JOHAN VAN WYK (65), voormalige sportredakteur en deurwinterde atletiekskrywer van Rapport, het gistermiddag (19 Februarie) op kantoor in MediaPark, Johannesburg, inmekaargesak en gesterf.
Hy het einde Augustus afgetree, maar het nog Vrydae en Saterdae vryskutwerk vir die koerant gedoen.
Johan het oor talle Olimpiese Spele verslag gedoen.
Hy was onder meer in die paviljoen toe Zola Budd en Mary Decker-Slaney in 1984 op die Spele in Los Angeles gebots het.
Johan, wat aan die destydse Potchefstroomse Universiteit gestudeer het, het sy joernalistiekloopbaan op 21 Februarie 1974 by die dagblad Hoofstad in Pretoria begin. Erkenning: Netwerk24