
Indien daar dan ‘n Para-Olimpiese byeenkoms vir joernaliste in die algemeen en in die besonder vir koerantmanne voorheen van Perskor gehou sou word, sou die wenner van etlike goue medaljes gewis Rika van Graan moes gewees het.

Ek onthou hoe gewild Rika destyds as een van die land se voorste misdaadverslaggewers onder die polisie was. Ek onthou hoe hulle vir haar blommeruikers kantoor toe aangedra het. Ek onthou hoe senior polisie-offisiere gespog het dat hulle tog vir Rika beter ken as hulle kollegas.

Rika het ‘n “sexy”-stem oor die foon gehad en kon enige niksvermoedende, nuwe polisieman van die eerste oproep af om haar pinkie draai. Dan, as hulle haar die eerste keer sien, het die boesemvriendskap begin.
Rika kon ook maklik (alles oor die telefoon) die hele storie by die naasbestaandes van ‘n nuuswaardige sterfgeval, kry – trane en al! – sodat net ‘n reëling getref moes word dat een van ons jong verslaggewers die foto’s by die adres hoef te gaan haal.
Hierdie talent het natuurlik uit ‘n joernalistieke oogpunt baie goed gewerk, want Rika het dosyne en dosyne hoofberigte op die voorblad geskryf en as die komkommers in die blom gestaan het vir Willie Buys dikwels gered van pa moet staan vir ‘n andersins seisoenale saai voorblad.