Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.12.16

Komkommertyd

PHILIP DEETELFS skryf: Ooit gewonder waar die uitdrukking “komkommertyd” vandaan kom? Dis interessant om te sien dat die uitdrukking “cucumber time” reeds in 1699 in ‘n Engelse woordeboek opgeneem is.

Die oorsprong daarvan was (volgens Wikipedia) dat die Britse adellikes in die tyd wat die komkommers in seisoen was, met vakansie gegaan het en die kleremakers dit toe komkommertyd genoem het omdat sake vir hulle traag was.

15.12.16

Hoofsub na dekades opgespoor

KARIN PRETORIUS skryf: Toe ek die kunsblad van Die Burger oopvou, sien ek Johann Botha van die Baai het ‘n boek Koukonap gepubliseer wat in die 1950’s in die Noord-Kaap afspeel.

Sy foto lyk vir my vaagweg bekend en toe ek sy outobiografie lees, toe wéét ek: dis die einste Johann Botha wat in 1970 my hoofsub in die nagkantoor by Die Transvaler was – 46 jaar gelede!

Nou is my nuuskierigheid eers geprikkel en ek lees verder: dis Johann se tweede publikasie en twee dekades gelede is sy debuutwerk Die Groot Vyf met die Eugene Marais-prys bekroon wat handel oor die politieke oorgang in Suid-Afrika teen die agtergrond van die natuurlewe in die land.

12.12.16

Maureen uit hof gejaag in bordeel-saak

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Daar het al byna 'n vyf dekades in die niet verdwyn sedert ek hofverslaggewer was en miskien word dinge nou anders gedoen, maar doerietyd moes ons loop dat ons hik agter stories aan. Van hofsaal tot hofsaal.
Danksy Hermie Hendriks se joernalisteskool in 1970, was die landdroshof darem nie meer heeltemal 'n vreemde plek toe ek die dag hofverslaggewer word nie, maar eintlik was ek steeds 'n groentjie.

Skrikkerig vir die regswêreld en oorgretig om my beste voetjie voor te sit in 'n strak omgewing, het ek my in hoë hakke opgedollie. Splinternuwes. Twee spoggerige nommertjies met hakke wat my as't ware kop en skouers bokant almal laat uittoring het.

8.12.16

Besondere eer val Thijs Nel te beurt

SCHALK LE ROUX, redakteur van Die Hoorn in Oudtshoorn, skryf: ’n Besonderse eer het Thijs Nel, oud-kunsredateur van Die Vaderland en deesdae gevierde kunstenaar van Oudtshoorn, te beurt geval!

Hy is genooi na die opening van die nuwe vleuel van die Montreal Museum of Fine Arts in Kanada, waar een van sy werke uitgestal word. Die museum het Thijs se werk, ’n keramiekpot, in 1998 by ’n kunsuitstalling ,“Down to Earth”, in die LongHouse Reserve in Long Island in Amerika gekoop. (Die geleentheid was sowat 'n maand gelede gehou. -- Red.)

1.12.16

Piet ontken vaderskap op rype ouderdom

PIET EBERSÖHN skryf: Dat ek nou op my rype jare vaderskap moet ontken! Peet Simonis is die vader van K'rant. Ek het dit bloot in opdrag van hom, Hans Lombard en Andries Botha help laat herleef.

(K’rant was vroeër deur middel van e-posse versprei. Onder Piet Ebersöhn se leiding het K'rant gestalte as ‘n webjoernaal (blog) gekry. – Red.)

29.11.16

Piet en Mariëtte skop nes in Korfu

GERT VAN ROOYEN skryf: Piet Ebersöhn, oud-Transvaler, die vader van K’rant en vir jare al die organiseerder van die Perskor-reünie, en sy vrou, Mariëtte, het toe die “groot Griekse stap” gedoen en aan die begin van November na die eiland Korfu verhuis.

Hulle huur tydelik `n landelike woonstel in die Achilleo-omgewing, suid van Korfudorp terwyl hul huis opgeknap word.

9.11.16

Joan Kruger se "biografie" oor Tafelberg

JOAN KRUGER, alombekende oudkollega by Die Vaderand asook Die Transvaler, het onlangs haar jongste boek, On Top of Table Mountain, gepubliseer.

Die boek kan teen groot afslag aanlyn by www.loot.co.za bestel word of by Graffiti-boeke in Pretoria gekoop word.

Hierdie lekkerlees-boek vertel die “storie” van Tafelberg soos ervaar deur die buitengewone besoekers wat tot bo-op hierdie ongewone berg geklim het.

7.11.16

Amper klap Notorius Pretorius se doppie

KARIN PRETORIUS skryf: Ek het lekker gelag vir Maureen Swart se groot skrik met die slang in die persmotor wat haar dwarsoor die sitplek voor by die paneelbord laat beland het!

