Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

31.3.20

Thijs was skepper oor wye front

PAUL KRUGER skryf oor die talente van sy vriend en kollega, Thijs Nel, wat Saterdag oorlede is: Thijs was op sy dag kunsredakteur van Die Vaderland, toe die grootste dagblad in die RSA.

Hy was ‘n kunstenaar van formaat en sy talente was oor ‘n wye front versprei, hy was skilder (verskeie suksesvolle kunsuitstallings deur die jare), hy was pottebakker, digter, kortverhaalskrywer, navorser en kenner van CJ Langenhoven se werk wat hy in ‘n omvattende boek saamgevat het.

Hy het ook vir ‘n paar jaar in Parys, Frankryk, kuns gaan studeer. Tydens hierdie tydperk het hy ‘n reuseskildery op die muur van die kunskollege se ingang geskilder.

Thijs het twee keer sy ghoeroe in Indië besoek en hy was ‘n oorgegewe aanhanger van hierdie denker.

Hy was ook ‘n tenoor wat soms Sondagaande by Aasvoëlkop se NG Kerk gesing het. In daardie jare het hy nog in Randburg gewoon.

Hy was ook ‘n kenner van ons inheemse struike en bome en sy tuin was ‘n absolute lushof en deurspek van pottebakkerbeelde en fonteine.

Thijs was baie lief vir die Klein Karoo, maar veral vir die Bosveld en die Krugerwildtuin.

Tydens sy laaste jare op Oudtshoorn het hy hom van die lewe daar buite onttrek en ‘n bestaan van alleenheid gevoer, hoewel sy vriende altyd gul en gasvry by Van Riebeecklaan 49 in Oudtshoorn ontvang is.

Thijs my mater, ons gaan jou mis.

• Willemien Nel (geen familie), 'n vriendin wat Thijs deurentyd bygestaan het, het laat weet dat Thijs more (1 April) veras word. Daar sal geen diens wees nie.


Omslag van 'n rede gelewer deur Thijs oor Langenhoven tydens
Taaldagviering van die ATKV (Kannaland) op 12 Augustus 2005.