Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

4.4.17

Die Transvaler se Jakkie Groenewald debuteer in Kopskoot

RENSKE JACOBS skryf: Kopskoot deur die Kaapse sielkundige, Gerda Kriel, het die Jong Skrywersafdeling van RSG en Sanlam se Radiodrama-skryfkompetisie vir 2016 gewen. RSG se eerste Radioteaterseisoen vir 2017 open Donderdagaand 6 April om 20:00 met hierdie sielkundige riller.

Kriel is ook bekend vir haar aangrypende radiodrama, Swanesang, met die pragvertolking deur Wilna Snyman en wat deur RSG uitgesaai is nadat dit ook die Jong Skrywersafdeling in 2014 gewen het.

Die Storie

Jakkie
Groenewald
‘n Verbitterde en onstabiele polisiekaptein wat twintig jaar laas bevorder is, beland by ‘n professionele sielkundige met ‘n praktyk êrens in Johannesburg . In die spreekkamer word daar dramatiese onthullings gemaak, en skielik neem die storie ‘n heel ander wending.

Verskeie temas word aangespreek – die identiteitskrisis waarmee baie wit mans in Suid-Afrika worstel, die haglike sosio-ekonomiese omstandighede waaronder soveel kinders grootword en die gevolge daarvan, reg en geregtigheid, posttraumatiese stres, asook die invloed en krag van die genetiese skakel.

Die Akteurs 

Die rol van Tim, die polisiekaptein, word meesterlik vertolk deur Anrich Herbst. Weg is die romantiese held wat Herbst gereeld speel omdat sy stem so perfek daarby pas. In sy plek is daar ‘n bitter, stroewe en heelwat ouer polisieman met gemoedskommelinge. Herbst kry dit egter reg om deernis te wek, al is hy die antagonis, en dis hierdie soort karakter en spel wat mense lank ná die uitsending nog onthou.

Rolanda Marais vertolk die rol van die warm, empatiese dr Jana du Buisson wat altyd net die beste in die mensdom glo. Marais se aanvoeling vir die graad van vrees wat Jana op enige gegewe tydstip in die drama ondervind, is deurgaans in die kol. Sy pas haar spel moeiteloos aan by die tempo en intensiteit wat reg deur die stuk grootliks deur Herbst se karakter bepaal word. Hy is onstabiel en onvoorspelbaar, maar sy styg en val saam met sy buie.

Twee akteurs debuteer in hierdie drama – Mandi Baard, van Egoli-faam en Jakkie Groenewald, tans te sien in Swartwater op SABC2. Die ander rolle word vertolk deur die gesoute akteur en operasanger Rouel Beukes, kabaretster en sjef, Elzabé Zietsman en voormalige YO-TV aanbieder Archie Nhlapo.

Die Regisseur

Die regisseur, Renske Jacobs, sê sy het veral gefokus op variasie in tempo en intensiteit sodat die luisteraar uiteindelik saam met Tim en Jana die emosionele wipplankrit kan beleef.

“Dis asof ‘n mens in Tim se (onstabiele) kop inklim, en daar op ‘n see van emosies ronddobber. Dit kom en gaan, kom en gaan, maar dit bou stadig op tot 'n tsoenami-golf wat dan ‘n skielike einde aan alles bring.”

Jakkie Groenewald staande met swart hemp aan, (Gary), Rolanda Marais (Jana), Rouel Beukes (Lukas) en Elzabe Zietsman (Susan).

Rolanda Marais (Jana) en Anrich Herbst (Tim)