My ondervinding in ‘n persmotor het my weer laat vries waar ons in die operasionele gebied van Rhodesië in een van die hot spots tydens die oorlog teen ‘n spoed gejaag het, ‘n slaggat getref het wat die Uzi-submasjiengeweer tussen ons op die sitplek per ongeluk laat afgaan het. Daar was net ‘n oorverdowende slag, die koeël het met ‘n zwieng-geluid skuins voor my kop verby getrek en die voorruit voor my versplinter!

Ek het asof versteen gesit, my oordromme het gesing en toe ek tot my sinne kom, het ek besef: dit was amper neusie-verby!

1.11.16

As `n byskrif `n storie word ...

PIET EBERSÖHN skryf: Langer as twee jaar gelede het Somarie Grey, die dogter van Marius Jooste, grootbaas van Dagbreek en later Perskor, `n klompie ou foto’s uit die persgeskiedenis aan K’rant beskikbaar gestel.

Ek het gereken om die foto’s van behoorlike byskrifte te voorsien voordat ek dit aan K’rant voorlê, maar het intussen daarmee moed opgegee.

Ek het `n paar mense genader, maar wyle Bienkie Wessels was al een wat redelik kon help.

31.10.16

Volgende reünie ly nie skipbreuk

K’rant was Vrydagoggend skaars op straat toe Piet Ebersöhn laat weet het dat volgende jaar se Perskor-reünie gewis op die kalender is. Die borgskap vir die bymekaarkomslag is selfs reeds bevestig ook!

Piet, wie dit elke jaar gereël het en nou gaan verhuis, het laat weet dat niemand onvervangbaar is nie.

Die komitee in wie se bekwame hande die reëlings is, bestaan uit
  • Harald Pakendorf (voorsitter), 
  • Louise Blake en 
  • Margaret Lombard.

28.10.16

Snuffel in Perskor se solder

REDAKTEUR PHILIP DEETLEFS skryf: Die afgelope week of drie was daar ‘n merkbare opflikkering in die bydrae-tempo vir K’rant en wat die redaksie hoog op prys stel.

Karin Pretorius vertel dat dit haar gryser wordende grysstof goed stimuleer om terug te dink aan die dae toe sy in Perskor se diens was.

Die maklike manier om aan die oudkollegas se doene en dinge herinner te word, is om op die ouer stories hier regs op die blad te klik om te lees waaroor ander mense die afgelope jare geskryf het. Met elke klik is daar ‘n vars bondel ou stories om te lees en die grysstof los te wikkel.

25.10.16

Prins met straler na Salisbury, per bode in Doornfontein

KARIN PRETORIUS skryf: Joernaalmeester Japie Bosch se artikel oor die belangrikheid van bodediens in die verlede vir die vervoer van filmrolletjies van ‘n lughawe na die koerant, was baie insiggewend. Soos hy opgemerk het was dit ook my voorland vanuit Salisbury, Rhodesië waaroor ek berig het.

Kourierdiens per spoedpos vanaf die lughawe het ek gou besef was glad nie betroubaar of eers met ‘n spoed nie. Dit was in ieder geval dieselfde vliegtuig wat ‘n ‘bode’ sou gebruik om my filmrolletjie goedgunstig te vervoer. Dan was daar nog die doeaneklaring in Salisbury en Johannesburg en dit was ‘n nagmerrie. Die meeste van die tyd het die pakkie films net verlore gegaan.

18.10.16

Twee kanse van 'n leeftyd op een dag

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Dit was 'n kans van 'n leeftyd wat my te beurt geval het -- om een van die bekendste en skatrykste vroue ter wêreld te kon ontmoet. Sy? Niemand anders as Bridget Oppenheimer nie. Nogal in haar pragwoning op die sprokiesmooi Brenthurst-landgoed in Parktown. Die jaar was 1971.

Die geleentheid? 'n Persaankondiging oor 'n fondsinsamelingsprojek van die destydse Suiderkruisfonds. Die aankondiging sou in die Oppenheimer-woning gedoen word.

Die fonds is in 1969 gestig (sommige bronne sê 1968), onder leiding van Elizabeth Albrecht, gedurende die tyd van die Suid-Afrikaanse Grensoorlog (Bosoorlog) in die sestiger- tot laat jare tagtig. Die doel daarvan was om geld in te samel vir geriewe op die grens en sodoende die lewe vir ons soldate makliker te maak.

17.10.16

Gert van der Walt oorlede

GERT VAN DER WALT is onlangs oorlede, het Gerhard Kleijn laat weet.

Hy was destyds betrokke by Hoofstad en Oggendblad se advertensieafdeling, waar sy broer die nuusredakteur was.

Gert en Tok Grobler het later 'n reklameagentskap begin en was verantwoordelik vir menige legendariese persuitstappies. Hulle het ook TV-reekse, soos Maak 'n Las, vervaardig.

13.10.16

Marius Janssonius oorlede

PIET PIENAAR skryf: Ek het ‘n foto van oud-Vaderlander Marius Janssonius in ‘n K’rant-berig opgemerk.

