Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

30.10.22

Oud-Oggendbladters voer iets in die mou

DRIES LE ROUX skryf: EK was onlangs bevoorreg om ’n draai te maak by De Wet Potgieter se Nagkantoor op Kaapsehoop. Terwyl ek en hy gesels het oor die ou Oggendblad-dae, en ek en Gerhard Kleijn ook daarna, het dit my opgeval dat elkeen van ons ’n beperkte herinnering aan ons tydperk by Oggendblad het. Ons onthou uiteraard meestal diegene met wie ons nou saamgewerk het en die insidente wat ons self beleef of aanskou het. 

24.10.22

Uit ʼn ‘duistere’ verlede

AL stuur jy net ʼn foto en ’n onderskrif, het Japie Bosch gepleit. PIETER VAN DER BERG, ʼn gewese lid van Die Transvaler se finansiële redaksie het hierdie foto van hom, sy vrou, Susan, en twee oudjoernaliste van DT, Lizette Bruwer (nou Moskovitz) en Piet Ebersöhn by die een of ander spoggerige okkasie gestuur. Sonder die onderskrif. Dalk kan iemand lig op die saak werp. 


 

19.10.22

 K’rant-lesers trek die heuningkwas nader

K’RANT se lesers trek weer ’n slag die heuningkwas nader. Laat ons vertrou oudkollegas trek ewe vlytig die rekenaars nader om aan te hou skryf.Eers skryf SIPKE DE VRIES: Die bydrae van Frans Esterhuyze, sy lewensloop asook die mooi illustrasies daarby, is een van die beste bydraes wat ek nog ooit oppie K'rant gesien en gelees het.

KARIN PRETORIUS skryf vervolgens: Ek wil graag my stem by Hanlie Vornberg voeg en K’rant gelukwens met sy verfrissende en ongewone stories wat ons die afgelope tyd waargeneem het.

17.10.22

Vrouens wat ʼn verskil gemaak het!


ESTELLE DE BRUYN skryf:  DAAR is drie, nee, maak dit vier vroue; goed, vyf; nee ses; sekerlik, sewe as ek eerlik moet wees. Wel, nee dis agt, dalk nege, vrouens wat ek alles aan verskuldig is.

Ek kan nie sê ek het bereik wat ek bereik het, vanweë hulle nie, want ek het nie veel bereik nie, maar hulle was almal inspirasies.

Nommer een ... maar dis nie in enige bepaalde rangorde nie.

Toe ek klein was en ek het koerant gelees, was dit net alles mans se outeursreëls, maar daar was een vrou, Rykie van Reenen.

9.10.22

Wat ʼn arm kind beleef het – in woord en beeld

FRANS ESTERHUYSE wyk ietwat af van die gewone aard van die bydraes wat K’rant ontvang en vertel die storie wat ʼn arm kind beleef het – en hy span sy talente in om dit in woord en beeld aan te bied. 

Behalwe die skilderye en sketse waarmee hy sy storie ophelder, stuur hy ook bladsye uit sy sketsboek waarin hy sy kleintydse storie vertel. 

Frans skryf: Ek is in 1941 in Johannesburg gebore. Ons het in Ophirton gebly wat aangrensend aan Booysens was. Jy het nie sommer aan iemand vertel dat jy in Ophirton bly nie. Net arm mense het daar gebly! Ons was arm. 

Van kleins af het ek geteken, was nie baie goed nie maar ek
het as skoolkind geld verdien deur medeleerlinge se bloemlesings te illustreer vir twee sjielings. In standerd twee was daar ʼn meisie wat my aandag heeltemal in beslag geneem het. Sy was Agnes Olivier. Haar nefie was ook saam in ons klas en hy was Gert van der Westhuizen. Natuurlik het ek goeie vriende met hom geraak. Ek het vir hom gesê ek sal haar bloemlesing illustreer, verniet! Sy het ingestem en ʼn toffie vir my gegee om te eet! 

7.10.22

‘Ek hoop dit hou so aan’

HANLIE VORNBERG skryf uit Wenen: K’RANT het die klomp omtrent wakker geskud! Hulle skryf nou weer met groot vreugde! Hoop dit hou so aan. 

PIET EBERSÖHN voeg by: Ongelukkig is die mandjie aan die leeg raak. Daar is twee bydraes wat afronding van die bydraers se kant af kort, dan is dit eers weer leeg. 

Die hoop beskaam darem nie heeltemal nie. Daar is oor die dertig beloftes wat nog nie nagekom is nie. 

5.10.22

Paul onthou miernes eksentrieke karakters

PAUL ROOS skryf: EK was slegs ʼn paar maande lank ʼn Perskor-werknemer, en daarom neem ek nie juis deel aan julle aktiwiteite nie. Desnieteenstaande is ek ook ʼn slagoffer van die nostalgie, en onthou ek daai tyd met meer as net ʼn tikkie heimwee. 

As junior verslaggewer by Die Transvaler (aangestel deur Herman Snyman) veertig jaar gelede, het ek my bevind in ʼn soort Suid-Afrikaanse Alice in Wonderland. Eksentriek was die norm – of so het dit vir my gevoel. ʼn Miernes vol energieke, passievolle, volkleur-karakters propvol lewe en vreugde en spitsvondigheid. 

3.10.22

Reminissensie voer Hanlie op ver paaie

HANLIE (SWANEPOEL) VORNBERG skryf: DIT is vanjaar ses en veertig jaar gelede dat ek Suid-Afrika verlaat het om my hier in Wenen te kom vestig. My man, gebore en getoë in Oostenryk, het op ʼn dag gesê ons verlaat die land en het dadelik met die kinders begin Duits praat. 

Dit was die tyd van ʼn holderstebolder Suid-Afrika. Daar was angs en onsekerheid, opstande in die hele land, sanksies en boikotte en diegene wat kon uitwyk het begin koerskry in alle rigtings. 

Toe dit by my begin insink dat ek die land en veral die Kaap moes verlaat, het ek meteens bemerk hóé skoon en blouselblou die lug bo my kop is. Ek het geweet dat dit ʼn seer en uitgerekte afskeid gaan wees. 

Elke dag het hartseer ingehou. Die aflê van een of ander bekendheid of bemindheid. 

Banale dinge soos ʼn Kaapse windvlaag, ʼn kwikstertjie wat oor die grasperke wip, die buie van die see of die geur van ʼn pot boerekos wat van elders by die venster inwalm.