Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.2.20

K’rant se millennium-uitgawe net om die draai!

JAPIE BOSCH skryf: Byna agt jaar gelede (op 7 Mei 2012) was ‘n storie van Philip Deetlefs die eerste een wat in K’rant verskyn het. Vandag vat-vat ons aan 1 000 stories. Hierdie is storie nommer 998.

Die onstaan van K'rant het binne enkele dae soos 'n veldbrand versprei. Oudkollegas het gretig deelgeneem. Op vier na het ons in die eerste drie jaar nie minder nie as 800 stories ontvang. In die vyf jaar daarna het nog amper 200 ons bereik.


Soms moes ons tot drie stories ‘n dag plaas om by te hou. Mettertyd het dit minder geword soos die nuutjie afgeneem het. Oudkollegas se omstandighede het ook verander soos die jare ons ingehaal het.

Ondanks die afname in stories word K’rant steeds gelees. Die honger na stories en om van oudkollegas te hoor, bestaan nog. Dit is merkbaar hoe die besoekerstal opskiet as ‘n nuwe storie verskyn – tot soveel as 180. En daarna nog tientalle per dag vir 'n paar dae daarna.

Sedert sy ontstaan, is die stories op K’rant al meer as 240 000 keer besoek, sogenaamde “page views”. Oudkollegas kom dikwels terug om stories te lees wat hulle misgeloop het of om weer te lees wat hulle vergeet het. K'rant word ook gereeld deur ander belangstellendes besoek. Glo dit of nie: K'rant het sy gesig al in 67 lande gewys. Die meeste het toevallig by ons uitgekom.

K'rantbesoekers per kwartaal.
K’rant het gehalte vertellings opgelewer. Per slot van sake: dis ervare koerantmense wat dit geskryf het, komende uit die sogenaamde “ou skool”. Dit was mense wat Afrikaans waardeer en respekteer. Daar was ook 'n paar karige stories, maar hulle het almal 'n doel gedien.

‘n Webjoernaal of blog (afkorting vir web + log) was ideaal vir die doel van K’rant, naamlik om oudkollegas se herinneringe met mekaar te deel en ou vriendskappe te hervat. Stories word een na die ander op mekaar gepak.  Daar is ook klompie ander handige funksies ingebou.

Dit werk feitlik net soos ‘n koerant. Nadat stories ons bereik het, besluit die redakteur daaroor, dit word taalkundig versorg en dan volg die tegniese proses om dit die wêreld in te stuur. Dit geskied tans met redakteur Philip Deetlefs wat in Swakopmund, Namibië sit, taalversorger Stella Niemand is in Johannesburg en ek wat die tegniese deel hanteer, is in Jeffreysbaai (rooi kolle op die illustrasie regs).