Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.11.19

Suzelle Fourie in haar slaap dood

Suzelle Fourie
JOHANN VERSTER, vroeër misdaadverslaggewer by Die Vaderland en Transvaler en later motorredakteur, het ons laat weet dat Suzelle Fourie byna agt maande gelede oorlede is.

In ‘n berig wat Johann aangestuur en reeds op 1 April 2019 in Weslander (kantoor in Vredenburg -- Red.) verskyn het, skryf Trish Goosen: “Suzelle Fourie, gewese mede-eienaar van Weslander, is verlede week (in Maart 2019 -- Red.) in haar slaap dood.

“Suzelle (77) was meer as 20 jaar (1979-2000) die redakteur van Weslander voor sy en haar man, Gerrie, die koerant aan Media24 verkoop het.”

Voor dit was Suzelle amper tien jaar lank (1970 tot 1979) ‘n verslaggewer by Die Vaderland. Sy het ‘n besondere skryfvermoë gehad. Sy was met fotograaf Gerrie Fourie getroud. Hy is in 2009 oorlede.

Goosen skryf ook: “Onder Suzelle se leiding het Weslander verskeie trofeë en nasionale pryse gewen. Die eerste kompetisie vir gemeenskapskoerante, bekend as die KWV-kompetisie, is in 1984 gehou. Weslander het in hiérdie tydperk twee trofeë gewen en was twee keer die naaswenner.

Gerrie Fourie
“Die koerant het van 1991 tot 1995 drie keer die gesogte Hultzer-prys as beste gemeenskapskoerant in sy afdeling gewen. Suzelle self het ook vyf Sanlam-pryse vir joernalistiek gewen.

“Volgens Suzelle se skoonsuster, Dina Fourie van Vredenburg, is Suzelle laat Vrydagmiddag 22 Maart in haar bed in haar woonstel in Milnerton dood aangetref.”

Suzelle het heelwat bydraes vir K’rant gelewer, onder meer ‘n reeks oor haar ervarings as onderwyseres in landelike China. Klik HIER om haar stories te lees.