Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.1.20

R300 miljoen se "scoop"

MARIUS DU PLOOY skryf: Ek waarborg nie dat ek alles 100% onthou soos dit was nie. Dit was Maart 1978 toe ek die Sondagoggend by Die Transvaler ‘n oproep van ‘n informant kry. (Dit klink altyd so belangrik om van "my informant" te praat. So asof ek êrens uit ‘n James Bond-fliek kom.)

Hy vertel my toe dat daar ‘n reuse-diamantontdek is by die Premiermyn noord van Pretoria, maar dat niemand ‘n woord daaroor rep nie.

As joernalis het ek dadelik ‘n lekker storie geruik en ure lank ‘n woordvoerder van die myn probeer oorreed om meer inligting te gee. Hy het aanvanklik gesê hy weet van niks, maar ...

Marius du Plooy met sy voorblad-diamant.
Uiteindelik het ek my voorbladstorie gekry. Dit was ‘n "scoop". My berig was die eerste ter wêreld oor die Premier Rose -- ‘n knewel van 'n 137,02-karaat-diamant en een van die grootste D-kleurdiamante ter wêreld.

Oor die uiteindelike verkoop van die diamant is daar destyds net bespiegel. Iemand het beweer dat dit aan ‘n Oosterse Sjeik verkoop is vir baie miljoene. Diamante van daardie grootte het nie ‘n prys per karaat nie. Dit is werd wat iemand bereid was om daarvoor te betaal.

Onbevestigte berigte destyds (joernaliste gebruik die term steeds gerieflik as hulle geen benul het nie en soms selfs ongesubstansieerde raaiskote waag) het beweer dat dit destyds (30 jaar gelede) teen 10 miljoen dollar verkoop is. As 'n mens inflasie in ag neem, sou dit vandag seker maklik R300 miljoen gewees het. Oorgenoeg rede vir die geheimhouding.

Dit was nie net vir my as verslaggewer lekker om die "scoop" te kry nie, maar in die daaropvolgende weke het ek gereeld langs die slyper gestaan terwyl die Premier Rose vorm aangeneem het.

Ek was van die weinige mense wat in streng sekerheidstoestande in die slypkamer toegelaat is. Ek het later ‘n perspex-afdruk van die oorspronklike, rou diamant ontvang wat vandag nog in my besit is. Maar die grootste lekker was toe ek die klaargeslypte miljoenediamant in my hande vasgehou het. Vir daai oomblik was dit myne.

Dit was seker een van die grootste hoogtepunte van my joernalistieke loopbaan. Die diamant van honderde miljoene, wat onder groot geheimhouding gemyn, geslyp en verkoop is en wat vir ‘n paar sekondes selfs myne was!