(Swart-en-wit-foto's ontvang van Peet. -- Red.)
Hulle het mekaar verbaas aangekyk maar voor een van hulle ‘n opmerking kon maak oor die laag vlieënde vliegtuig, was daar 'n geweldige slag.
“Hemel vrou, hy’t geval!”
Die volgende dag het die oggendkoerante dit bevestig:
Maar nie een van die 25 aan boord het dit oorleef nie.
Die vliegtuig, geloods deur die ervare kaptein Gordon Lipawsky, het geen noodsein uitgestuur nie.
Een van die raaiskote waarmee sommige die ramp probeer verduidelik het, was dat die maanlig se helder straal die branders plek-plek verlig en dit laat lyk het soos die landingstrook van die Oos-Londense lughawe daar naby.
Uiters onwaarskynlik dat die ervare loods vir daardie een sou val. En wat dan van die ontploffing wat die oumense gehoor het? As die vliegtuig normaalweg in die branders geland het, sou hy tog nie ontplof het nie.
‘n Bom dalk?
Mnr PA Peens, direkteur van burgerlike Lugvaart daardie jare, het net sy kop geskud toe ek hom dié vrae vra. Ek was een van verskeie joernaliste wat Oos-Londen toe is om die tragiese gebeure te dek – ek vir Dagbreek en Sondagnuus.
Die moontlikheid is ook oorweeg dat daar dalk ter elfder ure 'n tegniese probleem ontwikkel het wat die vliegtuig laat neerstort het. Kan nie uitgesluit word nie, maar onwaarskynlik, want die Viscounts was van die mees betroubare vliegtuie van die SAL.
Mnr Peens wou nie 'n raaiskoot waag nie. “Ons ondersoek die saak!” was al wat ons uit hom kon uitkry.
Maar dit was tog snaaks dat hy nie gebruik wou maak van die dienste van 'n duiker wat in Oos-Londen opgedaag het om te kom help nie. Die vloot se duikers is ook nie ingeroep nie.
Dit het van ons koerantmanne laat wonder – word hier dalk iets weggesteek? Ons is ook maar altyd sinies en agterdogtig, gee ons net 'n halwe kans.
Die volgende dag is ons toegelaat om saam uit te vaar met ‘n mynveer van die vloot. Ek het toe al 'n plan gehad dat die koerant dalk sy eie duikers moet kry en het noukeurig kruisverwysingslandmerke gememoriseer sodat ek weer die plek sou kon kry wat mnr Peens uitgewys het as die moontlike ligging van die vliegtuigwrak, gegewe die getuienis van mnr Ford en ander, skat ek.
Die leserspubliek van Suid-Afrika was aangegryp deur die ramp en het elke woord verslind wat in die koerante daaroor verskyn het. Die aankondiging in Dagbreek dat ons ‘n duiker na die plek toe wil neem, het baie belangstelling uitgelok.
Niemand het oorleef nie. Daar was bekende mense onder die 25 slagoffers onder wie prof JP Bruwer, wêreldbekende volkekundige. Ek het ook een van die slagoffers geken, lugwaardin Bertha van der Poel van Bloemfontein. Ons het in dieselfde voorstad grootgeword, ‘n straatblok van mekaar af gewoon en mekaar dikwels gesien. Sy was 22 jaar oud toe sy op 13 Maart gesterf het – dertien maande en dertien dae nadat sy lugwaardin geword het.
Die duiker wat sy dienste vir mnr Peens aangebied het – en waarvan hy toe nie gebruik wou maak nie – het aangebied om saam met my te gaan en minstens een duik uit te voer in die omgewing van die ramp.
Ons is daardie Vrydag per motor na Kayserstrand waar ons mense van die omgewing ontmoet het wat hulle eie ski-bote het wat hulle gebruik vir visvang.
Een van hulle het aangebied om my en die duiker, wie se naam ek ongelukkig vergeet het, uit te neem.
Met die landmerke wat ek gememoriseer het, was dit nie moeilik om die waarkynlike plek te kry nie. Toe ons daar anker gooi, het die boer se seun besluit dis tyd om 'n lyntjie ook nat te maak.
Toe hulle vertel dat dit so wemel van die haaie in die gebied ná die vliegtuig se val, het die duiker wat andersins 'n baie uitgaande persoonlikheid gehad het, baie stil geraak en buitengewoon lank met die duikapparaat getorring.
Juis toe vat ‘n haaitjie die visterman se aas en hy katrol hom in.
“Dis 'n kleintjie," het hy opgemerk. Julle moet die grotes sien wat hier rond is!”
Dit was genoeg vir die duiker.
“Ek dink nie dis veilig om hier te duik nie – veral nie alleen nie!” het hy aangekondig.
Ek: “Hoor hier maat, jy’s seker nie ernstig nie!”
