Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

30.9.22

Mentors, base en klase op my pad

ESTELLE DE BRUYN skryf: Ja, ek dink ons het dalk almal iemand gehad wat ons hand iewers langs die pad gevat en ons op die spoor gesit of gehou het. Ek het drie ridders gehad wat my fakkels hooggehou het en dis tyd dat ek krediet gee vir die ongelooflike leiding wat hulle vir my gegee het. (Gits, dis jammer om te sê, maar hulle was almal mans.) 

Nommer een: Harald Pakendorf. Hy was my eerste redakteur. Hy was soos ʼn “rockstar”. Ons het hom almal as “meneer” aangespreek en hy het dit verdien. 

28.9.22

Toe die lewe sorgvry en rustig was ...

JAN VAN VUUREN skryf: Onlangs krap ek in ʼn paar ou foto-albums om ʼn ledige tydjie te verwyl. Ek kom toe op die ingeslote af. Dit was die dae voor ernstige verantwoordelikhede. Sorgvry en rustig was die lewe toe. 

Al wat jy moes doen was om “scoops” na te jaag en Beeld se krieketskrywer die loef af te steek. 

En ja die meisie hier aan my sy, Susie, haar nooiensvan eweneens Van Vuuren, is vandag nog my vrou ... 45 jaar later. 

Die geleentheid was een van daai veels te min samesyns as joernaliste tydens ons dae by Die Transvaler. Dit was met die opening van die een of ander Pick 'n Pay in Norwood, Johannesburg. 

26.9.22

Karin se sabbatsreis langs Bloubergstrand

KARIN PRETORIUS skryf: Sondag ná Sondag het ek die sowat twee kilometer van my woonstel in Bloubergstrand af na die Remaxkantore afgelê om my skouborde en sware hammer te gaan haal vir skoudag – og! Maar die rit was al langs die see af met Tafelberg dáár en die wit branders híer – h’mm! En sesuur, ná skoudag, weer die terugtog langs die see met die westerse son wat ʼn blink streep op die water trek – aha! Wonderlike vertroosting na ʼn middag se harde werk.

Dit het my skuldig laat voel om as eiendomsagent die Sabbat só te ontheilig, sekerlik sal dit nie ongestraf bly nie? Met my rit al langs die see, het die woord “sabbatsreis” by my opgekom, en die verklarende woordeboek het dit só gestel: ʼn sabbatsreis is ʼn bepaalde afstand, sowat 2 000 treë, wat die Israeliete toegelaat was om op die Sabbat te reis. Aha!

23.9.22

Nie vergrype nie, mense bly Peet by

 PEET VAN STADEN skryf voorts: My herinneringe is ook nie van oorvloed en vergrype nie, maar van mense.

So halfvyf een middag in 1970 loop ek Hermiena Oberholzer en Marietjie van Rooyen by die hysbak raak. Hulle was gemoedelik ná die afskeid van ons legendariese restaurantvrou tant Rosie, soos wat ons haar toe met respek moes genoem het, maar nie gedoen het nie. Party sal nog onthou dat AM van Schoor haar daar gesoengroet het.

22.9.22

Dié Van Stadens leef dubbel en dwars

PEET VAN STADEN skryf: Ons het ons troshuistuinjie in Randburg só beplant dat al nege die groot bome gelyk hoog sou word bo-oor alles. Rankers en struike tussenin vir die geur. Lenteaande verstik ʼn mens amper daarvan. Oral groei boslelies, nou vol eerste blomknoppe. Daar is ʼn paar geeles maar meestal oranjes. Daarvan kom nog uit Dave Viljoen se welige beddings in Fourways. 

 Oral is daar herinnerings aan ons Perskordae. In die gastebadkamer hang twee Lou Henninkies in potlood wat die weemoed van Paul Kruger in ballingskap uitbeeld, die een (met sakkies onder die oë) van voor af, die ander in profiel. Op ʼn glasrak in die sitkamer staan die bloubont keramiekbakkie wat Thijs Nel as toegif aangedra het nadat ons twintig jaar gelede sy granate in houtskool op papier gekoop het.

Tuin en al is die eiendom so groot soos die hoewehuis waarin ons eens gewoon het. 

21.9.22

Elise se ma het die laaste sê

ELISE VAN STADEN skryf: Word ’n onderwyseres, het my ma gesê. Elke ou dorpie het ’n skooltjie. Maak nie saak waar jy woon nie, daar sal ’n onderwyspos wees vir jou. 

