Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

31.5.16

SKRYF … siel-salf vir die treur

JASPER SCHELLINGERHOUT (voormalige hoofsub by Die Vaderland en daarna dominee van die Evangelies Gereformeerde Kerk) skryf: Flenters van die Ewigheid, die boek van KOOS BOTHA oor die verlies van sy kosbare kinders (berig HIER), het my laat teruggryp na hoe ek ook deur te skryf, doodsmart draagliker help maak het. Nie dat ek enigsins meen my verlies naby gekom het by wat kollega Koos beleef het nie. Dalk beteken die onderstaande iets vir die treuendes van oudkollegas Piet Roos, Hans Lombard en al die ander. (Hierby sluit ons in Danie Malan, Mack van der Walt en almal wat op die Vergeet-nie-lys is - Red)

As iemand plotseling nie meer is nie en as die eensbestaan verruil is vir lê onder ‘n stukkie geheuwelde grond, in ‘n askissie of in die donker van ‘n skaduwee wat nie meer val nie .

Wel, dan is daar by almal ‘n soeke na die verwerking daarvan en om weer koers te kry op ‘n alleenpad. Daar is maniere van verwerk: om oor-en-oor oor die oorledene/s te praat; ontvlugting te soek uit die bekende milieu; om beraders jou klankbord te maak; selfs die keuse van selfbejammering en om te broei op jou bitter nessie, esm.

Vir diegene wat egter die spesiale krag en emosie van woorde ken en dit kan staanmaak in sinne wat jou seer laat uitkom, is daar seker min beter sielsgenesing en -salf as juis dít. Dit help om vrede te vind oor daardie iemand wat weier om ‘n niemand te word ná die dood.

Die wonder van skryf, glo ek, is baie spesiale terapie. Ek kan my so bietjie vereenselwig met die gedagte dat rousmart tot iets kan lei soos die baar van ‘n boek deur doodspyn heen vir ‘n man soos Koos Botha.

Ek het ma Rina [1919 –1996] skielik vlak voor Kersdag verloor. Ek wil nie té sentimenteel daaroor wees nie, maar dit was ‘n seer seer. Diep en erg. Rina Schellingerhout was die koraal-soort vrou van hoofstuk 31; die soort wat Salomo se Spreuke help verryk en mooi gemaak het. Sy was spesiaal vir my en baie na aan my hart. ‘n Stillerige mens wat deur wie sy ís en haar dade duidelik gepraat het. Die verwerk daarvan was ‘n berg wat ek moes oor.

Erger is dit gemaak deur verwyte dat ek haar véél meer waardering en van my tyd moes gegee het, veral voor ek die bediening in my dertigerjare betree het.

As predikant word jy ongelukkig gedwing om soos ‘n soort deurwinterde Avbob-amptenaar of ‘n lykskouer te word. Dit maak jou eie treur ‘n moeiliker saak. Jy moet bly funksioneer – die “sterk een”wees. Nie net ten behoewe van dié wat jou leeg aanstaar vir troos nie, maar om sélf ook nie te knak agter jou brose skans nie. Stel jou daarby voor: Pa wil dat jy die rede by Ma se graf moet voer en die woord spreek wat haar kis laat sak.

Jy doen dit. Jy troos die ander. En niemand rêrig vir jóú nie, want jy is die granietmens, vas in jou spore en immers vir dié soort dinge geroep.

En dan ry ek, leeg getap, saam met my gesin terug Pretoria toe uit die Gamtoosvallei en die plaashuis wat nou ons verwese Pa ommuur. Die Monza laat die honderde kilometers agter, maar Ma reis méér as ooit tevore saam. Sy bly ‘n enorme teenwoordigheid op die oop agtersitplek langs die kinders.

Ek worstel met die verlies. Sien steeds my broers en susters huil en my Pa verwese in die reën staan, wat dié dag ook kom groet het. Ek baklei hier binne oor ek nie onbevange my emosie kon wys nie. In die daaropvolgende weke kry ek swaar om sinvol my verpligtinge in die gemeente te verrig.

