Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.8.24

Essie: "Daar was nooit nukke of buie of ego nie"

PEET VAN STADEN skryf: LAG was maklik … of Essie Esterhuizen in die kantoor, die persbank of op die hoë stoeltjie langsaan in Vegkop was.

Maar dis nou moeilik om oor hom skryf, want Essie was ʼn merkwaardige mens, ingewikkeld in sy oënskynlike eenvoud. Daar was nooit nukke of buie of ego nie. As sportskrywer was hy geen grap nie. Hy was in werklikheid een van die spesiale sportskrywers – en ménse onder hulle – in wat toenemend lyk na die laaste betekenisvolle halfeeu van Afrikaanse sportskrywers.

 Johan Esterhuizen is Dinsdag, 6 Augustus op Ballito dood ná ‘n kort siekbed, soos syverwant Emile Smith in K’rant geskryf het. Hy het die vorige dag 76 geword. Eers washy tennisskrywer by Hoofstad en Die Transvaler, en het daarna veral as krieketskrywer by The Citizen en Rapport naam gemaak. Hy was sportredakteur van The Citizen, en het ook uitvoerig oor boks en rugby geskryf.

7.8.24

Vermaarde krieketskrywer oorlede

PHILIP DEETLEFS laat weet dat Johan (Essie) Esterhuizen, vermaarde krieketskrywer van Hoofstad, Die Transvaler, The Citizen en Rapport, vanoggend oorlede is.

Essie
Hy was eweneens ʼn gerekende rugby- en boksskrywer.

EMILE SMITH EN FAMILIE skryf: Oom Johan (Essie) is Sondag, 28 Julie 2024, in Netcare Balitto opgeneem met ʼn bloeiende maagseer wat gebars het. Hy is daarna vir ʼn noodoperasie teater toe gevat. Hulle het toe hulle skoonmaak bevestig dat hy maagkanker het. Hy is uit die teater na die waakeenheid oorgeplaas, waar hy op ʼn ventilator was. Oom Johan het gister, Sondag 5 Augustus, verjaar en is dus die volgende dag op 76 oorlede. Sy organe het baie swaar getrek en sy hart het vanoggend gaan staan. 

Sy suster Joey se dogter Rika en háár dogter was by hom en hy was nie alleen nie. Die res van die familie moes terugkeer Vrystaat toe omdat hulle Maandag weer moes werk. 

  • Emile is ʼn kleinseun van Rika. -- Red.

2.8.24

GPS kelder langpad-sending

KARIN PRETORIUS skryf: DIS nou ‘n verrassing om te hoor dat my bywoning uit die Kaap van die Perskor-reünie op 19 Mei 2024 in Johannesburg die verste is wat nog vir die byeenkoms gereis is, behalwe vir Joe Venter van Bloemfontein af.

Met my vlug na Johannesburg was ek op ‘n ernstige sending, want daar was twee dinge wat ek graag aan redakteur Harald Pakendorf wou sê: ons het mekaar in 1981 – 43 jaar gelede – laas gesien en dit was met die ‘wêreldscoop’wat ek aan Die Vaderland besorg het met ‘n groot storie uit die Rhodesiese bosoorlog van daardie jare.