Nie dat die beroepskeuses wyd gelê het nie. As ek wou gaan swot, het die beskikbaarheid van ’n lening die rigting bepaal.

Die aansoekvorms is onderteken, die ouers was tevrede en ek was op pad Pretoria toe. 

Maar die hele tyd weet ek: onderwys is nie vir my nie. Ek sal die aaklige opvoedkundeklasse bywoon, ek sal soet gaan eksamen skryf, maar dis waar die storie eindig.  

Met die bemiddeling van Tienie Fourie, destyds my swaer en lid van Dagbreek se sportredaksie, doen ek aansoek om ’n vakante pos in Die Vaderland se vroueredaksie. En ná Kittie Vermaak en Sarie Raadt (later Valentine) in ’n APB-kar by my koshuis in Pretoria uitslaan en ’n onderhoud met my kom voer, het ek ’n werk, maar tot Ma en Pa se ontsteltenis nie in die respektabele onderwys nie.

20.9.22

Van Stadens onderskei hulle aan wye front

Peet van Staden
PEET EN ELISE (TOE BOTHA) VAN STADEN het binne ʼn maand ná mekaar teen Januarie 1970 by Die Vaderland begin, hy in die sportredaksie onder Gerhard Burger, sy in die vroueredaksie onder Kittie Vermaak. 

Sy was om die beurt joernalis (vroueredaksie, subs en verslaggeefster by DV en Hoofstad) en onderwyseres. Ná lang studie tussenin het sy in die akademie geëindig. 

In ʼn tyd sonder kraamverlof moes sy met elke kind se geboorte bedank en daarna ervaar dat koeranture nie kinders in ag neem nie. In die onderwys kon sy as getroude nooit ʼn permanente aanstelling kry nie. Daar was gevolglik skofte in wit onderwys, waarvan sy een verloor het omdat haar man ʼn joernalis was en daar in ʼn ander koerant ʼn berig oor die skool verskyn het, toe in bruin en uiteindelik in swart onderwys. Ná die dol jare en klipgooiery in Soweto is sy terug pers toe, waar sy later vroueredaktrise by Die Vaderland geword het voordat sy in Sarie se Randse kantoor aangestel is.

16.9.22

Ian vind ʼn holte vir sy Kaapse voet

IAN SMITH skryf uit Kaapstad: Toe Piet Ebersöhn my onlangs vra wat ek deesdae doen, was die versoeking groot om te antwoord … niks, absoluut niks nie. Hoe salig sou dit nie wees nie, maar ook ʼn totale leuen.

Iemand het jare gelede vir my in Johannesburg gesê ek's eintlik maar ʼn Kapenaar wat wag om uit die kas te klim. En hier's ek nou: al 18 jaar uit die kas uit.

In April 2004 het ek 'n Kaapse "inkommer" geword na 'n halfeeu in Jo'burg. Daar gebore, skoolgegaan, gewerk en getroud. Die verplanting was maklik; seker maar altyd 'n Kapenaar soos destyds beweer is. Die kliekerigheid hier waaroor baie semigrante kla het ek nie ervaar nie. Maar, dan: voordat ek afgetrek het, het ek 'n hele hand vol Kaapse vriende gehad. Dit maak 'n groot verskil.

14.9.22

Opspoorprojek lewer ook slegte nuus op

DIE resultate van K’rant se huidige “opsporingsprojek” lewer ongelukkig ook die slegte nuus op van oudkollegas wat oorlede is sonder dat die webjoernaal daarvan kennis geneem het.

Tot dusver het ons reeds verneem van vyf mense wat tot selfs langer as vier jaar gelede oorlede is: Johann Raath (Perskor se advertensie-afdeling, Johannesburg); Estie (Crous) Milstein (joernalis, Transvaler, Pretoria); Amanda Olivier (Durbanse verteenwoordiger, Die Transvaler), Arrie de Beer (Wes-Randse verteenwoordiger van Die Transvaler in die koerant se Voortrekkerpersdae) en Derick van der Walt (joernalis, Transvaler).

12.9.22

Lekker om ʼn slag nostalgies te raak

GERT VAN ROOYEN skryf:  My storie is dalk nie so kleurvol of vol avontuur as sekere ander oud-Perskorhane of -henne nie, maar hier is dit.

