Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

9.4.13

Die lewe en tye van ’n vroeggestorwe joernalistieke uitskieter

WILLIE BUYS skryf oor sy broer, Tom, wat in 1974 aan 'n uiters rare siekte dood is.

Hulle was toe altwee nuusredakteurs – Tom van Die Vaderland en Willie van Die Transvaler.

“♪ For everything there is a season, a time to be born, a time to die … .♪”

Willie Buys
Elke keer as ek die popliedjie deur The Byrds hoor wat in die jare sestig ‘n wegholverkoper was, is dit asof my hele gedagtewêreld gevul word deur die beeld van Thomas Alexander Buys wat so tragies van ons as uitgebreide Buys-gesin op die bloedjong ouderdom van 36 jaar weggeneem is. Hoe lui die ander gesegde nou weer (wat ook hier van toepassing is? : "Only the good die young.")

Vergewe my Engels, maar ongelukkig leen ons relatief jong Afrikaanse taal in sekere omstandighede hom nie tot sulke trefseker frases om sekere dinge en gebeure te beskryf nie. En noem my maar lui, as jy wil, maar hoofsaak is: dit verwoord die beste hoe ek voel oor my oorlede broer, Tom. Hy was ook ‘n geliefde en gewilde Perskoriaan wat in die fleur van sy lewe deur ‘n vreemde siekte uit ons lewens geskeur is – voordat hy sy inherente potensiaal om groot hoogtes in sy loopbaan as joernalis/skrywer kon verwesentlik.

Ek wil my amper verbeel dat die Byrds se weergawe van “Turn! Turn! Turn!” gegrond was op ‘n Bybelstrofe wat ook as teksvers vir Tom se begrafnisbrief gekies is. (Die liriek van die lied is byna woordeliks uit Prediker 3 in die “King James Version” van die Bybel geneem. – Red.)

Die siekte? Daardie tyd was dit nog ‘n baie rare siekte wat slegs sowat vyf persent van die wêreldbevolking per annum geëis het. In leketaal het dit behels dat ‘n onbekende iets die suurstoftoevloei na sy brein vernietig het. Dit het onder meer daartoe gelei dat sy brein soveel uitgeswel het dat dit soos ‘n styfpassende ballon vasgekerker was in sy skedel. Die volgende skakel in dié pynketting was ‘n aftakelende, energiestropende moegheid, gepaard met verblindende hoofpyne wat so heftig was dat hy naar geword het daarvan. Later het die opvolgende braking so fel in intensiteit geword dat van die are in sy oë gebars het as gevolg die drukking op die brein en die druk weens die omgekeerde peristaltiese bewegings van die vomering.

Die kumulatiewe gevolge van dié jarelange aftakeling het daartoe gelei dat hy feitlik ‘n wandelende geraamte geword het, uitgeteer tot ‘n skelet wat ook geestelik geteister is deur die onbegrip van wat besig was om met hom te gebeur. In so ‘n mate dat hy op ‘n laagtepunt smekend aan ons moeder gevra het: "”Hoekom ek? Wat het ek gedoen om dit verdien?” Soos sy toestand versleg het, het hy gehallusineer en tussen bewustelikheid en onrealiteit gefluktueer.

So het die pasiënt met wie hy die kamer gedeel het, met ‘n meewarige, simpatieke glimlag aan ons vertel hoe bedrywig Tom deur die nag was, dat hy fiktiewe onderhoude met mense gevoer het en dan weer hardop geworstel het met die hoe en die waar van dit alles. Hy (Tom) het naderhand ook hardop gewonder of hy nie besig was om kranksinnig te raak nie.

Die verpleegpersoneel moes hom later vasbind aan sy bed se reëlings want hy wou met alle geweld wegvlug van die raaisel van sy toestand. Die vasbindery was tegelyk voorkomend, maar ook teenproduktief want dit het sy angsaanvalle laat verdiep. So erg dat hy my per geleentheid gesmeek het om hom tog net los te maak! Hoe hanteer jy dit?

Vir my was dit alles een van die grootste traumas van my lewe toe hy al rukkend en bewend in ‘n diep koma gegaan en vanuit daardie stikdonkerte onbewustelik uit hierdie geteisterde lewe gegly het. Hierdie is my perspektief, geskryf uit die oogpunt van een van vyf broers wat na Tom opgesien het as vaderfiguur, voorloper, mentor, saambindende figuur en (ongewilde?) uitvoerder van dissiplinêre stappe as die woelige energie van vier jonger sibbe buite die perke van ordelikheid beweeg het.

Annemien Buys
Tom Buys
Sy gesin? Kom ons begin by sy vrou, Annemien, met wie hy sedert skooltyd ‘n innige verhouding gehad het. Sy was verpletter deur sy dood en het nooit weer getrou nie. Aan my het sy gesê sy het haar eenkeer-in-‘n-leeftyd-lewensmaat gehad. Sy was tevrede om met Tom se nalatenskap te bly leef en hul drie kinders na die beste van haar vermoë na volwassenheid te begelei. Een van Tom se mantras wat sy altyd aan die kinders voorgehou, veral as dit swaar gegaan het, was: Die Here sal sorg. Tom was diep gelowig en daardie eienskap het Annemien van kindsbeen af diep in die jong kinders se gemoedere geanker.

Van die top-breinspesialiste in die land het tot die uiterste geveg om Tom se lewe te red binne die grense van die beperkte kennis wat daar detyds oor sy toestand bestaan het. Wat vir ons as familie tot vandag toe nog onverklaarbaar bly, is die besluit om hom in ‘n inrigting te laat opneem waar hy met elektriese skokke gebombardeer is. Vergeefs, want dit het sy hallusinasies net laat vererger en hy het soms soos ‘n prewelende gees deur die donker gange van sy huis geloop op soek na verlossing.

Só groot was die desperaatheid egter dat daar oorgegaan is na die toepassing van skaars bewese tegnieke op hom - natuurlik ter wille van die voortdurende mediese navorsing ook. Soos Tom se toestand versleg het, het sy brein die vermoë verloor om die opbouende vog tussen sy breinvlies en brein weg te pomp – wat natuurlik die drukking om en op die brein tot kritieke afmetings vermeerder het.

‘n Meganiese instrument wat soos ‘n pompie werk, is aan die kant van sy brein aangebring. Daaraan verbind was ‘n geleidingspypie wat deur sy hart na sy maag geloop het. Die bedoeling was dat die opbouende vog deur die pypie via die hart na die maag weggelei sou word, waar die normale liggaamsfunksies sou oorneem om te sorg dat die vloeistof weggewerk sou word.

Tom was teen dié tyd egter so verswak en afgetakel dat daar slegs ‘n ylende, rukkende skelet op die sterwensbed gelê het wat geen weerstand meer teen die dood kon bied nie. In 1974 is hy van sy lyding verlos. Daarna het ‘n reuse-begrafnis gevolg met ‘n stoet motors wat kilometers ver gestrek het. Die room van Perskor se joernaliste en ook ander hoogwaardigheidsbekleërs van die maatskappy was onder die honderde roubeklaers.

• Hierdie beskrywing van my is in leketaal, soos ek dit destyds verstaan het, en sal geensins die toets van die mediese wetenskap kan slaag nie.