Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

19.9.24

Met ʼn pak Vaderlande op my rug – 47 jaar gelede

HEINRICH SCHULZE skryf: BELOFTES maak skuld. Karin Pretorius het my reeds knap ná die Covid-19-pandemie aangepor/aangespreek om iets oor my dae as “Perskorwerknemer” vir K’rant te skryf.

Vandag poog ek om my skuld te vereffen.

Ek was in 1977 ʼn Perskorwerknemer. Alhoewel nie een van julle my geken het nie, het ek julle en die Perskorkoerante goed geken.

My verhouding met koerante dateer uit 1970, toe my ma, die jaar voordat ek skool toe is, my leer lees het. Koerantbyskrifte by foto’s was van die vroegste leesgoed wat ek probeer ontsyfer het. Daarna het die uitknip van koerantberigte en die maak van plakboeke gevolg. Ek en my plakboeke het op ʼn dieet van Perskor-koerante grootgeword.

 Talle van die Afrikaanse taalpêrels in Gerhard Burger se rugbyberigte is ná meer as 50 jaar steeds onbeskaamd deel van my woordeskat. Maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag.

Blaai die kalender sewe jaar aan. Dit is 1977, op Amersfoort, in die suidoostelike hoek van Transvaal, waar ek een van die Perskor-koerantafleweraars op die dorp was. 

Al die koerantafleweraars op Amersfoort was laerskoolseuns, want Amersfoort het nie ‘n hoërskool gehad nie. Vanaf standard ses moes die koerantafleweraars koshuis toe – meestal Volksrust of Ermelo. Dit het vir ʼn gereelde omset in koerantafleweraars op Amersfoort gesorg. 

En in nabetragting, moes dit ook heelwat onnodige administratiewe rompslomp vir die arme Perskor-personeellid veroorsaak het wat moes tred hou van en kontak hou met die swetterjoel koerantafleweraars op die Transvaalse platteland.

Die middagprogram op Amersfoort was soos volg. Dwarsdeur die jaar het ons op Maandagmiddae tennis geoefen; op Dinsdae en Donderdae was dit in die somer atletiek-, en in die winter, rugbyoefening. Woensdae en Vrydae was ons vry. Op Maandae, Dinsdae en Donderdae het ons eers klaar sport geoefen voordat ons met die koerantaflewering kon begin, gewoonlik eers teen 16:30 se koers.

Vir ʼn koerantafleweraar was Woensdae en Vrydae ons gunstelingdae, want dan kon ons reeds van 15:15 af op ons fietse, en met die liggroen Perskor-lapsak oor ons skouer, voor oom Jimmy Lazanakis se kafee, vir die Perskor-afleweringsbakkie wag.

As ek reg onthou is Die Vaderland en The Citizen destyds saam afgelewer. Indien die afleweringsbakkie betyds was, kon jy jou stapel koerante wat nog na vars ink geruik het, teen 15:30 in die groen sak gedruk het en op jou ysterperd gespring het. 

As jy jou storie geken het, die fiets hard teen Sybrand van Niekerkstraat se lang opdraende na die bo-dorp getrap het, en die intekenare het jou nie te lank laat wag nadat jy die voordeurklokkie gelui het om hulle koerant in die hand te stop nie, kon jy teen 17:15 by die huis wees, met al 25 Vaderlande suksesvol afgelewer. 

Wee jou as jy die koerant by die intekenaar se voordeur gegooi het en dit reën nat of die hond verskeur die koerant. Dan was die skade vir jou rekening. Daarom het ons maar veiligheidshalwe eerder die voordeurklokkie gelui en die koerant veilig oorhandig. Gelukkig was daar destyds geen hoë mure of sekuriteitshekke voor die huise nie.

Dit is nou 47 jaar later en die presiese logostiek het vervaag, maar naby aan die einde van die maand, het jy die bruin koevertjie vir elke intekenaar voltooi, met die aantal koerante wat jy afgelewer het, en die bedrag wat verskuldig was, in potlood daarop geskryf, en dit by die intekenare afgelewer. 

Die potloodskrif was sodat jy die getalle en bedrae die volgende maand kon uitvee en die koevertjie weer kon gebruik. Dit was ‘n vroeë voorbeeld van volhoubare verbruikerspatrone en om sag met die natuur om te gaan. Of dalk was dit bloot een van Perskor se talle besparingsmaatreëls waaroor daar al in vorige bydraes in K’rant geskryf is?

