HANLIE VORNBERG skryf: TOE ek destyds, twee-weekliks vir Rooi Rose my rubriek, Doodluiters, geskryf het, het Martie Snyman my ʼn vrye hand gegee en kon ek meestal self kies waaroor ek wou berig. Net soms het sy van haar kant af ʼn voorstel vir ʼn moontlike tema gemaak.
Op ʼn dag het sy my na haar kantoor toe geroep en gesê: “Jy kom mos van die Kaap af, so skryf vir ons volgende keer iets oor die see.” Ons het groot respek vir Martie Snyman gehad. Was selfs ʼn fraksie bang vir haar. As sy met daardie blink olyfswart oë van haar vir jou gekyk het, het jy mooi geluister en reg getrap.