Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

9.3.16

Huldeblyk aan Marius Kleynhans

JOHAN PRETORIUS skryf: Om ‘n huldeblyk te lewer ná die dood van iemand anders wat jy baie goed geken het, moet jy uiteraard gaan sit en dink wat om te sê, en dit dan verwoord.

Soms sukkel jy om genoeg karaktertrekke, eienskappe en prestasies van ‘n sekere mens te onthou, en om dit weer te gee sonder om hier effe te oordryf en daar bietjie aan te dik. Of om sekere dinge te onderbeklemtoon. Al is dit dan net om sy naasbestaandes te laat goed voel oor sy nagedagtenis.

Marius Kleynhans
Met Marius Kleynhans was dit nie nodig nie. Hy is die een mens wat my pad gekruis het, wat ek dikwels bewonder het vir die gemak waarop hy deur die lewe gegaan het. En vir sy intellek en wye belangstelling. Ook sy kennis, liefde vir die lewe, en bowenal, sy sin vir humor.

Van die dag af toe ek hom die eerste keer, 48 jaar gelede, by die SAUK in Johannesburg ontmoet het, het ek besef hy is ‘n baie besondere mens. Eintlik mense; want Marius was baie mense in een lyf. Sy vriende en diegene wat hom geken het, sal weet wat ek bedoel.

Hy was seker een van die natuurlik-begaafdste joernaliste wat ek nog ontmoet het. Hy moes in sy jong dae al wat boek is, oor elke denkbare onderwerp gelees het. Toe hy nog maar ‘n jong nuusman was, het mense altyd gesê wanneer kollegas iets oor ‘n onderwerp wou uitvind sonder om ‘n ensiklopedie te raadpleeg: "Vra vir Marius".

Marius kon goed skryf, soos hy ander dinge goed kon doen. Hy was ‘n natuurlike openbare skakelmens. Marius was van jongs af vriende met letterlik honderde mense oor ‘n wye spektrum van die gemeenskap. Hy het die Vorster-premierspaar en hul kinders goed geken, hy was ‘n goeie kennis van verskeie politici, akademici en ander belangrike mense, maar ook ‘n goeie vriend van gewone mense soos sy joernalis-kollegas.

Marius was die eerste SAUK-TV-verslaggewer in die Parlementêre Persgalery, waar ons lank saamgewerk het. Hy was ‘n ruk by Perskor, en daarna in die Weermag as skakel-offisier. Hierna kom hy terug SAUK toe "want in die Weermag kon ek niemand kry wat vir my grappe gelag het nie".

Washington Redskins
By die SAUK het ons nou saamgewerk en ‘n hegte vriendskap opgebou. Hy was aan die einde van die tagtigerjare die SAUK se verteenwoordiger in Washington, en glo my, ‘n groter aanhanger van die Washington Redskins kon jy nie kry nie.

Met die vrylating van Nelson Mandela het Marius hom aangesluit by die regerings-onderhandelaarspan, nou saamgewerk met onder meer Roelf Meyer en in die proses die top ANC-onderhandelaars goed leer ken. Toe die proses afgehandel is, het hy by Sabinet begin werk, wat hom goed gepas het, want hy kon in sy geliefde Kaap en in die omgewing van die Parlement werk.

Marius was ‘n uitmuntende nuusman met ‘n fyn waarnemings- en ontledingsvermoë. Hy het sterk menings oor sekere sake gehad, en het onwrikbaar geglo Suid-Afrika moes verander om ‘n rasse-konfrontasie te vermy. Hy was ‘n puik kommunikator en kenner van mense.

Marius was lief vir goeie kos en drank, en lief vir die lewe in die algemeen. Hy het na homself verwys as ‘n ‘smulpaap’, en dit was ‘n plesier om saam met hom te eet. Hy het ‘n verstommende kennis van kos en drank gehad. Hy was lief om self te kook, soos sy gesin kan getuig. Ons het die afgelope jare nie baie kontak gehad nie, maar hy het my gereeld gebel met ‘n grappie of storie wat hy geweet het ek sou geniet.

Sy dood het my kwaai geskok. Want skielik was jare se kollegealiteit, hegte vriendskap, saamstaan in moeilike tye, en bowenal, lekker saam eet en lag, daarmee heen.

Marius Kleynhans was sonder twyfel iemand besonders. Ek eer sy nagedagtenis.