Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.6.12

Gabriel was 'n Zoeloeprins

PHILIP DEETLEFS het die inisiatief geneem om 'n ‘n storie oor een van die Perskor-legendes, Gabriel, 'n Perskor-motorbestuurder van die jare ‘70, te skryf. Hy het K’rant se redaksie gevra of hulle inligting en staaltjies het om by te voeg. Só het ‘n merkwaardige verhaal oor dié ou Grote na vore gekom.

Philip skryf: Gabriel het in daardie dae, toe tandepasta nog wit was,
grootliks respek by ons jong verslaggewers afgedwing. 'n Mens het altyd die indruk gekry dat Gabriel by ‘n vername afrondingskool iewers in ‘n hogere Engelse omgewing die klaskaptein moes gewees het.

Gabriel herstel 'n papband aan sy motor.
Gabriel was baie streng as ‘n bestuurder. Jy kon hom nie met die grootste beloftes omkoop om vinniger as wat die snelperk toegelaat het, te bestuur nie. Spertye was nie sy probleem nie en Gabriel het dit vir jou ook goed laat verstaan. Resies jaag was nie op sy pligstaat nie.

Gabriel het ook altyd dieselfde motor bestuur en niemand sou dit waag om met hierdie motor sonder Gabriel te ry nie.

Gabriel se motor was altyd skoon en blink, maar het binne na vis en tjips met asyn geruik. Gabriel was lief vir eet. As mens op ‘n storie was waar Gabriel relatief lank vir jou moes wag, het hy vir ‘n bydrae gevra sodat hy vir hom vis en tjips kon gaan kry vir die wag.


Piet Ebersöhn het laat weet dat Hannes Cilliers, Johann van Loggerenberg (beide nie meer met ons nie) en Gert van Rooyen ‘n paar jaar gelede (2004) op die geselsforum, Perskorhaan, van hul ervarings met Gabriel vertel het.

Hannes Cilliers: Gabriel was die een of ander hoge Zoeloeprins wat in ‘n stamtwis betrokke geraak het. Minister MC Botha het toe met Marius Jooste gereël dat hy by Perskor kom werk om hom uit die vuurlinie te kry. Een maal per jaar mog hy egter vir sy familie gaan kuier. Ek en Mike van Niekerk se monde het oopgehang toe Gaby se familie op ‘n dag net so teen sononder in ses swart limousines by die Pers opgedaag het om vir hom te kom kuier.

Johann van Loggerenberg: Die stories oor Gabriel herinner my aan die dag toe Willie Buys my Lourenco Marques toe gestuur het om met ‘n Suid-Afrikaner te gaan praat wat deur ‘n haai aangeval is. Dit was so teen 1974/5 – lánk voor 1994.

Daar ry Gabriel en ek toe in ‘n Peugeot tot by die Hotel Polana waar ons moes oorbly.

Daardie dae het die hotelle in Suid-Afrika nog aparte woongeriewe vir swart bestuurders gehad, en dus vra ek toe vir die Indiërman by ontvangs vir ‘n kamer vir my en een in die “staff quarters” vir Gabriel.

Waarop die man hom toe opruk, my vertel dis nie Suid-Afrika met sy apartheid hierdie nie en dat hy net een kamer in die hele hotel oop het. Ons kan maar deel. Gelukkig was daar twee beddens.

By die aanhoor van dié nuus was dit Gabriel wat erg verontwaardig was! So het ons in een kamer geslaap.

Ons kon ongelukkig nie saam gaan eet nie. Ons het net een das tussen die twee van ons gehad.

Gert van Rooyen: Wie sal die groot, goedige Zoeloe, Gabriel, vergeet wat verslaggewers in sy silwerskoon Peugeot 404 rondgery het?

Voordat jy ingeklim het, het Gabriel altyd gesê: "You don’t smoke in my car. You don’t swear in my car."

André Scheepers het laat weet dat Gabriel ongeveer aan die einde van die jare tagtig oorlede is.
Piet Ebersöhn vertel: Dit was ‘n snerpend koue wintersmore toe ek vroegoggend saam met Gabriel die pad Pretoria toe aangedurf. By die stopstraat net voor ons uit Nindstraat regs in Beitstraat moes draai, stap daar toe ‘n erge stuurse tante in ‘n dikke jas voor ons verby.

Toe merk Gabriel op: "Don’t be cross with me lady, I did not make the weather."

Willie Buys skryf: Gabriel was 'n gentleman wat eintlik 'n lyfbediende vir adellikes kon gewees het. Toe ek verslaggewer by die Sondagkoerant, Dagbreek, was, het ek en hy die wêreld vol gery op soek na stories. Jammer om te sê, maar Gabriel was altyd my tweede keuse om my rond te ry.

My eerste keuse was Willem. Onthou julle nog sy groetslag Ouwaaas...! 'n Baie aangename en sosiale ou. Maar Willem was ook Marius Jooste en die maatskappybase se eerste keuse as bestuurder, dus moes ek meer dikwels buig voor senioriteit en terugval op Gabriel as 'n nie te slegte tweede keuse nie.

Op een nuustoggie het ek en Gabriel tuisgegaan by 'n plattelandse polisieman te Groblersdal-distrik. Dié se hond het toe pas 'n werpsel brakkies in die lewe gebring. Gabriel het vrekverlief geraak op een besondere reuntjie en hy het die pad terug Johannesburg toe figuurlik gesproke sing-sing aangepak nadat die betrokke polisieman die hondjie aan hom geskenk het.

Gelukkige einde van uitstappie: ek het my storie gehad en Gabriel sy hondjie!