“Doodernstig!”
“En wat dink jy gaan ek vir die koerant se lesers sê – sorry mense ons het bang geword!”
“Gee nie om wat jy skryf nie – dis jou worry!”
Ek was woedend. “Hoor hier, as jy nie wil duik nie, duik ek!”
“Jy’s welkom ou.”
Ek het nooit enige duikopleiding gehad nie, maar het baie van Jacques Costeau se verhale oor duik gelees en flieke daaroor gesien.
“Ek gaan af teen die ankertou,” het ek aangekondig en die lugsilinder begin aangespe.
Toe onthou ek dat Costeau geskryf het 'n mens moet altyd eers die lugkleppe en lugtoevoer toets voor jy duik – jou lewe kan daarvan afhang.
“Wys my hoe toets mens of als werk!”
Sy gewete het hom seker begin kwel want hy het ewe gedienstig gehelp. Nog daarmee besig, toe raak die lug op en die meter wys ook die bottel is leeg.
“Verdomp, wil jy vir my sê jy kom duik met 'n leë bottel?!”
Ek voel lus en laat glip die silinder per ongeluk teen sy kop, maar toe gaan 'n groot lig skielik aan vir my.
Dit het vandag jou lewe gered!
Wat sou gebeur het as ek halfpad af was teen die ankertou en skielik raak die suurstof op? Ek sou paniekerig geword en waarskynlik versuip het!
Hy’s verbaas toe die woede my so skielik verlaat en ek met ‘n glimlag sy verduidelking aanvaar dat die bottel waarskynlik nie heeltemal toegedraai was nie en net eenvoudig leeg gelek het.
Nou ja, dis ‘n erge antiklimaks maar as ek eerlik is, kan dit darem nog 'n stoep-storie op bladsy een wees.
En dit was ook so, maar ek het besef dit kan nie die einde wees nie en aan die einde van die storie skryf ek die koerant soek 'n professionele duikspan wat vrywillig sal saamgaan dat ons weer kan probeer.
Dinsdag (Maandae het Sondag-koerante se ouens by die huis gelê) roep die groot manne in die hoek van die Aucklandpark-restaurant my nader - Dirk Richard my redakteur en mnr Jooste en nog een of twee.
“Lekker storie van die duikery – maar wat gaan jy nou doen?”
“As ek twee of drie goeie duikers kan kry, gaan ons terug, maar wat ons eintlik nodig het, is 'n klein duikbootjie – ek hoor daar’s een in die Kaap,” vat ek vinnig die gaping.
Mnr Jooste: “Nou wat wag jy – kry die ding en loop soek die Rietbok!”
Hulle lag. Dit klink miskien snaaks, maar ek is opgewonde. Dit kan werk!
Ek dink dit was dieselfde dag dat die duikers my by die koerant gekontak het – Smittie en Kokkie en 'n Delport-ou. Ek vertel hulle van my vorige ervaring met ‘n duiker en hulle skaterlag. “Ja, jy kan baie bly wees daar was nie lug in daardie silinder nie, anders was jy nou haaikos! Niemand kan sommer net sy lyf duiker hou - en dit op so ‘n gevaarlike plek nie!”
“Hoe ookal manne, julle moet elkeen 'n ooreenkoms teken dat julle vrywillig gaan en die pers is nie verantwoordelik as julle seerkry of as iets ergers gebeur nie!”
So gesê so gemaak en die gesoute duikers het my toe allerhande goeie raad gegee. Ons moes byvoorbeeld ons eie boot kry vir ondersteuning. Dit was nie moeilik nie. Mercury Outboard in Johannesburg het vir ons gesorg vir 'n fris boot en 90pk buiteboord-enjin, sleepwa en alles.
Ek het vir Gary Haslau, 'n Kaapse bioloog wat die duikbootjie beheer het, opgespoor en met hom ooreengekom oor die prys. Dit was hoog want die duikboot moes ook natuurlik die hele pad van Kaapstad af Oos-Londen toe gebring word – padlangs.
En so het die groot avontuur vinnig voete - paddavoete, gekry.
Dit het egter nie net oor avontuur gegaan nie, ons was ook aangegryp deur die hartseer van die slagoffers se familie. Hoe kry mens rus as jy nie weet wat van jou dierbares geword het nie? Die staat se ondersoekspan het nie 'n hoopvolle plan gehad nie – hulle het net die kuslyn in die omgewing gefynkam. Ons duikbootplan het die beste kans gebied dat die geheim van die ramp dalk opgeklaar kon word en ons hele span was gedryf deur die hoop dat ons dalk kon help om ook 'n bietjie lig te werp op die tergende geheim wat die ramp omhul het.
‘n Klompie goed van die Rietbok het uitgespoel. Hier kyk ek daarna. Dit was opvallend dat sponskussings
uitgespoel het – het my laat dink dat van die slagoffers dit dalk gegryp en probeer swem het. Van die patryspoorte het ook uitgespoel.
