Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

21.9.16

Nuwe naam vir Perskor-gebou maak nie sin nie

PIET EBERSÖHN skryf: Dis nou seker nie wat die Universiteit van Johannesburg wil verneem nie, maar die belaglike “hernoeming” van die ou Perskorgebou laat my sommer in my pap stik.

As hulle soveel in die geskiedenis van die gebou belanggestel het, sou hulle geweet het dat Willem de Klerk, Dirk Richard en Harald Pakendorf UIT DIE GEBOU UIT voorvegters vir die huidige bedeling was. Dis geen geheim nie en is wyd gepubliseer.

Willem de Klerk
Dirk Richard
Die Q/K-hernoeming (Klik HIER) is nie net verwronge nie, maar `n flagrante miskenning van De Klerk, Richard en Pakendorf se rol en `n klap in hul gesigte.

De Klerk was selfs `n gesiene professor aan dieselfde universiteit, wat voor die hernoeming as die RAU bekend was.

`n “Hernoemingsproses” moet darem ook sinvol wees om geloofwaardig te wees – iets wat ooglopend nie in Suid-Afrika tel nie.
Harald Pakendorf

Nietemin, dis UJ se gebou en as hy die naamgewing wil benut om sy onkunde/naïiwiteit/kruiperigheid te adverteer, is dit sy goeie reg.

Terloops, die gebou is gewis omstreeks Augustus 1976 betrek (ek was in Owamboland en het die trek misgeloop), en ek dink Hayne en Gibson was aanvanklik op `n deel van die perseel gevestig. Sover ek weet, het Dagbreek H&G gekoop en was dit baie jare in die Pers se besit voor die nuwe gebou daar gevestig is.


Bo: Percy Qoboza, voormalige redakteur van The World, en 
Aggrey Klaaste, voormalige redakteur van Sowetan 
na wie die Q/K Building vernoem is.