Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.3.16

Vier rugbyspioene skrum ná 40 jaar saam

Vier veterane het nou die dag vir ʼn foto langs mekaar gaan sit, van links na regs, in dieselfde volgorde as op ʼn foto wat veertig jaar tevore in Nieu-Seeland geneem is. Dit was nogal ʼn heuglike geleentheid toe John du Toit, Wessel Oosthuizen, Herman le Roux en Gerhard Burger op John se plasie by Eikenhof, suid van Johannesburg, byeengekom het.

Die vier, wat verskeie internasionale toere saam meegemaak het, het ewe besadig ʼn wyntjie gedrink en toe saam met John se vrou, Colleen, en hul dogter Elmarie ʼn middagete geniet waaroor ʼn tydskrif-artikel geskryf kan word.

Herman, die Nasperser wat nou so te sê ʼn erelid van die K’rant-gemeenskap is, vertel die storie:
Byna 40 jaar nadat drie SA rugbyskrywers en ʼn fotograaf Nieu-Seeland besoek het om voor die All Black-toer van 1976 van die Nieu-Seelandse proefwedstryde verslag te doen, het hulle in Februarie weer kopstukke gesels.


Die boonste foto is in 1976 in Nieu-Seeland geneem; 
die onderste een nou die dag op Eikenhof. 
Van links: John du Toit, Wessel Oosthuizen, Herman le Roux en Gerhard Burger. 
Kleurfoto: Elmarie Wilkinson.
  

John het destyds vir Die Transvaler geskryf, ek vir Die Volksblad en Gerhard vir Die Vaderland. Wessel, steeds ʼn gevierde fotograaf, was ook by Die Vaderland.

Ons maandlange besoek aan Nieu-Seeland het nogal wyd reaksie uitgelok. The Dominion, ʼn koerant in Wellington, het selfs ʼn straatplakkaat gehad: “S. Africans here to see All Blacks selected.”

The Evening Post het op 6 Mei 1976 ʼn foto van die viertal geplaas.

Illustrasie
Ons is selfs as spioene beskou. In ʼn spotprent in The Dominion staan hulle langs die rugbyveld met kameras, verkykers en ‘n tweerigting-radio agter die rug weggesteek. Twee spelers kyk die viertal verdag aan en een van die rugbyskrywers antwoord: “Ja, ons was onderweg van Johannesburg na Kaapstad, toe het die vliegtuig uitgewyk.”

In ʼn ander toneeltjie in die spotprent sê een van die Suid-Afrikaners in ʼn telefoniese gesprek met dr Danie Craven: “Ja, Dok, daar is niks om oor bekommerd te wees nie.”

‘n Ander toneel is van ʼn Nieu-Seelandse speler wat van kop tot tone in verbande toegedraai is om die Suid-Afrikaners te mislei. ‘n Glimlaggende Nieu-Seelandse rugbybeampte sê aan die speler:” Jy kan nou maar opstaan en speel, die spioene is weg.”

Gerhard, wat nou in Port Elizabeth woon, het in Februarie ʼn paar dae in Johannesburg gekuier en ons het die kans benut om saam met Wessel ʼn draai by John en Colleen te maak.

Die 90-jarige John, wat soos ek, sy joernalistieke loopbaan by Beeld voltooi het, het al ʼn hele paar operasies ondergaan om die skade te herstel wat hy as losvoorspeler vir Noord-Transvaal, Transvaal en sy klub, Diggers, opgedoen het.

Maar hy kom heel goed oor die weg met ʼn kierie en het geesdriftig saamgesels oor dinge wat ons van deesdae se Springbokrugby pla, soos die oordadige stampkarrugby.Ander dinge wat kwel, is die minder kanse wat die vleuels kry, swak taktiese skopwerk, tydverkwisting by skrums, skrumskakels wat talm om die bal vinnig uit te gee en die bal skeef in die skrums ingooi – en nie gestraf word nie – en plaasvervangers wat vir net die laaste paar minute op die veld gestuur word.