Hierdie week se vraag: Het die joernalistiek gehaltegewys verbeter sedert jou Perskor-dae? Motiveer asb jou antwoord.
Verlede week se vraag om K'rant se gesondheid te diagnoseer het reaksie van onder meer twee mooi vroue ontlok:
Marie Reinecke en haar kleinseun, Nico, oftewel Len Lindeque se enigste kleinseun. |
Maar nou is ek vuur en vlam nadat ek die afgelope naweek my eerste Perskor-reünie kon bybring en 'n hele paar gesigte uit die verlede kon identifiseer! Wat 'n vreugde was dit na my afsondering vir soveel jare in die tydskrifwese in Durban en die Kaap.
En ek is trots op julle wat die los leisels via K'rant en reünies na al die jare nog so bymekaar hou om ons identiteit uit die verlede aan die lewe te hou. Ek voel nou of ek weer 'n paar van my eie verskrompe worteltjies gevind het.
Ek gaan gewis bietjie nalees, beginnende met die ouer berigte in K'rant sodat ek dalkies ook 'n sinvolle bydrae kan lewer in ons toekoms. (So moet 'n bek mos praat! - Red.)
Ek is op 16 Feb weer getroud en Len se kleinseun, Nico was my hofknapie. Ons dogter, Leneque, was my strooimeisie.
PIET ROOS skryf: Wat dink ek van K'rant?
Ek dink dit is die lekkerste ding om te lees en ek is so spyt ek het self nie meer stories nie.
Ek sal graag wil sien dat die stil rooflesers wat nooit iets skryf nie, ook pen op die pampier sit!
Nog iets. Laat ons onlangse foto's van K'ranters sien, al is die hare gebleik en die snor dunner!
KARIN PRETORIUS skryf: Ek dink K’rant is een van die beste, intelligentste, skeppendste en verfrissendste pogings vir oud-koerantmense wat ek aan kan dink met wonderlike kommunikasie en ek sê dit om die volgende redes:
1. Toe wyle Andries Botha my in Bloubergstrand uitgesnuffel het en gevra het om vir K’rant te skryf, het ek gedink hoe wonderlik dit is dat 'n mens se oud-kollegas jou nog onthou en nie vergeet het nie
2. Dit gee jou die kans en geleentheid om – op hierdie ouderdom – weer skeppend te dink wat tog so goed vir die moeë ou brein is. Hoe verfrissend is dit nie om hom bietjie af te stof en diep te delf na baie jare terug.
3. Ek het dit al oorweeg om ‘n outobiografie te skryf maar wie is Karin Pretorius nou eintlik en wie gaan my boek koop? K’rant gee nou vir my die geleenheid om daardie frustasie-leemte te vul en ’n paar artikels van belang te skryf. Jammer vir julle ouens wat nou alles moet aanhoor!
4. Soos 'n mens ouer word raak 'n mens meer sentimenteel en dink jy terug en wonder van die en daai kollegas. Nou gee K’rant jou die kans om te kommunikeer en kontak te maak
5. Ek het so baie stories en twee dose vol geskiedkundige foto’s van my vier jaar in Rhodesie, Zimbabwe Rhodesie en Zimbabwe. Ek’t al gedink ek moet daarmee wegdoen want dit vergaar net stof in my motorhuis. En nou kan ek dit vir K’rant gebruik. Dankie daarvoor en vir julle ouens aan die spits van sake.
Wat sal ek nog in K’rant wou sien? Dis baie lekker om al die ou berigte van kollegas te lees en dit neem jou terug na die goeie ou jare maar wat van nou en die toekoms? Waarmee hou die afgetredenes hulle besig? Ek hoor nie meer Ona Viljoen se stem oor die radio nie – waar is sy? Waarmee hou Elma Potgieter en Schalk Jacobs hulle besig?
Ek wil nog iets skryf oor my emmerskoplys (bucket list). Ek het al drie my drome in een jaar afgehandel en nou moet ek aan nuwes dink. Wat beplan die ander kollegas?
Kan ons nie van die stories saamvat en in ‘n publikasie die lig laat sien nie? Dan kan ons ‘n K’rant-liefdadigheidsfonds stig met AL DIE GELD wat dit gaan inbring en besluit waar die geld aangewend moet word?
Dankie vir die base aan bewind wat K’rant moontlik maak en hul onbaatsugtie diens: Piet Ebersöhn, Philip Deetlefs, Willie Buys, Stella Niemand en Japie Bosch.
Ek leef maar ‘n stil lewe in Bloubergstrand. Nou het K’rant my op die kaart geplaas en is ek nie meer die "besbewaarde geheim in Kaapstad" nie. Hehe.