KARIN PRETORIUS skryf: In Maart 1971 skryf redakteur dr Carl Nöffke, alias Sarel Sekondant, in sy rubriek Op ‘n Punt van (Wan)orde op die hoofblad van Die Transvaler, van twee van sy vroulike redaksielede wat albei in die huwelik met regspersone gaan tree.
Dr Nöffke verwys eerstens na die ‘blonde blou-oog hooggeregshof verslaggeefster, die vyfvoet-en-‘n-kwart-duim’ Marita Coetzee wat met asistent-landdros Karel Landsberg van Koster gaan trou. Hy skryf dat hulle mekaar ‘n paar jaar vantevore op die Puk ontmoet het en dat Marita in Julie mev Landsberg word.