KARIN PRETORIUS skryf: Ek het lekker gelag vir Maureen Swart se groot skrik met die slang in die persmotor wat haar dwarsoor die sitplek voor by die paneelbord laat beland het!
My ondervinding in ‘n persmotor het my weer laat vries waar ons in die operasionele gebied van Rhodesië in een van die
hot spots tydens die oorlog teen ‘n spoed gejaag het, ‘n slaggat getref het wat die Uzi-submasjiengeweer tussen ons op die sitplek per ongeluk laat afgaan het. Daar was net ‘n oorverdowende slag, die koeël het met ‘n zwieng-geluid skuins voor my kop verby getrek en die voorruit voor my versplinter!
Ek het asof versteen gesit, my oordromme het gesing en toe ek tot my sinne kom, het ek besef: dit was amper neusie-verby!