THIJS NEL, voormalige kunsredakteur van Die Vaderland en befaamde kunstenaar, is Saterdagoggend in die versorgingseenheid van ‘n aftreeoord in Oudtshoorn oorlede, het Paul Kruger, ‘n goeie vriend en kollega van destydse laat weet. Hy was 76.
Thijs wat alleen gewoon het, het sowat ses weke gelede siek geword. Vriende wat na hom omgesien het, het hom gehelp om na ‘n aftreeoord te verhuis. Voor dit was hy nog bedrywig met keramiekwerk en het ‘n opdrag vir ‘n fontein vir iemand in Fancourt, George, voltooi. Hy het veral naam gemaak met sy skilderye en was ook skrywer en digter.