Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

2.7.12

Pare wat saamgePERS(kor) is

PHILIP DEETELFS skryf: Toe ek gaan sit en dink oor trou met ‘n vrou wat jy by Perskor leer ken het, het ek nie gedink dié huwelik is noodwendig anders omdat dit koerantgebonde is nie. Maar ‘n mens moet koerantpare met respek bejeën. ‘n Koeranttroue is nie elke man (of vrou) se maat nie.

Liefde is kompleks. Baie mense wat ‘n leeftyd in liefde geleef het, sal minder daarvan kan vertel as die kind wat gister sy hondjie verloor het. Daarom is
ek nederig oor die onderwerp.

Trou is maklik. Getroud bly, verg baie van twee kante. Dis nie maklik om vas te vat nie. Wat ek wel kan sê, is dat dit regtigwaar goeie terapie is om ‘n slaggie te gaan sit en amper klinies te dink oor die huwelik en veral jou eie. Eensklaps sien ‘n mens dit vanuit ‘n ander perspektief. Probeer gerus.

Toe Wilma my leer ken het, het sy regtig niks van my gehou nie. Ons het die kantoor van die algemene redaksie by Die Transvaler gedeel. Maar sy het (gelukkig) haar mening oor my mettertyd verander. En weer verander en weer verander … Om die waarheid te sê, verander sy haar mening oor my steeds gereeld.

Maar ten spyte daarvan bly ek vir haar lief en ek vermoed kan dit ook waar wees. Al is dit dan nie elke dag so nie.

Dis vir my lekker om getroud te wees. Ek is bang om alleen te wees as ek die dag oud is. Wilma het baie op haar tande moes byt en diep asemhaal om ons huwelik heel te hou en met ystervrou-krag dit reggekry ook. Respek!

Ek dink -- en dis bloot my eie mening -- ons het nou die stadium van ons samesyn bereik waar skei nie meer ‘n opsie is nie. Moord soms, maar skei? Nooit!

Klik op die illustrasie.
Toe ek destyds by Die Republikein in Windhoek wou begin werk, het dr Jan Spies (destyds redakteur) my gevra of ek ‘n meisie het. Toe ek ja sê het hy gesê ek mag slegs Windhoek toe kom as ek met Wilma trou en sy saamkom. Hy sal haar ook in die redaksie aanstel. Dok Spies was bang hy is die oorsaak van ‘n gebroke verhouding.

Wilma het onder meer in Windhoek gewoon en skoolgegaan en dit was geografies nie vir haar moeilik om in te stem met die trou-idee nie. Ek is toe binne drie maande (in 1980) soos onderneem terug Suid-Afrika toe om met Wilma te trou en ons is steeds getroud. Party dae met groter vreugde as ander, maar dis mos die heel lekkerste ding van menswees; jy vergeet die sleg en swaarkry gou en onthou die lekker, lekker lank.

En om (verdiend?) misbruik te maak van K’rant, sê ek dan nou ook sommer hier in die openbaar vir Ruddles dankie vir al die jare se vasbyt met my en ek is lief vir jou. Soos ‘n kind is vir sy hondjie.

In November vanjaar sal ons 32 jaar getroud wees - minus die drie maande wat sy op ‘n keer weggelam het van kwaad wees vir my.

Ander Pershuwelike waarvan ons weet:
  • André Bester en Annemie Delport
  • Danie Malan en Lala Wahl
  • Dave Viljoen en Ona Lombard
  • Dave Viljoen en Adele Gouws
  • Gerrie Fourie en Suzelle du Preez
  • Harald Pakendorf en Aletta Greyling
  • Henning Botha en Ona Wolvaart
  • Joe van Buuren en Carla Bosman
  • Joël Kotzé en Riki Lues
  • Johan en Annatjie Wagner
  • Kobus en ? Blignaut
  • Peet van Staden en Elise Botha
  • Pikke en Corrie Perkins
  • Theo en Wanda Kleyn
  • Wessel Naudé en Ira Wandrag
  • Leendert en Marie Pieterse
  • Jan en Susie van Vuuren
  • André de Bruyn en Estelle Oosthuizen
  • Johan Esterhuizen (Sport) was met Elbie Naude (redaksie, Die Transvaler) getroud.
  • Sarel en Willie van die Walt. Sarel het baie rolle gehad by die ou Transvaler en Willie was in die Pretoria-kantoor en later by die vroue-redaksie. Hulle het toe saam die Vaal Weekblad begin.
  • Deon en Annatjie Maree
  • Roger Milstein en Estie Crous (Hy het as Tukkie-student deeltyds as motorbestuurder by die koerant gewerk en sy as joernalis. Nou is hy ‘n groot hand by Shoprite-Checkers in Australië).
  • Kobus Blignaut en Lianda Beyers
  • André van der Merwe was met Ilze Welgemoed getroud
  • Frans Wessels en Bienkie
  • Gerhard Kleijn (redaksie) en Rita Gilau (advertensies)
  • Johan Wagner en Antoinette Fourie
  • Eric Ströh (fotograaf) en Petro van Rhyn (biblioteek)
  • (Vertel gerus die redaksie van dié wat per abuis of uit onkunde weggelaat is. -- Red.)