KARIN PRETORIUS skryf: Ek het nou nie soos ons minister van sport Amerika toe gevlieg vir die boksgeveg van die eeu tussen Floyd Mayweather en Manny Pacquiao nie, maar wel na Durban vir ‘n storie oor die geboorte van die eeu - díe van die eersgeborene van boksheld en swaargewig-kampioen, Kallie Knoetze en sy vrou Elize.
Of só altans het mev Baby Hyman, hoofredaktrise van Rooi Rose, gedink toe Kallie-Matt gebore is. Ek glo broeisheid het die ouma in tant Baby oorrompel en al wat sy wou hê, was ‘n artikel oor die Knoetzes en klein Kallie-Matt wat vernoem is na sy peetpa, Matt Lotter. Hy was die broer van afrigter-bestuurder Billy Lotter.