Maar dit was nie al nie! Twee maande nadat ek by DT begin werk het, was ek die koerant se krieketnooi! Dit was darem nie 'n skoonheidskompetisie nie!
Mnr Carel Nöffke, destyds die hoofredakteur, het geweet van my voorliefde vir sport. Ek het eers elke dag my draagbare radio saamgeneem kantoor toe om die krieket te luister. Dit het die hoofredaksie op die ingewing gebring om 'n inligtingsdiens aan ons lesers te bied. Onthou daar was nog nie televisie nie.
Die nuwe diens is in DT aangekondig en ek kon lekker krieket luister terwyl ek inligting oor die jongste telling en val van paaltjies aan die inbellers moes verskaf.
Gewoonlik het ek nagdiens gewerk, maar met die krieket moes ek in die oggende 09:30 inkom en kon huis toe gaan na die dag se krieket.
Die inbeldiens was onmiddellik so gewild dat ek 'n tweede telefoon moes kry om al die navrae oor die krieketwedstryd te behartig.
Die eerste toets het ons DT-diens met vlieënde vaandels geslaag. Toe volg die ander drie toetse en die inbeldiens raak hoe gewilder.
Peter van der Merwe |
Jammer dis soveel jare terug – 1970 en ek kan nie meer almal onthou nie. Ek weet net dat ons in een toets 45 lopies vir die verlies van 5 paalties gehad het toe Dennis Lindsey ingekom het om te kolf. Hy het Garth McKenzie en sy medeboulers mal gemaak met sy 241 lopies en so die toets vir Suid-Afrika gewen!
Gert Hattingh |
Die Transvaler het springbokrugby in strokiesprentvorm onderaan die binneblad van die agterblad begin publiseer. Brian Lahore se All Black-span met Bryan Williams, die gevreesde All Black vleuel, het toe in Suid-Afrika getoer.
Om die All Blacktoer stukrag te gee en DT se sirkulasie te verhoog is besluit om 'n kompetisie WEN 'N VIVA aan te bied. Lesers moes sagteblad albums by DT koop en moes dan elke dag die rugbystrokiesprent uitknip en in die album plak.
Teen die einde van die All Black-toer sou 'n keurkomitee al die albums noukeurig beoordeel en die wenner sal die motor wen. Oom Apie le Roux, 'n motorhandelaar in Kemptonpark, het die motor as die wenprys geskenk.
Rika van Graan, Ona Viljoen en Marieta Coetzee vertoon die albums waarvan hulle die meeste gehou het. |
Gert moes foto's uit ou koerante herafneem, afdrukke maak en op kartonne volgens die drukkersmatte van die koerant plak. Dan kry ek die karton om die storie baie kort te skryf. Daarvoor moes ek al die ou uitgawes naslaan om vir elke dag 'n interessante storie te skryf.
Dit moes baie kort gehou word want Marie moes dit oortik in die vorm van 'n strokiesverhaal. Dan moes ons die getikte kopie uitsny en op die karton met die foto's plak. Dit het ure geneem, maar dit was heerlik om die SA rugbygeskiedenis van 1891 tot 1970 na te vors.
Ek het ook ons albums op datum gehou. Jammerlik het ek dit vir 'n sekere Dave van Reenen geleen en nie weer teruggekry nie.