Marius is so drie jaar gelede oorlede. Hy het by sy dogter in Pretoria gebly. Hy het blykbaar, toe hy alleen tuis was, iets uit die swembad wou haal en vooroor in die water geval. Daar word vermoed dat sy hart gaan staan het. Dit was in die winter.

In 1988 het ek van Perskor na Sentrapers in Ficksburg geskuif. Marius was die bestuurder van die drukkery (wat voorheen aan hom behoort het.)

11.10.16

Paleis tuimel inmekaar ná Martini

HANLIE (Swanepoel) VORNBERG skryf: Maureen Swart skryf dat wanneer sy blitsvinnig kyk, die fassade van die Sans Souci hotel haar aan ´n kasteel laat dink (Klik HIER). Na hierdie liefdesbetuiging moes ek terugdink aan die tyd toe ons twee daar gewoon het.

Ons het albei uit ander provinsies gekom om die joernalisteskool by te woon en het aan die begin geen huisvesting gehad nie.

As Kapenaar met Tafelberg en die see elke dag voor my neus, het ek die Sans Souci en kontrei nie besonder esteties gevind nie!

Maureen kon nog ´n kamer met badkamer bekostig, maar ek moes my ablusies in die gang met die hoipolloi deel.

6.10.16

Strippers sit Mej Kaalbas op voorblad

PIET PIENAAR van Bloemfontein het laat weet dat hy baie bly is dat hy op ‘n dag Perskor geGoogle het en so op K’rant se spoor gekom het. Hy sê omdat hy in Kroonstad was, is slegs van die name wat hy op K’rant se webjoernaal sien vir hom bekend, behalwe Bennie Neethling en oorlede tannie Tienie Serfontein vir wie hy geken het.

Hy vertel ook wanneer hulle Perskor in Doornfontein uit die Vrystaat moes besoek, hulle so gou moontlik probeer wegkom het uit vrees dat hulle dalk vir mnr Koos Buitendag sou raakloop. Hy het gehoor mnr Buitendag “fire” sommer enigiemand wat lyk asof hy nie werk nie. Hulle het soms die Posteparade gaan haal of ink daar by Oom Frikkie Liebenberg (hy hoop hy onthou oom Frikkie se naam reg) gaan haal. Vegkop was darem ‘n skuilplek.

4.10.16

Nostalgiese verlange na die tegnologie

KARIN PRETORIUS skryf: K’rant se joernaalmeester, Japie Bosch, het onlangs na my Rhodesiese artikel verwys waarin ek skryf oor die moderne elektronika wat ons oudjoenaliste nie beskore was nie.

Dit het my herinner aan die troue van min PK van der Byl – minister van vervoer, krag en poswese in Zimbabwe-Rhodesië – met prinses Charlotte von Liechtenstein, op Vrydag 31 Augustus 1979 in Waldstein in Oostenryk.

Dit was een van die mees intensiewe en uitputtende artikels – geestelik en fisiek –wat ek nóg vir Rooi Rose moes skryf, hoofsaaklik vanweë die gebrek aan ‘n iPad, selfoon en die internet waarna Maureen Swart in haar interessante artikel ook verwys.

29.9.16

Melkkoerant dra vrug

RUDIE VAN RENSBURG, ‘n stigtersredakteur van Bloemnuus skryf in 2013 in Bloemnuus: Dit was ’n sprong in die donker. Ons het nie geweet wat vir ons voorlê nie, nie hoe diep die afgrond is nie en ook nie hoe steil die bult gaan wees om weer bo uit te kom nie. Bloemnuus was die eerste gratis koerant in die Vrystaat -- ’n onbekende en gevaarlike terrein vir drie platsak joernaliste sonder enige sake-ondervinding.

Maar ek, Emile Terblanche en Johan Coertzen het oë toegeknyp, onbevange gespring en gehoop vir die beste – dat daardie sprong die moeite werd was, word vandeesmaand bevestig met Bloemnuus se een-en-dertigste verjaardag.

27.9.16

Alle paaie lei na Vegkop en die Sans Souci

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Lorraine Viljoen se navraag, Herinneringe gesoek oor ou Perskor-gebou in Doornfontein, het my op 'n kubertoer na ou Perskor-landmerke van Japie Bosch laat klik, en daar beland ek toe in 'n ander wêreld, 'n ander era.

Bo en behalwe die ou Perskor-gebou, sluit die landmerke ook onder meer in: Voortrekkerpers in Braamfontein, Vegkop en die Sans Souci-hotel. (Klik HIER)

Ek kon my oë nie glo toe ek op een van die landmerk-foto's daai einste boom sien waaroor ek in Buks se spook loop steeds (klik HIER) geskryf het nie! Dié boom is in Napierweg naby die Sans Souci, waarvan daar ook 'n foto op die kuberroete is.