Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

24.9.12

Harde skool en kleinste salaristjeks as koerantman

GERT COETZEE skryf: Ek het as ’n verwaande, tienderjarige uitspoegsel van die Puk by Die Vaderland in Aucklandpark, Johannesburg, aangekom. Net onder ons het dit by Die Transvaler gewemel van ’n swetterjoel jongetjies, maar ek was ’n geruime tyd lank die “baba” van die vierde verdieping, as’t ware die speelding van die redaksie.

My eerste nuusredakteur was ’n swaargewig. Nie die skreeuende, tierende,
vloekende variasie nie; rustig, kalm, bedaard. Ek het spoedig besef Oom Tom Buys was niemand se maat nie en veral nie so ’n klein windgat soos myne nie. Hy het my soggens stapels draadkopie in die hand gestop, wat ek moes gaan sit en vertaal het met die vriendelike vermaning “ons werk nie vir ’n jaarblad nie”, hy soek die goed gou. En as ek my beste poging vir hom gaan gee, het hy dit vlugtig deurgelees en gesê jammer, dis nie reg nie. Wat is nie reg nie? het ek gevra en sy antwoord, voordat ek ooit weer gebodder het om te vra, was altyd “vind uit en maak gou, boetie”!

Tom Buys
Dan het ek maar weer gaan oorvertaal en oortik en oorhandig. Elke keer teen min of meer die derde poging was sy suur gesigsuitdrukking minder opvallend en was ek danig in my noppies as hy my vertel: nie te sleg nie. Maar dan het hy dadelik weer die wind uit my seile gehaal met die mededeling die koerant is ongelukkig bed toe, ek is te laat. Heimlik het ek gedink dié jop is glad nie wat ek my ingedink het nie, maar op ’n dag, nie te lank daarna nie, kom ek Oom Tom gee vir my draadkopie en die ernstige vermaning dis ’n noodsaaklike vuller en ek beter gou maak. Dit het my oneindige genoegdoening gegee om my kopie, onverander, in die koerant te sien. Op die hardste, moeilikste manier het Oom Tom my geleer koeranttaal skryf en ’n storie ordentlik aanmekaar flans sonder dat ek dit eers vermoed het. Hy was een van die ou “pro’s” in ons bedryf en ek dink met dankbaarheid dis 'n voorreg dat hy van alle mense my eerste mentor was.

Ek onthou ook hoe trots ek was toe ek my eerste salaristjek ontvang. Betaaldag slaan ’n afvaardiging uit by my lessenaar in die kindergarten in die lang gang langs mnr Richard, se kantoor. Hulle deel my plegtig mee dis gebruik as ’n nuwe ou by Die Vaderland begin werk, gaan koop hy vir almal ’n drankie by die Sans. Ek sê vir hulle nee, dis reg, ek gaan net my tjek vir my pa stuur dat hy dit in my bank- boekie deponeer en as hy dan vir my geld aanstuur, dan maak ons so. Hulle reken nee wat, dis te omslagtig, teken net agterop en gee hier, ons sal hom kleinmaak by die Sans.

En daar word my hele, eerste salaristjek summier uitgedrink. Ek rapporteer graag hul gewetes het hulle gery; my losies is betaal, so nou en dan het iemand ’n karton sigarette vir my gebring of my R20 gegee vir buskaartjies en fliek. Helsems, julle het gedink ek het vergeet…

Dit was die kleinste salaris wat ek ooit ontvang het. Die tweede kleinste een was uit wraak. Toe ons reeds Doornfontein toe getrek het, het ek gereeld voorskotte getrek, op “trips” gegaan en nie die “swindle sheets” afgehandel soos dit moes nie. George Bennett het gereeld boodskappe gestuur ek het uitstaande voorskotte, waaraan ek my natuurlik (soos AL my kollegas) nie veel gesteur het nie. Elke keer as ek van ’n “trip” af terugkom, het ek net die strokies in ’n laai gegooi en dit weggelag. Totdat Bennett natuurlik genoeg gehad het van my en alles gelyktydig aftrek van my salaris. En só kry ek ’n betrokke maand toe die masjestueuse besoldiging van R00.10 (tien sent). Toe ek my lot luidkeels bekla, het mnr Richard, die tjek gekruis sodat ek nie my tien sent oor die toonbank kon trek nie.

Nodeloos om te sê, ek het my voorskotte so vinnig afgehandel en ook sommer ’n paar ander ook waarvoor ek kostes uit my eie sak moes aangaan waarvan Bennett nie geweet het nie, dat ek sommer bonus getrek het met ’n los tjek waarvoor ek Bennett goed aangejaag het.