Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

3.10.17

Legendariese en alomgeliefde Joe Venter was sport se vriend

Gary Player het bewoë geraak toe hy later bel om te verneem na die welstand van “my groot vriend Joe” wat hy kort tevore op dié se siektebed spesiaal gaan besoek het in Bloemfontein. Toe Frik du Preez Saterdag van Joe Venter, veteraanjoernalis, se afsterwe verneem, was hy verslae, skryf Gert Coetzee

“Ons het ’n grote verloor,” het hy gesê oor die man met wie hy sedert 1962 ’n sportvriendskap gedeel het.

Ook die oud-Springbokflank André Venter van Bloemfontein het per SMS sy medelye met “oom Joe” se mense betuig.

Joe Venter
Dít was onder die stortvloed reaksie ná die dood van die legendariese sportmens Joe Venter (doopnaam
Josua) Saterdagoggend ná ’n lang siekte in ’n hospitaal in Bloemfontein.

Dit was een dag voordat hy 84 jaar oud sou word.

“Pleks van sy verjaardag vier ons as gesin nou sy lewe tesame,” het sy dogter Renate Boshoff van Bloemfontein gister gesê.

Venter was alom bekend as sportskrywer, sportman, sportvriend en liefdadigheidswerker wat deur sport geld ingesamel het vir oudsportmense en ander in nood.

Onder Volksblad-lesers was hy gelief vir sy weeklikse sportprofielstorie op die Kontrei-bladsy en Uit die Sandkuilrubriek op die sportblaaie, wat hy albei nog geskryf het totdat hy sowat drie maande gelede weens bloedklonte in die longe en onreëlmatige hartritme in die hospitaal opgeneem is.

Player het die siek Venter onlangs, ná sy terugkeer van oorsee op pad na sy plaas buite Colesberg, besoek.

Frik du Preez
Gary Player
Renate se man, Gerrit, het Saterdag ook die baie sportlui op die naamlys van sy skoonpa se selfoon van hul vriend se afsterwe laat weet.


Boshoff sê Venter was veral vroeg in sy loopbaan as joernalis soms baie lank met sporttoere weg. “Wanneer hy tuis was, was hy die totale betrokke pa. Hy het nie een van ons byeenkomste vir sport of debat gemis nie.”

Sy sê dit is nie bekend dat haar pa baie musikaal was nie.

“Hy was ’n lid van die Transvaalse Jeugkoor, maar het nie geleentheid vir musiekonderrig gehad nie. Nogtans het hy deur te luister homself geleer kitaar en mondfluitjie speel. Musiek het hom diep geroer en hom trane in die oë laat kry.”

Sy onthou haar pa ook om sy klein hartjie.

“Hy sou van sy eie goed, of van sy kinders s’n weggee, net sodat iemand anders nie moet swaarkry nie.”

Die respons uit joernalistieke kringe oor haar pa het haar verstom.

“Tobie Mostert, oudsportjoernalis, het laat weet alles wat hy van joernalistiek weet, het hy by my pa geleer.”

Haar pa het “toevallig” ’n joernalis geword toe hy in sy twintigerjare ’n beriggie oor ’n 50ste huweliksherdenking op die destydse Warmbad geskryf het.

“Daarna het die nuusdiens Sapa gebel en gevra of hy nie by hulle wil inval nie. Hy het geen joernalistieke opleiding gehad nie, maar ’n baie goeie aanvoeling vir die joernalistiek, nuus en skryf.”

Frikkie van Rensburg, oudsportredakteur van Volksblad, was 20 jaar lank sekretaris van die Vrystaatse Vereniging van Sportskrywers, terwyl Venter voorsitter was. Van Rensburg is een van die talle sportskrywers wat hulde aan Venter en sy loopbaan van meer as 60 jaar as sportjoernalis gebring het.
In ’n onderhoud met Volksblad in 2000 het Venter gesê hy het oor nege Wimbledon-tennistoernooie, 12 Britse Opegholftoernooie en ontelbare internasionale sportbyeenkomste (gholf, boks, rugby, krieket, gimnastiek, rolbal, jukskei, karate en ander) verslag gedoen.

Venter word ook deur sy vrou, Jules (’n voormalige gimnastiekafrigter) en ander dogter, Erika Janse van Rensburg van Bethlehem, skoonseuns en kleinkinders oorleef.

■ Die begrafnisdiens is Woensdag om 11:00 in die NG gemeente Bloemheuwel in Bloemfontein.

Geplaas met toestemming van Media24.