Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.11.19

Hillbrow se ander spore

PIET EBERSÖHN skryf: Dit het gʼn niks met Perskor uit te waai nie, maar Maureen Swart, Karin Pretorius en Gert van Rooyen se Hillbrow-stories herinner my met ʼn ompad aan ʼn ervaring as buitemuurse student.

Dalk is dit versagtend dat die stil tye tussen opeenvolgende uitgawes in die nagkantoor broodnodige studietyd opgelewer het.

In elk geval, ek moes destyds ʼn werkstuk oor die ontstaan en ontwikkeling van die Johannesburgse Hospitaal doen en navorsing uit The Star van die jare voor die eeuwisseling het vir ʼn ligter oomblik of wat gesorg.

Johannesburgse Algemene Hospitaal in die 1940's.
Terloops, daar is in my koerantdae gewoonlik na die Johannesburgse Algemene Hospitaal verwys, maar ek kon nie vasstel dat “Algemene” ooit deel van die amptelike naam was nie.

Ewenwel, in ʼn lesersbrief is daar by geleentheid gekla oor die swak diens in die hospitaal (en julle dink dit gaan vandag sleg).

Om sy punt te staaf, skryf die beswaarde toe:

“The patient in the bed next to me became very ill one night. French brandy was prescribed, but instead Cape Brandy was given. The patient died the same night.”

In ʼn ander geval het die koerant oor ʼn vergadering van die hospitaalkomitee berig. Dit is opgehaal dat ʼn bepaalde vooraanstaande sakeman onderneem het om ʼn beduidende geldelike skenking aan die hospitaal te doen indien hy aan ʼn kriminele oortreding skuldig bevind sou word.

Die vergadering is meegedeel dat dié pilaar van die gemeenskap beboet is omdat hy drank aan swart mynwerkers verkoop het.

Dit is aan die sekretaris opgedra om onverwyld in hierdie verband aan die potensiële skenker te skryf.

Nog iets interessants was ʼn berig waarin bekend gemaak is dat besluit is om die te stigte hospitaal op te rig “on the brow of the hill” wat oor die myndorp uitkyk.

Siedaar: Hillbrow!