PIET ROOS skryf: Twee keer het ek geskrik. Groot geskrik.
Die eerste keer was daar by Loskopdam waar 'n "mak" jagluiperd my gebyt het. Ek het 'n storie gaan doen oor Des Varaday se jagluiperdplaas en hy vat my die kamp in. Ons stap stadig deur die bosveld en daar lê 'n jagluiperdwyfie so neffens 'n doringboompie.
Ek buk om 'n vloer-foto van die dier te neem en alles is nog reg.
Ek kyk deur die kamera en toe die sluiter knars, sien ek hoe die dier haar kop oplig. Ek sien deur die kamera sy kom orent. En ek kom orent. Die volgende oomblik spring sy vir my keel, maar ek hou my linkerarm voor en sy het dit in haar bek.
Met haar voorpote gryp sy my been en Des spring op en gryp haar aan die stert. Ek kan nie onthou of hy iets geskree het nie, maar hy trek haar van my af.
Ons het die wonde gaan verpleeg. Daardie kat se naels het my beenvelle oopgeskeur.
• Maar dit was nie die grootste skrik nie.
Ek het 'n man gaan soek en vroegaand is ek daar in Saxonwold se buurt in.
Ek klop aan die deur en 'n vrou maak oop. Dit was een van daardie staldeure, 'n onder- en bo-deur. Die onderdeur is nog toe.
Ek begin praat en toe storm daar 'n hond en hy bespring vir my. Ek het my kamera so voor my gehad, vir 'n steelfoto en ek ruk dit op in die hond se bek.
Die vrou gryp die hond aan sy nekband en hou hom vas.
Ek het net teruggestaan, gebuk en as ek nie so ordentlik was nie, sou ek net daar 'n kat geskiet het. Ek was lam van skrik. Ek het net omgedraai en gery.