Toe, op ‘n dag, gaan sit ek agter my ou 386-model rekenaar en ek kies die opsie van skryf om iets hieraan te doen. Skryf is steeds ‘n passie uit my joernalisdae. Dit bring altyd ‘n soort genoeglikheid mee en nou moet dit weer. Ek is alleen in die studeerkamer op ‘n bedompige middag in die Moot in Pretoria. Ek dink met deernis terug aan Ma se sagtheid, onselfsugtigheid, hardwerkendheid. Haar stories en gebede met slaaptyd.

Haar sterk hande, gevou oor haar hart in die kis in ons plaasvoorhuis waar sy vir oulaas heen gebring is volgens Nederlandse gebruik. Ek skryf ‘n gedig oor daardie hande en voeg dit in kursief by die teks in.

So al skrywende loop trane wat salpeter in my mondhoeke word. ‘n Man huil liefs alleen. Dit help dat ek onbevange my binnekrane sonder teëvegtinge kan laat loop. Ma is soos bý my. Haar herinneringe is my ink vir ‘n spesiale biografie. Nou het ‘n nie-so-sentimentele mens soos ek seker die reg om ‘n bietjie soos Helen Steiner Rice te word.

Ellendige ek wat haar so baie angs besorg het met my liefde vir spoed en traak-my-nie! Ek beleef spyt, leegheid, dankbaarheid, deernis tegelyk. Alles word met waardering verhaal. Ma verdien dit dat ek reg laat geskied aan wat ek nou skryf. Telkens gaan ek terug op my teks en voeg vergete gedagtes by.

Hierdie skryf, dis mý seer-salf en terapie deur woorde. Al vind ek dat die gedagtes wat ek in die glasskerm voor my verpak nie reg laat geskied nie, maak dit nie saak nie. Die belangrike is: algaande merk ek ek is op pad om my seer te begin verbysteek met ‘n verfrommelde sakdoek op my skoot.

Ma se lewe word in die hele proses ‘n ode. Sy is ‘n skildery in woorde. Die dood bring sowaar ‘n beeld voort wat geen lewende persoon kon laat verskyn nie! Dit is vir my bevrydend en bring ‘n ligtheid in my. Ek glimlag nou vir deernisgoeters van haar en voel saam met haar as sy verlang het na familie duisende kilometers ver en soms in trane was daaroor. Ek beleef intens saam met haar die diep seer van haar kleinsus wat een aand in 1944 in Nederland verdrink het tydens oorlogverduistering. Die baie tolgeld wat dit alles van haar geëis het, help ek nou in my brose denke betaal. Toe sy geleef het was dit nooit so nie.

Oplaas is ek leeg geskryf. Ek ervaar ek het deur die krag van oorde reg laat geskied aan die dode en my
seer daarin verbind.

Die volgende oggend, weer agter my toe deur, lees ek wat ek geskryf het. ‘n Paar dae later weer. Elke keer is my emosies opnuut geroer, maar minder intens. Dan maak ek ‘n paar afskrifte en skryf op een my een broer se naam. Hy weet nie hoe om sy seer en stryd oor die dood te hanteer nie, dink ek. Die lees daarvan help hom dalk ook.

‘n Lidmaat se ma sterf in dié tyd en ek bring een van my sinvolste besoeke aan hulle, want vir die eerste keer wéét ek wat die dood van ‘n ma is.

Met verligting kom ek deur alles heen tot ‘n nuwe slotsom: ek het skryf se rykdom en krag nog nooit na waarde getakseer nie. En dit geld ewe sterk vir die leser soos vir my, die skrywer.

Hoe vreemd dit ookal mag klink, ek het daardeur ook ‘n selftrooster geword en kon weer aangaan. Aangaan, tot ‘n volgende verlies wat onafwendbaar kom.

Koos, ek is oortuig jy moes dieselfde ervaar het met jou boek. Ek gun jou dit van harte, vriend.