Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

24.5.16

Laaste onderhoud met veteraan-joernalis Hans Lombard

PEET SIMONIS skryf: Hans Lombard het Donderdagoggend gesterf toe hy op Bothaville, waar hy die Nampo-Oesdag bygewoon het, skielik in die nag doodsbenoud geword en die asmapompie nie meer kon help nie.

Magriet (sy vrou): “Ek het geweet dis die einde. ‘Dis reg Hans, jy kan maar gaan -- ek sal OK wees’," het ek vir hom gefluister en sag die liedjie Nader My God by U vir hom geneurie. Hy het in my arms gesterf.

Hans Lombard het in April 90 geword. Hy en Magriet (eintlik Margaret maar hy het haar Magriet genoem en sy wil so genoem word) was 41 jaar getroud. Hy het een seun (Paul) gehad uit sy eerste huwelik en hy is ook onlangs oorlede.

 Hans en Margaret Lombard. 
Margaret is ook 'n Oud-Vaderlander.
Hans het diep spore getrap in die joernalistieke wêreld en die reklamewese. Op 90 was hy steeds aktief en daadwerklik betrokke by sy werk. Hy was een van min bejaardes wat ek ken van so ‘n ouderdom wat nie verstandelik en geestelik afgeplat is en hom soos ‘n oumens gedra het nie.

By die onlangse Perskorreünie het sy sterk stem en onderhoudende verteltrant -- sy leierskap -- weer duidelik deurgekom en het ons almal met verbasing en genot na sy stories en kwinkslae geluister. Sy gunsteling-storie was hoe hy in 1958 en enkele jare later weer, terwyl Kommunisme gedy het, agter die Ystergordyn in is met ‘n Suid-Afrikaanse paspoort met die kleinste ryding – ‘n Lloyd-motortjie.

Dagbreektrust en sy kollegas het hom op die reünie verras met 'n geskenk – 'n foto van hom en die Lloyd. (Klik HIER.)

Ek was verlede week seker die laaste koerantman wat met Hans gepraat het om nog ‘n storie uit hom uit te kry oor sy waaghalsige, epiese rit.

Dit was in die sestigerjare van die vorige eeu toe hy met die muggie-kar die pad gevat het Moskou toe met die doel om die Russiese president Chroesjtsjof te ontmoet en hom te oorreed om met 'n dik veltpen sy naam op die enjinkap te skryf , “anders sou niemand in Suid-Afrika glo dat ek my doelwit bereik het nie.” (K'rant het in 2013 twee aflewerings geplaas oor Hans se avonture in die Sowjetunie.  Klik HIER. --Red.)


Hans se Lloyd voor Pravda se gebou in Moskou.
Hans en Magriet en ek en my vrou, Esther, was twee weke gelede by Perskor-kollega Piet Roos se begrafnis in Pretoria-Noord. Toe dit ná die diens by koffie en tee kom, het ons ons stoele in 'n kringetjie getrek om mekaar beter te kan hoor.

‘n Ent van ons af het Chrisna, Piet se weduwee, met 'n nekstut aan gesit. Sy het dapper saamgesels maar dit was duidelik dat sy benewens die pyn van haar man se skielike oorlye ook fisieke pyn verduur oor die beserings van die padongeluk waarin hy dood is.

"Hans, hoe gaan dit met jou boekskrywery? By die reünie het jy gehoor hy moet klaar wees voor die volgende een,” het ek die gesprek in ‘n ander rigting gestuur.

“Ja, daar is nog baie wat ek nie vertel het nie – ook oor daardie trippie agter die Ystergordyn.”

“Hans, jy was baie dapper om destyds in Rusland in te gaan met ‘n Suid-Afrikaanse paspoort. Jy is een van die beste, mees ondernemende joernaliste wat ek ken.”

Hy het my vlugtig in die oë gekyk met so ‘n skewe glimlaggie.

“Ek was ná die avontuur met die Lloyd weer in Rusland. Dele van die rit was met ‘n toerbus. Ek moes by die grens uitdruklik verklaar dat ek geen ondermynende literatuur by my het nie – veral geen Amerikaanse koerante of tydskrifte nie!"

“Maar hulle het darem seker nie Die Vaderland ook verbied vir wie jy destyds geskryf het nie of hoe? vra ek.
 
“Nee, maar Pravda (die Sowjetunie se amptelike regeringskoerant van destyds) het ‘n foto van my en die Lloyd geplaas. Chroesjtsjof het wel nie sy naam op die enjinkap geskryf nie maar die burgemeester van Moskou het wel. En dit was nuus – vir die Russe ook."

“Hans jy wil seker nie vir my sê jy het daardie Pravda saam uitgebring nie?”

 “Ek het een gehad maar toe ek en die Russiese gids – ‘n meisie van Intourist (Russiese reklameagentskap) so ry, sien ek die fyn oliesproei op die voorruit van die karretjie.

“O, o hier’s fout!”

Sy: “Nee man dis die oliesproei van die spuitvliegtuig wat nou net hier oor ons is.”

"Ek het stilgehou. Rook onder die enjinkap. Die olieprop het makeer en ek het besef hulle het dit nie weer toegedraai by die vorige vulstasie bykans 'n uur gelede nie. Geen ander raad nie. Ons moes omdraai om die prop te gaan soek, maar intussen moet ek 'n tydelike prop maak. Gelukkig lê ‘n stuk koerant toe agter in die kar en ek vou dit styf op en maak 'n tydelike olieprop."

"En kry julle toe die regte prop, Hans?"

"Ja gelukkig. “Maar die oliebesmeerde koerantprop het ek weggegooi ... en te laat besef dit was die eksemplaar met my foto in. Nie ‘n groot skade nie. Ek kan mos weer 'n Pravda koop! Maar daardie uitgawe was uitverkoop.”

“Hans, dit sal 'n tragedie wees as jy nie die stories in ‘n boek vaspen nie. Jy moet gou maak jong – die tyd stap aan en selfs jong mense vertrek; kyk nou hier vir Piet Roos! Sê jou wat, Hans. Ons kom kuier en jy vertel die stories op band – dit sal baie gouer wees.

“Ja kom – jy en Esther moet gou kom kuier, Peet” het Magriet gesê en weer daardie skewe glimlaggie van Hans toe hy byvoeg: “Ja, kom asseblief!”

Ons het uiteraard nie geweet daar was net twee weke oor vir Hans nie.

Hy en Magriet het ná Piet se begrafnis voor gery in hulle donkerkleurige BMW – hy het bestuur en fluks deur die verkeer gevleg. Hulle het ons ‘n kortpad gewys Johannesburg toe sodat die swaar Pretoriase middagverkeer ons nie sou vang nie.

Ek het vir my vrou gesê: “Kyk net hoe knap bestuur Hans nog – moeilik om te glo die man is al negentig.”

Op die snelweg is ons by hulle verby. Hans het getoeter en vir ons totsiens gewaai -- vir oulaas.