Daar was nie parkeerplek by die hoofingang nie en ek is in ‘n systraat afgelaai. Die selle was onder die gebou met ‘n rits vensters wat op
straatvlak uitkyk. Gevangenes het deur die oop vensters sigarette en geld gebedel. Ek was laat en het vinnig om die gebou gestap en voor ‘n indrukwekkende traliehek beland waar gevangenes gewoonlik afgelaai is. ‘n Hulpvaardige konstabel het die hek oopgesluit en ek is met ‘n kortpad na die konferensiekamer gelei.
Marshallplein |
My metgesel verduidelik toe die skraal mannetjie met die seunsgesiggie is eintlik ‘n laksman. Hy is ná ‘n voorval in Westbury in hegtenis geneem en sou ná sy verhoor na ‘n verbeteringskool in die Kaap gestuur word. Die kêrel was bereid om sy storie vir ‘n halwe pak Lexington en ‘n daggazol te vertel.
“’n Daggazol wat ek waar kry?”
“G’n probleem, meneer. Gee net ‘n geldjie. Ek koop dit sommer deur die venster.”
Die ooreenkoms is terstond gesluit en die mannetjie vertel met smaak. Volgens hom was hy van kleins af ‘n stuurjong vir een van die buurt se berugte bendes. Hy is aanvanklik gestuur om sigarette of vis en skyfies vir bendelede te gaan koop en is later toegelaat om bendevergaderings by te woon. Bendelede het hom onder meer gebruik om deure tydens inbrake oop te maak nadat hy deur klein venstertjies sonder diefwering gekruip het. Hy het sy eerste mes gekry toe iemand in die gemeenskap hom pak gegee het ná 'n onwelvoeglike opmerking.
Dit het hom nie lank geneem om die mes te gebruik nie en hy het in die hof beland en is met ‘n waarskuwing vrygelaat. Kort daarna bars ‘n bendeoorlog los waartydens ‘n bendeleier in die hospitaal vermoor is. Die bloed vloei en die knapie steek links en regs. Die polisie het hulle hande vol en neem bendeleiers en -lede in hegtenis. Gewapende polisie hou die bendes tydens verhore en vonnisopleggings in die hof uit mekaar. Party kry tronkstraf, maar sommiges word op borgtog vrygelaat. Bendeleiers stel moordlyste met belonings op, maar albei groepe is katvoet en loop nooit alleen nie.
“En dis net waar ek my chance kry, meneer.” sê hy. “Ek wag vir die ou wat bail kry, want hy’s nie bang vir ‘n laaitie nie. Dan lem ek hom van skuins agter af met ‘n skerpgemaakte bicycle-speek in sy hart. Pound seats vir my,” spog hy. “Hoeveel het jy so doodgemaak?” “Half a dozen or more,” sê hy. “Dit lieg jy,” sê my polisievriend en ons stap weg.
Volgens my vriend kon die polisie drie moorde met hom verbind. Maar hulle gee toe daar kon meer gewees het voordat hy verklap is en ‘n losprys op sy kop gekry het. Hy het by die polisie gaan hulp soek nadat iemand op hom geskiet het en sy moorde beken.
Herman Charles Bosman |
“Moord,” sê hy en almal gee pad van hom af.
John Vorsterplein |
Die gebou is deur meer as 100 wit en swart speurders beman en gewelddadige misdaad het maand ná maand gedaal. Die reusegroep speurders het vinnig op ‘n moord- of rooftoneel toegeslaan en dosyne mense verskeie blokke om die toneel ondervra. Elke leidraad is dadelik opgevolg en misdadigers is binne enkele dae aangekeer. Totdat die berugte pangaman op die toneel verskyn het. Hy het in die jare vyftig tot die begin van 1960 chaos met sy kapmes veroorsaak. Die publiek is in die koerante gewaarsku om verlate parke snags liefs te vermy.
Maar ‘n jong man se behoefte om sy moontlke toekomstige bruid beter te leer ken sonder die lastige
inmenging van familie of vriende het soms skrikwekkende gevolge gehad. Veral as ‘n paartjie ‘n afgeleë plekkie in die natuur opgesoek het om ernstig oor die toekoms te besin. Die man kan voel sy is die enigste vissie in die see, maar sy het dalk haar oog op groter visse en wil dalk net vriende bly. Een van die twee kan dié groot besluit uitstel of verwerp en die enigste letsel is gekrenkte eer of ‘n geknakte ego. Maar as Phineas Tshitaundzi met sy kapmes op die toneel verskyn, het albei se lewens in ‘n ewigdurende nagmerrie verander.
Phineas het die mans aangerand, die vroue verkrag en die paartjie beroof. Die aanvalle was gewoonlik nie noodlottig nie, maar die ergste belediging was dat hy die vroue ná die aanval van die geroofde geld aangebied het om ‘n bus huis toe te haal. Paartjies is keer op keer in koeranberigte gewaarsku en die polisie het ‘n groot beloning vir inligting aangebied. Vergeefs.
Speurders het elke moontlike leidraad nougeset opgevolg, maar hy het hulle maande lank ontwyk. Selfs moord- en roof se manne kon hom nie opspoor nie.
Sodra almal van hom vergeet het, slaan hy weer toe en die soektog begin van voor af. Koerante en die polisie waarsku weer en bied weer belonings aan. Weer eens vergeefs.
Ná die jongste voorval, waarna hy al hoe gewelddadiger geword het, het ‘n kenner gewaarsku dat ‘n volgende aanval noodlottig kan wees. Kort daarna kom ek en ‘n fotograaf van Potchefstroom af by Uncle Charlies se padkafee verby. Hou stil om iets te eet en vat die pad terug huis toe. Die myne was destyds nog in die omgewing bedrywig tussen die plantasies. Daar was oral bospaadjies waar mynpersoneel erts of toerusting vervoer het en die manne en vroue van die suidelike voorstede mekaar beter leer ken het.
Sien ons net motorligte en ‘n ambulans by ‘n bospaadjie en dadelik dink ons Phineas het weer toegeslaan. ‘n Vragmotor het egter op ‘n draai in ‘n geparkeerde motor vasgejaag en gedeeltelik bo-op die motor tot stilstand gekom. Die verskrikte bestuurder het motoriste voorgekeer om te help om die vasgekeerde paartjie te bevry. Die vragmotor se brandstoftenk het gebreek en petrol het op die paartjie gelek. Hulle was nie erg beseer nie, maar sodra iemand naby die wrak gekom het, het hulle mense gillend gewaarsku om nie sigarette aan te steek nie.
Die brandweer het hulle uiteindelik bevry en die twee is dankbaar in ‘n ambulans daar weg saam met my Phineas-invalshoek vir ‘n berig.
Ons het darem ‘n kort beriggie oor hulle angservaring en ‘n foto gekry.
Phineas is later saam met verskeie ander geweldenaars tereggestel.