Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.10.15

Skaterlag oor panty op 'n paal

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Evert van Niekerk, oudmotorredakteur van Die Vaderland, was altyd half deurmekaar en stillerig as hy by sy klein glaskantoortjie in Aucklandpark aangekom het.

Hy was vroeg-oggend nie juis spraaksaam nie. Seker maar nie ‘n oggend-mens nie. Maar een oggend ná sy aankoms bars hy kort-kort van die lag uit. Het julle ouens dan nie gisteraand radio geluister nie? En hy mompel iets van “die baas”.

Nou wat het aangegaan, Evert? vra een van die ouens (dalk nog Tom Buys), geamuseerd.

Radio Hoëveld had in die 1970’s ‘n gewilde vasvraprogram en Evert was by geleentheid een van die genooide deelnemers wat teen ‘n ander span meegeding het.

Hulle moes allerhande kategorieë vrae beantwoord. Enige ding van Hollywood se plooiloses, al is hulle 80, tot wetenskaplikes wat toktokkies se kloppe ontleed. Ook oor politiek, en meer bepaald Afrika-politiek. En gisteraand was hy wat Evert is weer ‘n lid van so ‘n span op die radio.

Die reëls van die program het hulle toegelaat om binne ‘n sekere tyd antwoorde telefonies te probeer kry by “buite-ouens” wat weet. Jy kon die ou fone se skakelskywe letterlik oor die lug hoor ‘trrrrrr’ soos gebel is tydens lewendige uitsendings.

Evert van Niekerk
Die telefoniese gesprekke was dan ook direk uitgesaai. Selfone en Google se geboortedatums het nog dekades in die verskiet gelê en Bill Gates se pa en ma was toe miskien al getroud.

Evert vertel met ‘n klomp proes-onderbrekings van gisteraand se debakel met die vasvraprogram: Hulle wou weet hoe lyk die vlag van die een of ander Afrikaland – kom ons sê maar dit was Mali s’n. Nou, van motors en meganiese goed wis hy omtrent alles, maar van politieke goeters? “Hau”, en nogal van Afrika? “Aikona!”.Evert moes onthou het dat Die Vaderland juis in daardie tyd ‘n reeks geplaas het oor Afrika-lande en hulle leiers. Dirk Richard is mos net die politieke indoena wat kan help met die vlag se antwoord! Gou-gou hom bel.

Met die spoed van ‘n 0-tot-100-versneltoets laat waai Evert, sonder om vir hom te sê dit is ‘n lewendige radio-uitsending. “Meneer, sê my asseblief gou hoe lyk Mali se vlag. Ek moet dadelik weet!” Min of meer op dié trant, in staccato.

Dirk Richard
“Ag man, seker ‘n pantie op ‘n paal!” kom dit toe sonder ‘n oomblik se huiwer vanaf die slim redakteur. Dit weerklink helder oor die foon en helaas ook oor luidsprekers van derduisende radio’s regoor die hele Witatersrand!

Evert vertel dit was ‘n klipharde geskater oor die lug, ook van die programleier se kant. “’n Pantie op ‘n paal! Jis, hoe kon ou Dirk nou so iets sê! En da’ verloor ons toe ook! “

Later die dag waag iemand toe om die agbare redakteur uit te vra oor die oproepie met die navragie oor ‘n Afrikaland se vlag toe hy in die verslaggewerskantoor ‘n draai kom maak. Dit was ‘n gebulder van voor af en mnr Richard was ewe ongeërg oor die saak, al was hy ‘n man wat altyd vroumense respekvol behandel het.

Evert wat nooit op sy bek geval was nie, het laggend uit sy plakkaat-beplakte glaskantoortjie gekom, breed gelag en sy refrein van vroeër die oggend herhaal (net ‘n bietjie respekvoller): “Jis, meneer, hoe kon meneer nou so iets sê? En daar verloor ons toe ook."

"Nou hoe moes ek dit nou weet?" was al verweer van die man uit die groter, statiger kantoor.

Len Lindeque
• Terloops, die einste reeks oor Afrikaleiers wat deur wyle Len Lindeque geïllustreer was, het op ‘n dag iets interessants opgelewer. Toe die een of ander van die kleiner Afrikalande se beurt aanbreek, was g’n foto êrens te vind van die betrokke land se staatshoof wat Len vir ‘n lynskets kon gebruik nie.

Len se verweer was: Nou wie sal nou weet hoe lyk dié president ‘so-en-so’? En daar vat die ou platjie met die spotpen kortpad en reël terstond dat Jannie Makoeng, die swart verslaggewer wat vir Die Vaderland  gewerk het, vir hom moet poseer. En siedaar! Vaderland-man Jannie word so ewe een van die kits-staatshoofde van ‘n Afrikaland, sonder slag of stoot of ‘n coup d’etat … En bloedloos.

My joernalis-brein laat my nou wonder of dit nie dalk dieselfde Afrikastaat was waarvan Evert die vlaginligting gesoek het nie. Dan kon hy sowaar sommer vir "president Jannie" gevra het! Maar ek is bevrees dis Disney-wensdenkery en arme Evert is ook sweerlik sonder die vlag-inligting graf toe.