Gary se duikboot was 'n twee-sitplek vaartuig. Die loods sit voor en die passasier agter. Die tuig het soekligte en batterykrag en suurstof om tot drie uur lank in die diepsee te bly. Hy kon gemaklik op vyftig meter diepte opereer en dit is dieper as wat die see oor die algemeen is in die gebied waar die Rietbok waarskynlik geval het.
Gary en sy duikboot het Donderdagaand in Oos-Londen aangekom.
Ek het dadelik van die man gehou. Daar is beslis gevaar verbonde aan sy werkery in die diepsee, en hy is nie 'n kansvatter nie, daarvoor het hy al te dikwels die dood in die oë gekyk.
“Wat’s die grootste gevaar van die duikboot?” wou ek weet.
“Dat die boot te vinnig daal en 'n rots tref met die afgaan. Ons kan nie sien wat is onder ons as ons afsak nie. Ons kan ook op die bodem meegesleur word deur 'n sterk gety soos hier by Oos-Londen aanwesig is!”
“Probeer jy my nou bangmaak, Gary? Jy hoef nie te probeer nie, ek’s klaar bang.”
Hy lag.
“Nee, maar ongelukkig het dit al gebeur dat die tuig so in ‘n rotsspleet vasgevang word. Dan moet ons die batterymotortjie in trurat sit en hoop ons kom uit!”
Ons voorgenome duikboot-soektog was teen dié tyd groot nuus in Suid-Afrika – en nie almal het ons die beste toegewens nie.
‘n Plaaslike Engelstalige koerant in Oos-Londen het sy lesers opgesweep teen ons deur te skryf ons behoort ons te skaam – hierdie is net sensasiesoek en niks anders nie. Hoe dink ons voel die slagoffers se familie hieroor? Laat die dooies met rus.
Ek het gevoel ons sal iets moet doen om belangrike mense van die stad aan ons kant te kry en het die afdelingshoof van die Spoorweë, mnr Oelofssen, gevra of hy nie wil by wees as ons die Vrydag die duikboot toets in die hawe nie – hy kan saam met Gary afgaan!
Hy het ingewillig. Sy vrou het angstig op die kaai gewag toe die duikbootjie met haar man onder die donker water van die hawe verdwyn. Gelukkig is daar nie rotse nie!
Saterdag teen middagete se kant was my spertyd . Teen eenuur op die laatste moes ek die storie van ons eerste probeerslag met die duikboot by die pers in Aucklandpark hê. Dit sou moeilik wees, want dit sou drie uur neem net om die duikbootjie met 'n sterk vissersboot te sleep tot by die plek waar ons moes duik.
Ek het met die boere wat saam was toe ek amper my eerste en laaste duik uitgevoer het, gereël dat hulle die see sou dophou en teen tienuur moes hulle met 'n bootjie uitvaar om my te kom haal – dan kan ek die storie van hulle huise af deurbel.
Dit was maar een van die probleme om te oorkom – ‘n ander, groter een, was dat die hawe-owerheid skielik geweier het dat ons die hawegeriewe gebruik – ons moet eers toetstemming “van bo” af kry.
Hierdie enetjie is opgelos met 'n oproep na Dirk Richard en van hom na mnr Jooste. Hy bel toe oom Ben (Schoeman - minister van spoorweë en hawens!) en so is daai een opgelos.
Ek skat dit was waarom mnr Oelofssen ewe dapper ingewillig het om daar te wees vir die toetsrit in die hawe!
Saterdag dou-voor-dag was ons by die hawe – my duikers ook. Dit was 'n groot oomblik toe ons uit die hawe uitvaar en Oos-Londen se geboue begin klein word op die gesigseinder. Die duibootjie was met 'n dik tou aan ons sleepboot verbind en soos ons die vermeende ramptoneel genader het, het ons opgewondenheid toegeneem.
By die rampgebied aangekom, het die duikers ‘n noodsaaklike rol vervul om die rollende duikboot met sy oop luike in posisie te hou dat ons kon inklim.
Gary was eerste in om alles te toets en na 'n ruk het hy ons die slegte nuus gegee – die soekligte werk nie!
Aggenee!
“Ons kan afgaan maar sal moet staatmaak op natuurlike lig en dit hang nou af hoe goed die sig gaan wees.
Dis natuurlik baie gevaarliker om sonder ligte af te gaan. Wil jy voortgaan?” wou hy van my weet.
“Gary, ons het al 'n fortuin bestee – ek sal bid en jy doen jou bes – kom ons laat waai!”
Ek het ingeklim. Baie beknopte ruimte. Ek sak in daardie seilbedekte sponssitplek weg en my bene steek half by Gary se sitplek verby. Die deursigtige koepel klap toe. Daar is borrelgeluide soos water in die tenks inspoel sodat ons gewig kan kry om te sak.
