgelewer.

Die geleentheid het egter nie sonder kontroversie afgeloop nie. Eerstens het Pisarra, ’n Portugese atleet, in die 3000-hindernis in die watergat geval. Hy het later beweer dat ’n Suid-Afrikaner, Charles Minnaar, hom gepootjie het en hy byna verdrink het.

Pisara het egter blitsig opgespring en ná 20 treë was hy weer in die wedloop, maar haal hom toe die toeskouers se gramskap op die hals toe hy ’n gebalde vuis vir hulle wys elke keer as hy ’n rondte voltooi het! Hy het nie ’n plek in die hindernis behaal nie, maar het later die 5 000m gewen, met ’n Rhodesiër tweede en Henk Altman van Suid-Afrika derde.

Atlete in vertoonvensters

Dan was daar die groot onthaal wat die Mosambiekse regering vir die atlete aangebied het. Die atletiek het op die tweede dag tot so 12:30 geduur en die dinee het eers om 15:00 begin. Teen dié tyd was almal al baie honger en van die jonger atlete het te veel wyn gedrink – en dis vining na hul koppe toe! Die uiteinde was dat ’n paar van hulle in vertoonvensters in die hotelgang aan die slaap geraak het. Dit het aanleiding gegee tot ’n kwaai berig oor die S.A. atlete se swak gedrag in ’n Kaapse koerant.

 Lettersetter word operasanger

Gert Potgieter
Nog iets uit die Braamfonteinse dae wat my bybly, is dat die later beroemde tenoor, Gert Potgieter, as lettersetter by die Voortrekkerpers gewerk het.

Hy het party keer in sy etenstyd sommer so agter die setmasjien sy sangwerk geoefen en dan het die personeel in groot getalle saamgedrom om na hom te luister.

Potgieter was in 1959 die eerste wenner van die Mimi Coertse-sangbeurs en is die volgende jaar weg by die Pers om in Wenen verder in dié rigting te studier.

By sy terugkeer na Suid-Afrika in 1962 het hy die een ná die ander groot opera-rol by die destydse kunsterade losgeslaan.