WILLIE BUYS skryf: Die berig uit Hanekraai deur Johan Vosloo oor die amalgamasie van die Afrikaanse Sondagkoerante, Die Beeld (Naspers) en Dagbreek (Afrikaanse Pers Bpk), het heelwat herinneringe uit my geheue-argief losgemaak. Ek weet ook ‘n ietsie daarvan want ek was as ‘n joernalis en kollega van hom en die fraaie Lucia Gomes, wat ook ‘n Hanekraai-bydrae gelewer het, ten nouste op voetsoolvlak deel van die intense redaksionele stryd tussen die twee grootste Afikaanse
persgroepe se Sondagkoerante.
|
Johan Vosloo |
Soos Johan geskryf het, was feitlik almal in die Dagbreek-redaksie ‘n dag voor die aankondiging nog saligonder die indruk dat ons steeds besig was om die stryd te stry. Ek kan ook die begrip valslik gesus byvoeg toe ons navraag gedoen het oor die gerugte dat Dagbreek gesluit gaan word en ‘n ontkenning uit die hoogste gestoeltes daaroor ontvang het. Dalk was iemand besig met slim woordspeletjies deur die waarheid op ‘n tegniese punt so ‘n bietjie te manipuleer deur nie by te voeg dat daar ‘n amalgamasie aan te kom was nie? Dus, nie gesluit nie, maar wel saamgevoeg.
Soos Johan egter geskryf het, het die einde egter die volgende dag gekom met die nuus van die samesmelting van die twee koerante om een te vorm onder die gesamentlike beheer van die beide die strydende faksies.
Daar is al kolomme en kolomme vol geskryf oor dié stryd, dus volstaan ek by my herinneringe van die tersaaklike tydperk. Johan, of Vossie soos hy by sy kollegas bekend gestaan het, het die kern van die gebeure in sy berig vasgevat. Wat hy egter nie gesê het nie, was die geskenke wat elke redaksielid gekry het. In haar berig maak Lucia wel bekend dit was onder andere duur ingevoerde Switserse wekkers met die haanlogo van Afrikaanse Pers Beperk, ‘n hoenderhaan, daarop ingegraveer. Weet nie van die ander afdelings nie, maar elke redaksielid het onder meer een gekry.
|
Saamgestelde illustrasie |
Myne het ek gehou en jare lank gebruik, maar ek was bewus van verskeie ander gegriefde redaksielede wat dit dadelik wou weggee of kopers daarvoor gesoek het. Dit was tekenend van die argwaan waarmee die bestuur tydens daardie tydperk bejeën is. Vossie verwys na die laatnagkringetjie wat in die plaaslike watergat (Sans Souci) gemaak is en dit is juis daar waar ouens hul swierige wekkertjies verspot goedkoop verkwansel of feitlik weggegee het.
Daaropvolgend is onder meer die Rapport se redaksionele posteverdeling gedoen en net die keur van die twee redaksies is behou. Ek self is ‘n pos aangebied op die ekonomiese redaksie, wat ek beleefd van die hand gewys het. Vir my het dit destyds gelyk asof hulle wou hê ek moet juis dit doen omdat ek geen ervaring gehad het van ekonomiese verslaggewing nie.
|
Lucia Gomes |
Ek het verkies om saam met ‘n paar ander ontevrede redaksielede of diegene wat deur die krake geval het, by ander APB-publikasies, in my geval Die Vaderland, poste te aanvaar. Om terug te kom na Johan Vosloo. Hy is nou al ‘n paar jaar gelede aan ‘n hartkwaal dood nadat hy vroeër ‘n hartomleidingsoperasie ondergaan het. Hy het egter voor dit ‘n pos by Rapport se redaksie aanvaar en soomloos by hulle ingeskakel. Hy was bekend om sy woordvaardigheid en was die voorloper onder die profielskrywers wat pensketse gedoen het van belangrike nuusfigure oor die hele spektrum van die sosiopolitieke toneel. Kyk, as ou Vossie jou opgeskryf het, dan was jy ‘n gerekende mens. Hy het natuurlik voorkeur-opdragte gekry om met die uitskieters en nuusmakers van die samelewing onderhoude te voer, hetsy dit politici, skrywers of wie ookal hom/haar destyds tot besondersheid onderskei het.
En Lucia? Wat het van haar geword het? En is dit nie ‘n vreemde sameloop van omstandighede dat albei ‘nietsie vir die personeeltydskrif Hanekraai geskryf het nie, want tydens hul kollegatyd was daar iets van ‘n korstondige romanse tussen die twee. Ek weet egter nie genoeg daarvan om gesaghebbend daaroor te praat nie en laat dit daar.