Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.11.19

K’rant byna by sy millennium-uitgawe

PIET EBERSÖHN skryf: Wat ʼn mal perd het ek nie opgesaal toe ek
toentertyd op Peet Simonis se versoek die redakteurskap van K’rant by hom oorgeneem het nie.

Nou vertel die huidige redakteur, Philip Deetlefs, my dat ons nog net 13 stories kort om dit 1 000 stories te maak wat al in K’rant gepubliseer is.

Noudat die stories in K’rant al die millennium-merk verbysteek, raak die bittersoet van daardie vestigingsjare sommer heuningsoet.

Peet Simonis
Willie Buys
Wat ʼn gesmeek was dit nie partykeer om stories te kry nie. Meermale is gewillig bygedra; telkens is belowe en daar het niks van gekom nie; blinklek het nie eens gehelp nie.

Tog het daar honderde puik stories vorendag gekom en is ʼn indrukwekkende getal gewese Perskor-werknemers oorgehaal om hul herinneringe te deel.

Kort voor lank was Persmededingers, na wat verneem is, sommer lekker jaloers op K’rant.

Andries Botha
Philip Deetlefs
K’rant was insgelyks al gou nie meer ʼn eenmanstaak nie. Japie Bosch het voorgestel ons vervang die e-posweergawe met ʼn webjoernaal en ingespring om die publikasie daarvan te hanteer.

Willie Buys was die volgende om te help met bydraes werf. Wyle Andries Botha het hom by ons aangesluit. Ná Andries se afsterwe het Charl Thom kom help. Ná sy vertrek het Stella Niemand die taalversorging oorgeneem. Philip Deetlefs het die redateurskap by my oorgeneem.

Stella Niemand
Charl Thom
Dit was nie altyd maanskyn en rose nie, en daar is soms onderling baie skerp in die redaksie verskil, maar dit was ʼn lekker span karperde wat ook baie vreugde gedeel het.

In ʼn stadium het K’rant byna daagliks nuwe stof geplaas, maar dit was duidelik dat dit nie volhoubaar was nie. Perskor het nie meer bestaan nie, en daar het nie nuwe bloed bygekom nie. Bejaarde geheues is leeggetap. Daar word toenemend in ons bos gekap.

Japie Bosch
Gelukkig is die herinneringe darem ook nie so skraal dat daar nie steeds heerlike nuwe bydraes verskyn nie, al is die plasingsfrekwensie nie meer so hoog as aanvanklik nie.

Veels geluk aan die huidige redaksie – Philip, Japie en Stella – en die bydraers dat julle steeds daarin slaag om K’rant sinvol aan die gang te hou. Daar is baie groot waardering vir dit wat julle regkry.

Ons lees almal steeds lekker saam – en klink ʼn glasie op K’rant se millenniumskap!