Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.4.23

‘Zijn naam is Kleijn, zijn daden bennen groot’

Lang Gerhard Kleijn
HOPELIK sal die Nederlandse liriekskrywer van “De zilverenvloot” bostaande stukkie vryheid met sy woordkuns vergun as ons na Gerhard Kleijn verwys. 

HARALD PAKENDORF, ’n gewese redakteur van Oggendblad skryf: Gerhard Kleijn is ʼn voorbeeld van iemand wie se naam nie by hom gepas het nie. Nie in statuur nie, maar ook nie as verslaggewer nie. Hy het sy leerjongenskap by Oggendblad in die Sewentigs in Pretoria deurloop. 

Van die begin af was dit duidelik dat hy in ʼn redaksiekantoor tuis is. Nie te lank nie toe het ander weivelde geroep en was hy opeenvolgens redakteur van spesialis- en plaaslike koerante.

Harald Pakendorf
In sy laaste jare net deur Facebook (Aletta s’n) geweet hoe dit met hom gaan. Sy afsterwe het ons heeltemal onkant gevang en laat ʼn leegte. 

DRIES SONNEKUS, ’n gewese redakteur van Die Kouter, skryf: IN my geval is dit deesdae net ʼn kort treetjie en dan is ek daar – deel van daardie groot ritueel wat ek eenkeer op Korfu gesien het. Ons groot vriend – paradoksaal Gerhard Kleyn – het nou reeds daardie tree gegee en so met sy lang bene uit ons lewens getree. Ons sal hom mis.   

Ek kan lang stories oor die lang man vertel; slim stories, stoute stories (veral), en lekker taalstories. Oor een taalstorie het ons saamgestem – dat ons die taal so skryf dat ons lesers dit met een oogopslag duidelik verstaan. 

Die Kouter, met Gerhard as nuusredakteur en sy uiters skerp sin vir nuuswaardigheid en tegelyk onverbeterlike en stoute humorsin, het veral bygedra om van Die Kouter ʼn unieke ervaring te maak. Ek is oortuig daarvan dat dit nie net vir ons as redaksielede een lang taak (en taal) van vreugde en plesier was nie maar ook vir ons lesers en al die medewerkers. 

Die Kouter was weliswaar ʼn strooikoerant – ʼn gratis koerant wat danksy sy redaksielede soos Gerhard, wyle (stoute) Louise Laubscher, wyle Louis Roux (wat voor die verligte tye waarin ons nou leef, reeds sy ou skyfie droomtwakkies tot my as redakteur se ontnugtering neffens sy voordeur gekweek het. 

Net oor Louise en minister Hendrik Schoeman (ook ʼn toegewyde pyproker) is daar lang stories te vertel. Self was ek by die 50 jaar ʼn toegewyde pyproker (Sturk van Groentemarkplein se regte- egte Spesiale Rhodesian Nutty). Wat ʼn vreugde was dit nie om saam met die Sturk van die dag ʼn regte-egte handgedraaide Havana-sigaar – krom en skeef – te sit en rook oor ʼn beker egte Mississippi-koffie nie. Maar dit is ʼn storie vir ʼn ander dag. 

Ek wil nie eens dink wat die lang man daarvan sou gesê het nie, maar iets soos “’n mens betaal maar vir die plesiertjies van die lewe” sou ʼn lakoniese en waarskynlik korrekte antwoord gewees het“. Ja, die lang man het ook ʼn lang, skerp, stoute en op-die-man-af sin vir humor gehad. 

Wie onthou nog die episode met Jaap Theron se baie spesiale parlementêre wyn wat danksy Koos Doep en Gerhard en Etienne Kriel se vernuf een nagskof se droë kele moes streel sodat Oggendblad die volgende oggend op straat kon wees. 

Ek dink egter ek is nou ver verby die oorspronklike versoek van Piet se kant danksy die genade wat ek nog ervaar. Daardie genade is egter ʼn storie vir ʼn ander dag wat ek nie self sal (kan) skryf nie. Dankie egter vir die geleentheid wat ek hier gehad het. Dit het my groot vreugde verskaf. Intussen: hartlike groete en opregte dank aan die reünie-reëlingskomitee. Ons sien uit na ʼn aangename kuierkans. 

Bosman Olivier
BOSMAN OLIVIER, ʼn gewese kollega by Oggendblad, skryf: EK het Gerhard nie eintlik goed geken en baie met hom te doen gekry na ons paaie by Oggendblad geskei het in 1978 nie. Het maar kort-kort deur die wingerd gehoor van sy manewales en prestasies. 

Ons het mekaar 'n paar keer gesien by begrafnisse van voormalige kollegas soos Hoepel Scheepers en Etienne Kriel. Ek sal die groot man immer onthou as ware nuushond met ʼn ruim skoot drukkersink in sy are, soos sy latere loopbaan getuig met die publikasie van die Bronnie. 

Hy het waarlik die pad gevolg wat baie van ons moes doen en dit is om jou eie potjie te krap en self werk te skep. Dit getuig vir my van ʼn mens wat geweet het wat hy wou hê en dit vurig nagejaag het. Ek glo dit was sy resep vir die sukses wat hy in sy lewe behaal het. Ons gedagte is by Angie en die res van die familie. Julle was gelukkig om die pad saam met Ou Gerhard te gestap het. 

Piet  Ebersöhn
PIET EBERSOHN skryf: MET Gerhard by Oggendblad en ek by Die Transvaler het ons Perskor-loopbane parallel geloop en nooit juis ontmoet nie (behalwe met ʼn potjiekoswedstryd van Kellerprinz). 

Ek het hom eers goed leer ken en waardeer toe hy by die landboukoerant Die Kouter en ek skakelbeampte/redakteur by die Suid-Afrikaanse Landbou-unie (SALU) was. Pretmaker wat hy was, was dit duidelik dat sy verslagtaak sy erns was en dit was nie net ʼn plesier nie, maar ook ʼn voorreg om sy pad te kruis. 

Wat my altyd van Gerhard sal bybly is sy kalmte in ʼn beroep waar gejaagdheid die reël is. Sy eiesoortige humorsin, daardie rustige kwinkslae waarmee hy gewoonlik die laaste woord ingekry het. 

Duidelikste van alles onthou ek seker die enkele keer wat ek ervaar het dat hy nie die laaste woord kon spreek nie. Dit was by ʼn kongres van die SALU se koöperatiewe raad, op Oudtshoorn as ek reg onthou. Op daardie tydstip was daar geen gestelde aftree-ouderdom vir koöperasiedirekteure nie. 

Die mening het ontstaan dat te veel bejaarde direkteure vanweë die gemeenskap se respek vir hulle herkies is in ʼn milieu waar hulle nie werklik toegerus was om met die snel ingewikkelder wordende sake-omgewing tred te hou nie. 

Daar is voorgestel dat direkteure op ʼn bepaalde ouderdom verplig moes word om af te tree.

Een van die ooms wat in die slag sou bly, was besig om te langdradig die voorstel teen te staan toe die voorsitter, agter hom, hom vermaan het om tot ʼn punt te kom. 

Of die oom se gehoorapparaat hom parte gespeel het, of wat dit was, weet ek nie. In elk geval, hy besluit toe dis Gerhard, heel voor in die persbank, wat vir die opmerking verantwoordelik was – en snou hom ongenadiglik toe. 

Dis die enkele keer dat ek Gerhard stomgeslaan sien terugstaar het.