Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

5.9.16

Terreur dwing Perskor tot koerierdiens

JAPIE BOSCH skryf: Maureen (Heyl) Swart se storie oor Hoe het ons dit oorleef? het my teruggevoer na ‘n storie van Karin Pretorius in K’rant ‘n tyd gelede. Daarin vertel sy van die “beslommernis om films vanuit Rhodesië te versend”. Sy het verduidelik dat dit “die prosedure was om iemand by die Salisbury-lughawe op ‘n vlug na Johannesburg te gaan teiken wat bereid was om jou rolletjies film saam te neem en te oorhandig aan iemand van die koerant wat homself by die Lughawe Jan Smuts sou identifiseer”. LEES HIER.

Dié metode was nie net ‘n beslommernis nie, dit was ‘n onding wat dikwels groot verleentheid by Die Vaderland (en miskien ander Perskor-koerante) se verteenwoordigers in buitekantore veroorsaak het.

Karin Pretorius
In die 1970’s (en miskien al voor dit) was dié metode algemene gebruik by minstens Die Vaderland.

Vreemdeling-passasiers is deur ons verteenwoordigers by lughawens in byvoorbeeld Kaapstad en Port Elizabeth voorgekeer en gevra om ‘n pakkie met ‘n rolletjie film of twee saam te neem en by ‘n afgespreekte toonbank (soos navrae of ‘n redery of  'n eetplek) by die Lughawe Jan Smuts te los. Dit het dikwels tot erge afjakke teenoor ons buitekantoorverteenwoordigers gelei. As ‘n passasier geweier het, is die volgende een voorgekeer en gevra om bode te speel.

Berigte kon deurgebel word, maar voorgaande was destyds die vinnigste metode om film van ver plekke in Johannesburg te kry.

Wie dié plan bedink het en hoe lank dit in werking was, weet ek nie. Een ding is seker: g’n mens sal vandag aan so ‘n proses deelneem nie.

Klaarblyklik was daar tóé meer vertroue tussen mense as vandag, want dit het nogal gewerk. Ons destydse Oos-Randse verteenwoordiger, Nic Oosthuizen, en junior verslaggewers moes dikwels die pakkies by die betrokke toonbanke gaan haal en na ons kantoor in Aucklandpark en later Doornfontein bring. Nic het gewoonlik nie beswaar gehad om die pakkies te gaan haal nie, want hy kon eis vir elke kilometer wat hy gery het. Met ‘n kroos van ses of sewe kinders was dit elke keer ‘n welkome meevaller.

Maar dit was ook die dae van terreur in Suid-Afrika. Bomvrees was op almal se lippe. As ‘n mens ‘n afdelingswinkel binnegegaan het, is jy deurgesoek. Vroue moes hul handsakke oopmaak en wys. Enige vreemde pakkie en tas was verdag.

Die onvermydelike het gebeur. Vreemdelinge se teenstand om ‘n pakkie van ons verteenwoordigers te aanvaar en af lewer, het groter geword. Reisigers wou nie eens meer na sulke versoeke luister nie. Mense was bang dat die pakkies geplante bomme kon bevat. Gevolglik het films nie meer betyds opgedaag nie.

Soggens, nadat die eerste uitgawe om 08:00 (let wel) gesak het, was daar ‘n bespreking in redakteur Dirk Richard se kantoor. Al die redakteurs (sport, vroue, TV, finansies, kuns, nuus) en hoofredaksielede het saam vergader om te beplan vir die volgende dag. Ek was die nuusredakteur. Een oggend (so 1977/78) het ek van ‘n goeie storie vertel wat ons van ons buitekantoor in Kaapstad ontvang het, maar dat ons vir die foto’s wag, wat later die dag per koerier afgelewer sou word.

‘n Hoofredaksielid (ek verswyg liefs sy naam al is hy nie meer met ons nie) het amper my kop afgebyt. Hy het laat waai met “hoekom daai koste aangaan? Jy weet tog dat die reëling is dat buitekantore iemand by die lughawe moet vra om dit saam te bring.”

Namens ons buitekantore het ek standpunt ingeneem.

“Vreemdelinge is nie meer instemmig tot dié gunste nie en ons verteenwoordigers se gesigte word rooi van verleentheid as mense hulle afjak. Dis tyd dat die koerant vir ‘n koerierdiens betaal as ons films betyds wil hê,” het ek my voet neergesit. My teenstander het oor koste en besparings gepraat en weer verduidelik dat die buitekantore hulle “werk” moet doen.

Net toe ek voel ek verloor, kyk Dirk Richard na hom, wys na my en sê:  “Ek stem met hom saam”.

Dit was die begin van die einde van passasiers voorkeer op lughawens.