Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

17.2.15

Len Lindeque nie op sy bek geval

JAC DE VRIES skryf: Lojaliteit steek sy kop soms in verskeie vorme uit. Soos die dag toe ek, Len Lindeque en baas Dirk Richard by Marius Jooste in die kantoor was. Wat die geleentheid was, onthou ek nie meer so mooi nie, maar die verdere verloop sal saam met my graf toe gaan.

Jooste was nie die maklikste mens om mee klaar te kom nie en het dit skynbaar sy lewensroeping gemaak om dit by almal tuis te bring.

Marius Jooste
In die loop van die gesprek het hy so dwars na Len gekyk en vir Dirk gesê: "As hy (Len) nie iets slegs van my kan sê nie, sê hy liewers niks!"

Len was net so vinnig met sy mond as met sy pen. Hy slaan toe oor na Engels, nugter weet waarom, en kyk Jooste vierkantig in die oë: "That`s not true, you know. I always come up for you. Just the other day Dirk here said that you did not have the brains of an ox, and I said you did!"

Len Lindeque
Die remmerke lê seker nou nog in daardie kantoor soos Dirk en my se harte tot stilstand geskreeu het!

Dirk Richard
Jooste het Len so op en af gekyk. Toe stuur hy my en Len uit die kantoor uit. Dirk het later vir my vertel mnr Jooste wou Len summier afdank. Danksy Dirk se pleidooie het hy dit nie gedoen nie maar die byl het vir byna vier weke oor Len se kop gehang.

Len moes gaan om verskoning vra, en dit was vir hom nie die maklikste taak nie. Verskoning vra vir `n onskuldige grap? Watwou. Dit sou hom mos skuldig maak aan waarvan Jooste hom ook al beskuldig het! Maar gelukkig het hy uiteindelik bes gegee en aangebly om later saam met die res van die redaksies ge-`fire` te word.