Ek het van 1973-1980 by Die Transvaler en Die Vaderland gewerk as joernalis en dit was vir my wonderlike jare. Van 1974 tot 1979 by Die Transvaler, 1979/1980 by Die Vaderland en daarna
vir 'n Caxton-koerant, Kempton Express.

Daarna het ek die akademie betree, wat ook 'n besonderse ervaring was. Ek was van 1982 tot en met 1992 dosent aan die destyde Pretoria Technikon en daarna vir 24 jaar by die Puk. Wat tot vandag toe my trots maak en lekkerte gee is om my oud-studente as joernaliste en skrywers in die media te sien. So 'n bietjie troos dat ek darem iets reggekry het (ha-ha).

Bo:   Ek en Susan saam met ons kleinood. Voor is my kleindogters Olivia en Odette. Agter staan Leandra, haar man Francis, José Toral (Sanja-Rika se lewensmaat) en Sanja-Rika.

9.9.22

Tot geskokte redakteur se redding

DOLFIE SNYMAN, seun van Herman, en ʼn lid van die Metro-redaksie in Pretoria, herinner hom aan 'n keer toe hy tot die redakteur se redding moes kom.

Iets het met die kragtoevoer skeefgeloop en Frans Aucamp het op ʼn manier ʼn skok ontvang wat hom katswink op die vloer neergevel het.

Dolfie was op die toneel en het dadelik alarm gemaak en hulp ontbied.

Frans was genadiglik taai genoeg om gou weer by sy positiewe te wees en hy het sonder letsel van die skok herstel.

7.9.22

Dié generaal spook nog by Anne-Marie

ANNE-MARIE MISCHKE skryf: Dit het nou amper al ’n gewoonte geword om afgetree te wees, want dit is nou sowat 13 jaar sedert ek Rapport se deure agter my toegetrek het. Eintlik moet ek dit anders bewoord. Dit het lankal normaal geword om nie meer in die joernalistiek te wees nie, want heeltemal afgetree het ek toe nie regtig nie.

Dit het so gekom: Ek was besig om kantoor skoon te maak in my laaste week of so by die koerant toe Frederik de Jager, toe nog uitgewer by Umuzi, in my deur kom staan. Dit het hy van tyd tot tyd gedoen wanneer hy in Johannesburg was om ’n boek of ’n skrywer of sommer net Umuzi te bemark. Ek sê vir hom ek is aan die kantoor opruim, want 65 staar my in die gesig. En wat, wil hy weet, gaan ek doen om myself besig te hou? Ag wat, vertaalwerk, sulke dinge, dit en dat, sê ek ongeërg. Later sou ek besef hoe onvanpas daardie ongeërgdheid was, want vertaalwerk val nie sommer net uit die lug nie.

5.9.22

So het dit begin

ESTELLE DE BRUYN skryf: Ek het moeilik begin lees. My pa het koerante gelees en my ma storieboeke. 

Toe ek klein was, was dit vir my erg. As hulle gelees het, het hulle nie aandag aan my gegee nie. Geabsorbeer in hul eie wêrelde. 

So, ek het ‘n teësin vir lees ontwikkel. Ek het my skoolboeke gelees, maar storieboeke was nie vir my nie. 

Ek was ‘n enigste kind. My ma was kwaai en pa was ‘n lekker warm kombers wat my beskerm het, so natuurlik het ek begin koerant lees, eerder as die storieboeke wat my ma gelees het. 

1.9.22

Vir Pakendorfs is daar nie leeg te lê nie

HARALD PAKENDORF skryf: Niksdoen is ‘n kuns. Ek sukkel, maar darem ...

Bietjie terugstap: nadat Perskor onder druk van PW Botha my om 9vm op 19 Mei 1985 afgedank het oor die soort politiek wat tans gangbaar is, het ek ‘n bestaan gemaak deur politiek te verkoop -- in openbare toesprake (waar die geld goed was) en ‘n maandelikse nuusbrief. Toe, soos dit maar gaan, dié se raktyd verby is, is ek gelukkig deur ‘n kommunikasiemaatskappy gevra om te help. Sestien jaar daar gewerk. Toe kom die base tot hulle verbasing agter ek is tagtig en sit my summier op pensioen. Een middag se kennisgewing. Einde Februarie 2020.

Het intussen ‘n boek geskryf (Stroomop) as gevolg van druk van ‘n uitgewer. Het redelik goed verkoop.