Die idee was dat die intekenaar dan die verskuldigde bedrag in die koevert sou plaas, wat jy dan op die laaste weeksdag van die maand sou insamel, jou kommissie aftrek en die balans in ʼn plastiekbanksakkie aan die bestuurder van die Perskor-afleweringsbakkie oorhandig.

Of vergis ek my nou? In 2024 klink dit haas onmoonlik dat soveel kontant op een dag, met so min sekuriteit, veilig vanaf die platteland na Johannesburg vervoer kon word. Was daar dalk ʼn plaaslike organiseerder van die koerantafleweraars op Amersfoort wat die geld van die afleweraars ontvang het en dit dan by een van die banke wat takke op Amersfoort gehad het, in Perskor se rekening gedeponeer het? Nie wat ek nou van kan onthou nie.

Buiten die afleweringsbakkie wat soms laat was, reën, honde, en enkele ongeskikte intekenare, was die ander groot gatslag wat ʼn koerantafleweraar kon tref, wanneer ʼn intekenaar onverwags verhuis het en nagelaat het om sy of haar uitstaande rekening te vereffen.

Buiten die kommissie wat jy verbeur het, was ook die maand se intekengeld wat verlore was, vir die afleweraar se rekening. Maar die grootste skade wat jy kon ly, was wanneer jy met die gesiene skelms van die dorp te doene gehad het. Ek kan vandag nog die drie intekenare se name noem wat my gedurende die laaste twee maande van my loopbaan as koerantafleweraar in 1977, soos goeie binnesenters gesystap en gepypkan het wanneer ek aangeklop het om hulle intekengeld in te vorder.

Hulle het waarskynlik geweet dat ek die volgende jaar in Januarie koshuis toe sou gaan en dat hulle dan van my ontslae sou wees. Twee van hulle was gesiene inwoners van die dorp. Een van hierdie twee tannies se uitgebreide familie het destyds die meeste van die plase suid en oos van Amersfoort besit.

In daardie maande wanneer die plaaslike skelms jou nie uitgeroei het nie, was koerantaflewering ‘n baie lonende werk vir ʼn laerskoolkind.

Onthou ek reg? Ongeveer R30 se kommissie per maand vir die 500 Vaderlande (25 per dag) wat ek elke maand afgelewer het. En dit op ‘n stadium toe die gangbare koers van sakgeld, R1 per week (en dus R4 per maand) vir laerskoolkinders was. Baie van my voorgangers op Amersfoort het aanvanklik te voet koerante afgelewer en spoedig met hulle Perskorkommissie, hulle eerste fiets aangeskaf. Dit voel soos ʼn leeftyd gelede.

(Heinrich Schulze het onlangs afgetree as professor in Bankreg aan Unisa en bedryf een van die beste rugbymuseums en -argiewe in Suid-Afrika. – Red.)

 

14.9.24

Oudredakteur van Tempo oorlede

JOE VAN BUUREN skryf: ALWYN STRYDOM, destyds lid van Die Transvaler se redaksie, is Woensdag 11 September, op Willowmore in die Oos-Kaap dood. Hy was 72.

Wyn sal veral onthou word vir sy gemoedelikheid en voorliefde vir ʼn lekker partytjie, waar hy en André Pienaar, ook reeds saliger, hulle kollegas met hul uitbundige ghitaarspel vermaak het.

9.9.24

Die Transvaler gedigitaliseer

11 November 1974
Is jy ‘n voormalige verslaggewer van Die Transvaler wat al gewens het jy kan weer jou berigte van destyds lees. Dis nou moontlik.

Klik op https://gpa.eastview.com/dtsa/. Sleutel jou naam of enige ander woord tussen aanhalingstekens in en siedaar, daar’s almal.

Op hierdie webwerf is al Die Transvalers van 1938 tot 1987 volledig gedigitaliseer.  Volgens die webwerf is daar altesame 14 988 eksemplare van die koerant, bestaande uit 310 135 bladsye.

As voorbeeld kan genoem word dat 477 berigte onder die naam Gerhard Burger gevind is.