Ek het Bienks (soos ek haar meestal genoem het) in Mei 1971 ontmoet toe ons albei by Lindsay Smithers Skakelkonsultante gewerk het.
Ten spyte van ‘n ouderdomsgaping van 22 jaar het ons dadelik ge-“kliek”. Lees, skryf, reis en die teater was van ons vele gedeelde vreugdes.
Bienkie Wessels |
Ons het dus elke maand of wat ingepiekel stad toe om na ‘n opvoering te gaan kyk, alles van Swanemeer tot Sarafina.
Laasgenoemde het vriende jare lank aan‘t giggel gehad omdat ons per abuis na een van die pouses gemeen het dat dit die einde van die opvoering is en dus huiswaarts gekeer het. Ons het darem langs die pad by die Dev in Braamfontein stilgehou om oor ‘n Ierse koffie die gebrek aan denouement te betreur - totdat daar later vasgestel is dat ons te vroeg die pad gevat het en nooit Sarafina enduit beleef het nie.
Bienkie het by onder meer Die Volksblad, Dagbreek, Die Transvaler en Die Vaderland asook die tydskrifte Rooi Rose en destydse TV en Radio Dagboek gewerk. Daarbenewens het sy boekvoorlesings vir die radio en ook vertalings gedoen, onder andere Die Oë van die Hoogmoediges – ‘n Afrikaanse vertaling van Mercedes Salisachs se Spaanse roman Una Mujer Llega al Pueblo.
Sy word oorleef deur haar seun Frans, skoondogter Maria, dogter Zan Zeman en kleinseuns Martyn en Glen Zeman.
In September 2014 skryf Bienkie in K’rant:
'n Koerantmens het 'n interessante lewe; hy beleef baie, ontmoet interessante mense en weet nooit wat die dag gaan bring nie. So lui die cliché. En dis waar ook. Maar as jy terugdink wanneer jy 82 is (nee, ek's November eers 83, demmit!) wie is dit wat jy met die grootste lekker onthou? Jou kollegas!
Dankie, Bienks, vir die jare wat ons eers as kollegas en toe as vriende kon deel. Jy het my lewe verryk.
• Bienkie se seun, Frans, het onderstaande gestuur.