PEET VAN STADEN skryf: Vir my was hy die een wat altyd geglimlag het. Nooit nukkerig nie, nooit dikmond nie. Gegewe my herinneringe aan die klimaat in Perskor se koerantkantore diep in die jare sewentig was Dirk Benadé se temperament merkwaardig, eintlik uniek.
Perdewedrenskrywers, soos rugbyskrywers, was altyd maar ʼn eie klomp. Hulle was deel van sportredaksies, selfs oudsportredakteurs soos Wolfie Wolfaardt en Roelf Theunissen. Ons ander het dikwels bespiegel oor hoeveel van die sport daar sou oorbly as weddenskappe by perdebyeenkomste weggevat word. Maar soos met verdedigingsobligasies destyds het fiskale oorwegings die moreles getroef.
Die renskrywers self het oor die debat getree. By die jaarvergadering van die Randse Sportskrywersvereniging het een van hulle kort-kort ʼn perd as een van die Sportsterre van die Jaar benoem. Francois Wolfaardt het selfs een keer sy voorstel – dalk nog vir Principal Boy – met ʼn troefkaart afgesluit: “Boonop, Meneer die Voorsitter, is hierdie perd ʼn dêm goeie Nasionalis!”