Ek sien vir oulaas die son en dan bedek die groenbruin water my uitsig. Dit word vinnig skemer. Ek bid onbeskaamd: “Ag liewe Heer, help ons veilig hierdeur asseblief”!
Toe ons so afsak, wonder ek of ek die son weer gaan sien, die uitgestrekte Vrystaatse vlaktes, die Kaapse berge, my mense. En ek wonder wat besiel koerantmanne om dinge soos hierdie aan te pak.
Ons sak en sak. Ek sien voor my geestesoog die wrak van die Rietbok, vasgekeerde lyke, oopgesperde oë van drenkelinge ... en ril.
Skeilik tref die romp van ons duikbootjie die seebodem met ‘n slag. Onder die water vermenigvuldig die klank – dié dat duikbootjagters met hulle sensitiewe opspoorapparaat ‘n teelepel kan hoor val van 'n wegkruip-duikboot se tafel af.
Die sterk vloei van die water sleur ons mee. Gary skakel die skroef aan en beheer die tuig sodat ons van die gevaarlike bodem met sy rotse en splete kan opstyg.
Dis moeilik om afstand te skat in die skemerdonker hier by die bodem van die see, maar ek dink die sig is hoogstens vyf meter.
Hier iewers is die wrak van die Viscount, maar ons kanse is minder as een uit ‘n miljoen om hom te vind – veral sonder soekligte, dink ek.
Gary kyk na ‘n ruk om en beduie ons moet opgaan. Ek gee hom ‘n vuis (klammerig van binne) en ‘n duim wat opwaarts wys.
Sal die pompe werk om die water uit te pomp sodat ons kan opstyg? Die borrelry en gesuis klink soos musiek. Uiteindelik is ons bo. Ons boot is 'n hele ent weg. Gary vaar soontoe.
Heerlike bevryding om uit die beklemmende noutes van die duikbootjie te kom, maar nou moet ek nog die storie by Dagbreek kry.
Daar is geen teken van die manne wat my moes kom oplaai om my by ‘n telefoon te kry nie – die era van selfone is nog net 'n wetenskapsfiksie-droom. Was dit toe al?
Ek oorweeg om 'n reddingsbaadjie aan te trek en uit te swem kus toe – dis omtrent twee kilometer. Maar wat van die stroom? Koerantmanne weet almal jy kan die beste storie in die wêreld hê, maar as jy laat is en hy’s nie in die koerant nie, help dit niks. Syn dit so, maar nee, dis ‘n te vet kans om te waag. Ek is ook nie ‘n wafferse swemmer nie. Nee, ons moet maar net teen topspoed terugvaar Oos-Londen toe.
Die motore dreun rustig, party bemanningslede dut in, maar nie ek nie - oor en oor dink ek wat ek om te “skryf” – die storie moet oor die telefoon gedikteer word.
Ons kom 'n kwartier ná die spertyd by die hawe aan. Gelukkig staan Gary se Landy daar en hy jaag met my hotel toe van waar ek kan bel.
Johan Vorster |
....
Naskrif 1: Ons sou die soekligte laat regmaak en die volgende week die soektog hervat, maar daardie naweek sak daar toe meer as 150mm reën uit oor Oos-Londen en omstreke en die Buffelsrivier kom af, mense verdrink, paaie verspoel. Dit sou minstens ‘n maand neem voor die sigbaarheid in die water weer genoeg sou verbeter om ‘n sinvolle soektog moontlik te maak. So lank kon Gary nie wag nie. Die duikbootjie was nodig in die Kaap.
En laat ek dit nou maar erken – ek was heimlik bly oor daardie reën!
Naskrif 2: Wonder hoekom kan die Rietbok nie in ons moderne tyd opgespoor word nie? As hulle die Titanic kon kry? En die Helderberg?
Die finale bevindings van die ondersoek na die ramp lui:
(a) failure of the structure or of any of the control surfaces or control actuating mechanisms;
(b) multiple engine failure
(c) electrical failure;
(d) flight instrument failure;
(e) explosion;
(f) fire;
(g) turbulence;
(h) poor visibility due to the bad weather on to the darkness;
(i) altimeter error or misreading;
(j) disorientation;
(k) flying in the pre-approach phase at too low an altitude;
(1) collision with some object in the air, such as a bird,
(m) sabotage affecting the airworthiness of the aircraft;
(n) incapacitation (including loss of vision) of both pilots by noxious gas or explosion.
However, on the evidence the Board cannot exclude as the originating cause of the crash a heart attack suffered by the Captain in the air, with ensuing loss of control of the aircraft, and with the First Officer being unable in the time available to regain sufficient control to prevent contact with the sea.