Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

3.9.13

Die geïsoleerde gaan Spele toe!

JOHAN VAN WYK skryf: Doer in 1984, met Suid-Afrika in die middel van amperse totale sportisolasie, roep Wimpie de Klerk my eendag na sy Rapport-redakteurskantoor.

"Wil jy Olimpiese Spele in Los Angeles toe gaan?" sê-vra hy. Toe ek my asem terugkry, sê ek vir hom NATUURLIK, maar weet hy dat 'n SA persman by 'n Spele geen akkreditasie gaan kry nie; nie naby 'n
persbank met sy TV-skerm by elke sitplek toegelaat sal word nie; nie uitslae gaan kry nie; geen onderhoude kan bywoon nie ¬ - en tussen die 90 000 toeskouers sal moet sit en sy werk probeer doen?

Opening van die Los Angeles
Olimpiese Spele.
"Dit maak nie saak nie," antwoord hy. "Al stuur jy nie een enkele storie nie, ons stuur jou om 'n Spele teondervind sodat dit jou en die koerant op die lange duur sal help."

(Natuurlik het Suid-Afrika toe g'n deelnemende span daar gehad nie, maar bloot toevallig was "onse" Zola Budd in Britse vere by die Spele destyds wêreldnuus).

Ek is toe saam met 'n groep Springbok-atlete soontoe as "toeskouer". Met g'n laptop nie, g'n selfoon nie. Niks. So kaal soos 'n geïsoleerde maar kan wees.

In die aanloop na Zola se groot wedloop teen die Yanks se liefling, Mary Decker, het ek maar so nou en dan 'n storietjie deurgebel, gewoonlik met 'n aanhaling of twee van 'n SA atleet wie se beste tye/afstande/hoogtes by die huis soms naby of selfs beter as die LA-wenprestasies was -- toe kon ek nog spog hoe goed dié en dáái SA atleet dan nou daar sou gedoen het, en niemand kon met my stry nie! (Anders as toe hulle later wél kans by Speles gekry en toe meestal onder die druk gevou het).

Mary Decker val en Zola Budd gaan voort.
Ewenwel, die Vrydagaand is dit toe Zola en Mary. En die twee hardloop in mekaar vas en Mary val soos 'n os. En Zola word vir die volgende klompie rondtes asof uit een keel geboe deur die spul Yanks.

Van die stadion tot by ons hotel in Anaheim, 'n LA-voorstad, ry ons toe sowat vier uur per bus deur die massa-verkeer. Toe ek twaalfuur die nag in my kamer instap, lui die foon. Nuusredakteur Gielie de Kock: "Laat waai met jou stories oor Zola en Mary. Ons maak die hele Rapport-voorblad vir jou oop." Sien, dis toe nege-uur die Saterdagoggend in Johannesburg.

Ek hol toe maar in die hotelgange rond, soek aanhalings by die toeskouer-Bokke en kyk blitsig Yank-TV, wat toe die episode uitsaai met aanhalings asof dit Armageddon is.

So teen halftwee LA-tyd bel ek toe Johannesburg toe. En wie sal my storietjie afneem? Babs. Liewe Babs Taljaard, wat toe al met haar gehoor gesukkel het ¬- en nog erger gesukkel het om te hoor wat ek sê danksy Chris Botes, wat saam met my in 'n kamer ingedruk is en snork vir Afrika ... só erg snork dat Babs derduisende myle verder dit hoor en vra of daar 'n bom afgegaan het in LA!

Ek jok nie - die afnemery met Babs het seker goed tot sesuur die oggend LA-tyd aangegaan. Ek het toe nog nie 'n oog toegemaak nie - en op daai oomblik moes ons al weer gaan ontbyt eet, want die bus stadion toe vertrek so sewe-uur om so tienuur by die stadion uit te kom.

Wel, Rapport hét toe daai Sondag 'n hele voorblad met foto's en aanhalings oor alles in LA gehad. Selfs Zola-aanhalings en Mary-aanhalings. My eerste Spele was 'n hengse sukses, danksy Yank-TV, die goeie ou telefoon en liewe, hardhorende Babs.